Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Skeepsreg


Wim Vorster - 2010-03-18

Dit reën. Nie ’n stortbui wat alle sondes wegspoel nie, maar ’n mislike, onafgebroke motreën wat nogtans enige buitemuurse pret voorkom. Guur. Winterweer.

“Daar gaan ons dag op Sandybaai.”

“Is jy teleurgesteld?”

Miskien eerder verlig as bek-af.

Beskuldig my ouers daarvan. Dat ek regtig gemaklik is in my Adamspak. Toe ek ’n kleuter was, het my ma my skynbaar vir rukkies in die son laat baljaar met net ’n lagie kanferroom aan. In later jare het ek en my pa (en gevolglik enige neef of skoolmaat wat vir ’n naweek of vakansie by my op die plaas in die Noord-Kaap kom kuier het) nooit gebodder om swembroeke aan te trek in die Vaalrivier nie. Ons het die woord "kaalgat" versag tot "Colgate". Gevolglik is naaktheid (alhoewel ek nog nooit daarmee te koop geloop het nie) vir my natuurlik. Nes die meeste ander dinge.

Puberteit het my onverwags op die tere ouderdom van tien en half getref. Die besef dat ek aangetrokke is tot mans het min of meer tegelyk ingetree. Om toe te gee aan hierdie "sondige" begeertes en vreugdes moes vir nog twaalf of meer jare wag in ’n kas van ondraaglike spanning terwyl ek met my gewete en geërfde Calvinisme geworstel het soos Jakob met sy engel.

Nietemin, nadat ek uiteindelik die lig gesien het, het ek vergoed vir al die verlore tyd en geleenthede tydens die laaste twee van my ses jaar aan die Universiteit van Pretoria met drie kort verhoudings en verskeie one-night stands (en ook ’n hele klompie een-dag-lêe - ek weet daar’s nie so ’n woord nie, maar julle volg my strekking ...). Voor ek drama geswot het,  het ek mos eers drie jaar BSc gedoen, met biologie en anatomie as hoofvakke. Say no more.

Toe trek ek Bloem toe om my loopbaan te begin en dis waar ek hom ontmoet het. Die Akteur. Die Minnaar. Gewese Kapenaar.

Soos jy kan sien, is die vooruitsig van ’n besoek aan Sandybaai saam met iemand wat die omgewing ken en touwys is, dus nie skrikwekkend nie, dis amper te opwindend, te uitlokkend. Veral omdat ons verhouding net meer as twee jaar oud is. Begryp mooi, ons kom goed oor die weg so met die saamwoon en so aan. Adapt or DIY. En ons maak liefde so dikwels as wat ons kan. Dis net dat dit ’n sekere soort eensydige patroon aangeneem het met ’n streng verbod aan sy kant. Ek is 26, hy is 34. Doen self die rekenkunde.

Eensklaps is dit weer somer! Die reën hou op, die wolke waai weg en die son brand. Dis elfuur en ons gryp die piekniekmandjie wat nog steeds gereed staan en ons sonbrandmiddels en handdoeke, spring in die motor en sit af na Llandudno. Gelukkig kry ons nog parkering. Vir ’n paar minute kyk ons na die roesbruin wrak van die vragskip wat jare gelede in die klein vals baai op die rotse geloop het en dan begin my avontuur werklik met die aanpak van die lang, kronkelende paadjie na die Paradys. Of is dit moontlik Hades? Ek veronderstel dit hang af van wat jy as vrugte beskou of dit Eden is.

Selfs voordat ons die ware klein strandjie bereik, merk ek lywe wat wissel van leliewit tot boombasbruin uitgestrek op rotse of op die loer tussen die fynbos en suikerbosse.

Op die sand, wat nog klam is, is hulle in elke denkbare houding op veelkleurige handdoeke uitgestal. Hoe het hulle so vinnig na die reën hier aangekom? Of skiet hulle op soos paddastoele? Dis nie die lang pad na vryheid wat my kortasem het nie: aangebied is ’n ware smorgasbord van rompe, ledemate, gesigte, voete, hande, skouers, rûe wat strek tot by deinende heuwels wat daardie mees geheime valleie en spelonke omsluit, en mae wat gebult of plat of gespierd reik tot by ruie reënbosse waartussen die towerslange baie besitlik dog net tydelik hul eiers beskerm. O, hier en daar is vroue. En twee straight pare met hul kinders. Maar die oorgrote meerderheid - van babaglad tot Neanderdal-harig; van rietskraal tot spierpaleis tot spekvet, algar blink geolie - is die man op jag.

Glo my, dis moeilik om nie te staar nie, maar ons drafstap oor die strand tot by die rotse aan die ander kant. Hier is ’n reuse rotsblok met ’n gladde "voorstoep" tot by die klein sloep waarin die see rustig in en uit spoel.

