Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > Kennisgewings | Notices

Tulbagh se nuwe span het ’n nuwe plan


2010-03-11

Tulbagh Wynkelder het vanjaar met die aanstel van ’n nuwe produksiebestuurder en ’n voltydse wingerdboukundige, onderskeidelik Naudé Bruwer en Hugo Lambrechts, met ’n nuwe  plan vorendag gekom om die sewe verskillende wynbougebiede waar hul lede wingerde verbou, se wyne afsonderlik te berei met die klem op hoë gehalte.

Die sewe gebiede is Tulbagh, Halfmanshof, Riebeek, Porterville, Piketberg, Dwarskersbos en Bergrivier. Elke kultivar uit elke streek word apart gepars, apart gegis en die eindproduk word apart in die tenke gehou vir evaluering. Voorheen is al die druiwe uit die streke saam gepars en die beste wyne was nie noodwendig gebottel nie, maar ook in grootmaat verkoop.

Om die druiwe se regte rypheid vir pars en uitsoek van die beste van elke kultivar uit elke streek saam met die wingerdboer-lede professioneel te koördineer, is die nuwe produksiespan saamgestel. Produksiebestuurder Naudé Bruwer was tot einde verlede jaar wynmaker by Boland Kelder en het ’n hand gehad in menigte van daardie kelder se internasionale en plaaslike toekennings die afgelope jare. Hugo Lambrechts, voorheen wynmaker van Porterville Kelder, is nou die voltydse wingerdboukundige.

“Met die 2010 oesjaar en die nuwe span word gehalte verfyn en die eerste stap was om die streekswyne selektief op hul eie te berei. Elke kultivar uit elke streek word daarna deeglik geproe om die beste van die tenke te versny vir Tulbagh Wynkelder se gebottelde reeks,” sê Naudé.

Benewens, Naudé Bruwer en Hugo Lambrechts, word die wyne ook geproe deur nog twee wynmakers in diens van Tulbagh Wynkelder, Johnny King en Jurgen Gouws, asook twee onafhanklike wynproduksie-kenners. Nie net een persoon besluit watter tenke is die beste om te versny vir die gebottelde wyne nie.
 “Elke streek het sy eie terroir en dit verskil heelwat en bied sodoende iets van alles. By Dwarskersbos, byvoorbeeld, is daar wingerde wat slegs 800 meter van die see is, en in ander gebiede is dit weer ander grondsoorte met wingerde teen berghange in verskillende rigtings wat wind en son betref,” sê Hugo.

“Dit lyk of veral shiraz ’n uitsonderlike oesjaar gaan oplewer. Hierdie druifsoort het in 2010 die minste pak gekry van donsskimmel, mens kon sommer in die sap die mooi ryp geure optel en die diep rooi kleur was reeds daar met die aanvang van gisting. Met sauvignon blanc was dit weer baie moeilik om te besluit wanneer om te pars weens ongelyke rypheid van verskillende trosse in die wingerd. Die wyne toon egter mooi geure van tropiese vrug, aspersie, soetrissie en vy, terwyl tropiese vrug ook oorheers in die chenin blanc-wyne. Mens sal eers teen April werklik al die wyne van die 2010-oesjaar haarfyn kan evalueer.” sê Naudé.