“Dit is my besondere plek!” kondig Die Minnaar aan asof hy toentertyd al sy gebied afgepis het en al die katers tot vandag toe verbyhou. Ons kan die rots redelik gemaklik bestyg. Dadelik weet ek hoekom hy hiervan hou. Bo is dit gekwartmaan soos ’n hangmat en dus baie gerieflik vir lê en sonbruin. Boonop verberg dit ons teen nuuskierige voëlkykers en is dit ’n uitstekende uitkykpunt. Sou die gereg toeslaan met ’n klopjag, het ons oorgenoeg tyd om aan te trek. Des te meer bied dit ons ’n onbelemmerde uitsig oor wie kom en gaan.

En kom en gaan hulle nie! Op die strand. Herwaarts en derwaarts. Verby ons na die voetpad oor die rotse al langs die water tot doer om die draai. En dan weer terug na die strandjie. ’n Mens eien onmiddellik die ouens wat terugkeer uit die inhamme en grotte en bosse met breë glimlagte. Daar is selfs ’n paar dapperes wat die ysige water van die Atlantiese Oseaan aandurf. Ek het by ’n rivier grootgeword. Ek skrik nie vir koue water nie.

Ons ontklee in die openbaar, afgeskerm deur ons rotsvesting. Ons maak ons tuis en ek inspekteer al die seeliede wat verbymarsjeer of mince. ("Trippel" is g’n die regte vertaling nie!) My horing groei en sak en groei en gloei weer.  My sous drup soos vanoggend se reën. Onophoudelik. Wie sou kon raai dat die jongman oor so ’n fontein  beskik? Ons smeer ons lywe en ons onderdele met die sonbrandrome, ons eet en drink en rook en wanneer ons te warm kry (of ek te klewerig raak,) gaan koel ons af in die sloep.

“As jy iemand sien wat jy rêrig lus, kan jy hom gerus maar agternasit,” stel Die Minnaar gulhartig voor.

“Eintlik vra jy my toestemming om dit self te kan doen, nè. Of jy sê sommer reguit jy sal. Jy weet hoe ek voel oor getrou wees.”

“Ek het jou lief,” glimlag die Bobaaskat oor die room wat hy gekry het. “Ek het jou maar net getoets.”

“My dae van eksamens is verby.”

“Het jy al ooit gedink oor ’n threesome?”

“Sjoe, al die vleis maak jou katools. Gaan. Moenie dat ek jou keer nie.”

“Ek vra net. Ons het nog nooit oor hierdie dinge gepraat nie.”

“Nee, ek glo nie ek sal hou van nog ’n ou saam met ons nie. Wat ons doen, is net ons s’n. Maar as ek ooit reken dis al wat ons verhouding kan red, sal ek dit miskien oorweeg. Jy’s al wat ek wil hê.”

Waarskynlik is dit die Beaujolais, maar laatmiddag raak ek loom en sluimer in.

’n Skaduwee wat oor my val, maak my wakker. Ek kyk op. Skrik effens.

Oor my, met sy bene wyd uitmekaar en sy hande op sy heupe, toring die onderwerp van elke natdroom. Toemaar, ek hoor hoe kreun jy: “Ag, vanselfsprekend is hy ’n aantreklike knewel.”  Ens. Ens. Wel, dier, as dit maar wensdenkery was, maar dis ’n klipharde feit. Hy is seker so twee of drie jaar ouer as ek. Sy vel is heuningbruin, sy liggaam atleties gebou, sy swart hare golf tot op sy skouers en sy gesig is deur Michelangelo geskep. Sy oksels en sy bekken en skrotum is geskeer. Die res van sy lyf is van nature haarloos. Boonop is hy besny, dus is hy duidelik ’n Moslem. Die gewese Kapenaar, die man aan my sy, het my alles verduidelik omtrent Moslems se gewoontes en gebruike. (Moet vir niemand sê nie, maar ek verkies hulle besny omdat ek is. Kaalkop gaan op. Die Minnaar is nie. Piepie Langkous.)

Jy wag hiervoor, daarom willig ek maar in. Waarskynlik ken jy die trappe van vergelyking van die manlike orgaan: piepie, penis, piel, jissis! Hy hoort tot die jissis-bedeling. Ek en Die Minnaar is allermins klein, maar hy verdwerg ons al twee tot penis. Selfs my neef Fanus sal afsteek, maar Fanus is ’n ander storie. Nog nooit in my lewe het ek so ’n dik, dog elegante, corpus cavernosum en so ’n uitermate groot en volmaakte eikel van ’n glans gesien nie. (Nou dink jy weer: "Ja, dis die gewone ou resep vir alle pornografie" - wat jy nie hier gaan kry nie - maar dis die waarheid en niks anders as die waarheid nie, so help my Allah.)

“Haai. Ek’s Imran.” Beeld van skone Kaapse Maleier. “Ek tjek julle ouens al heeldag van daar bo af. Julle’s ’n blerrie nice couple. Mag ek sit?” Wat hy summier doen.

“Ek is Wim.”

Die Akteur stel homself ook voor. Baie formeel: “Aangename kennis.”

“Ek’s mal oor die patrone wat die hare op jou bors maak.”

Uit valse beskeidenheid draai ek om op my maag. Groot fout! Nie alleen kry my horing seer teen die klip nie, maar Imran is onmiddellik byderhand met ’n opmerking oor my welgevormde en "guitige, geronde gat". Die Minnaar kyk na my. Ek kyk na Die Minnaar. Ons al twee kyk na Imran se mik wat my welgevormde ggg salueer. Sy begeerte en bedoeling is opsigtelik. Nóú. Ek gee nie om vir geneem word nie. Soos hulle sê: "Gays like their vice versa." Maar ek het baie dikwels lus vir gee. Al het ek mooi boude en bene, beteken dit nie dat ek taks platgespring wil word nie. En wat Imran wil gee, is cornucopia de luxe! Dit lyk meer na kastyding as genot. Daarom huiwer ek, afgesien van die hele “wat ons het, is net ons s’n”-redenasie. Ons drie bekyk mekaar. Haas onmerkbaar knik Die Minnaar vir my. Hulle soen. Wat kan ek sê? Het ek ’n sê? If you can’t beat them, join them. Ons soen. Imran se tong proe na kaneel. Ons vat. Ons voel. Ons verken.

Het jy teen hierdie tyd dalk geraai dat ek nog nooit met iemand van ’n ander ras oortree het nie? Die naaste daaraan was toe ek en my Tswana-maat Detibogo Senye op 13 saam draadgetrek het, maar ons het glad nie eens aan mekaar geraak nie.

So onder die gesoen en geboen en gelek en getrek deur bevorder Imran hom tot die rang van skoutadmiraal wat my agterhoede sal dek. Tot my verbasing beveg of verdedig Die Minnaar nie en beweeg voor om soos dit die  kommandeur betaam. Hy verkwik hom aan my standhoudende stroom. Plotseling bevind ek my as vlagjonker met al die midskeepse take!

Imran is voorwaar gekonfyt daarin om verrukking te verskaf en verrekking of verskeuring te voorkom. Hy neem sy tyd om te klop, oop te sluit, oop te maak en in te gaan. Vandag het verskeie openbaringe en nuwe ervaringe gebring. Hierdie een vat die koek. (Oeps, verkeerde woord.) Nou snap ek wat die uitdrukking "fluweelvuis" beteken.  Die Minnaar verras my nog ’n slag deur die rug op my te keer en toegang tot daardie onbetrede streek te bied. Vir ons al drie ’n skip op onbevare seë. 

Rom-tom-tom. Drie mans in ’n drom? Nee. Knip, knip, knip. Drie mans op ’n klip. Word skip. Glip. Glad. Bloots en nou blootgestel aan die ganse strand. Ons weet dat ons toeskouers aan wal het, maar ons steur ons min. Inteendeel. Dit dra by tot die vaart.

“Jy fok soos ’n droom,” grom Imran en byt my nek net agter my regteroor. Hoe het dit gebeur dat ek die middelpunt van belangstelling is? ’n Mens wil tog vermoed dat die nuweling daardie eer sal ontvang. Sodat ons nie skipbreuk ly vanweë aritmie in die pomp nie, word die midskeepsman opdrag gegee om al die maneuvers uit te voer. En kan ek maneuvreer! Ek was nie in die vloot nie, maar ek het weermagopleiding. And to mix my metaphors even more: I got rhythm! I got soul!  Imran mag ’n Maleier wees, maar ek kan my lyf rondgooi en dans, want ek het saam met Tswanas en Griekwas grootgeword en ken van askoektrap en ritteltits en hoenderskrop en roljouhol. Dit, boeta, is die oerknal! Ons rek dit so lank moontlik uit. Totdat dit oplaas noodwendig uitloop op ’n drievoudige rotsstorting.

Agterna, met die son wat ook nou feitlik suid in die oseaan dompel, spoel ons al drie af in die sloep se koel, koel water met ons arms om mekaar se skouers. Die gety kom in.

Imran grom vir Die Minnaar: “Jislaaik, maar jou klong het ’n droomgat. En hy ken omtrent sy storie!”

“Vertel my iets wat ek nie weet nie!” kap hy terug. Sy stem is dik en donker van lekkerkry en trots. Desnieteenstaande merk ek hoe nyd gemeng met aggressie in sy oë flikker en op sy voorkop plooi.

Dit is 16 Desember 1976.

Wat ek nog te onervare is om te bespeur, is die eerste fyn krakie in die wand van ’n skip wat die volgende 19 jaar sal neem om te vergaan. ’n Verhouding nou alreeds op die rotse.

© Wim Vorster