Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

number five


Jason Lloyd - 2010-03-10

“Ai tog, jirre, dit is seker net number five, net number five,” sê auntie Wynsak terwyl sy haarself op die rusbank neerboender.

“Vrou, hoekom sug jy so? Wat pla, het jy jou pilletjies gedrink? Dit was na die eerste hoenderhaan (of is dit nou ʼn hen?) gekraai het. Ek kan voor die Here sê, ek het jou nie kwaad gemaak nie.”

Oom Pypkan staan sukkel-sukkel op van die rusbank op en wil weet of hy dan niks koffie gaan kry nie.

“Gaan vra vir ou Jakob Regop.”

“Wat? Wie is die man, nogal? Wie se wat staan nou regop? Jirre vrou, ek is te oud vir die ding en daai medisyne is te duur om die ding te laat Jakob Regop. Dit sal my hart laat staan. Die hoesmedisyne met ʼn sopie brandewyn daarin sallie help nie.”

“Gaan vra koffie by Jakob Regop of Kalema; miskien sal jy sommer ʼn tender as ʼn geskenk kry. Alles is duur en die rakke is dolleeg. Jy weet mos dit is Jannewarie. Dit is die tyd van die leë beursies en die leë pense. Al wat ek kon kry, is goedkoop Ingelse tee. Net dit, nie eens rooibos of groentee nie. So, vat dit en toor dit tot lekker Nescafé. Of verbeel jou jy drink filterkoffie.

Jy weet ons is net soos ons voorgeslagte, versukkelde mense. Baie van ons is plaaswerkers, baie van ons is karretjiemense, wat ronddwaal in die Noord-Kaap en Namakwaland op soek na ʼn plekkie in die son.”

Oom Pypkan is heeltemal deurmekaar. Sy kop draai heen en weer. Hy gaan kry weer sy sit en laat val: “Ag nee jirre, vrou, nou praat jy in vreemde tale. Te veel dinge op een slag. Te veel in die donker. Dit blyk jy is skaam vir die sonlig; ook vir die maanlig. Te veel dit; te veel dat.”

Auntie Wynsak druk haar hand op die rusbank se leuning en sê: “Jy verstaan nooit niks nie. Destyds het die boere jou verneuk met jou Spoorwegpensioen. Toe stem jy vir die Labour Party en meneer Henneriks. Toe vir die baas met die bleskop. En toe weer vir die lewensgevaarlike tronkvoël met sy regte masjiengeweer. Toe was masjiengewere nog ordentlike skietgoed; nou is dit sommer vleis, wat hulle gedra asof hulle biltong is. Jy verstaan mos of jy verstaan nooit nie.”

Oom Pypkan kyk auntie Wynsak net een skewe kyk, en sê liewer niks nie.

“Mooi, ʼn toe bek is 'n heel bek. Ek kan sweer ou Jakob Regop slaap elke aand gerieflik op sy bed. As hy wakker skrik, dan staan al sy vroue seker in ʼn ry; dan skreeu hy net: number five, number five, nou wil ek net vir number five hê. Ek is klaar en moeg vir die ander.”

“O, so, maar hoe klits jy vir Jakob Regop en die duur koffie en leë rakke in een emmer saam?” wil oom Pypkan weet.

“Maklik, maklik, die blerrie politicians is almal dieselfde. Hulle lê heeldag in die bed of langs die see en doen nooit hulle werk nie. En jy willie weet van die ekstratjie wat hulle doen nie. Dit is hoekom alles so duur is.”

Oom Pypkan wil weet: “Bedoel jy hulle maak net kinders? En wat van ons dogter in Pretoria? Sê nou net sy kom pregnant hier aan?”

Volgens auntie Wynkan is dit ook moontlik. “Die politicians lê ook lekker en droom en verlang terug na vervloë dae.”

Oom Pypkan sê: “Ek lees daai Poepsak ou – of is dit nou Papbroek? – is nou uiteindelik op pad na die Verenigde Nasies toe.”

“Nee man,” sê auntie Wynkan, “Poepsak droom om sy dogter by die VN te laat werk. Foeitog, seker om op te maak omdat hy nooit ambassadeur by die VN kon word nie. Hy het glo geld van die armes in sy broeksak gesteek. En daarvoor was die dominee opgesluit.”

Oom Pypkan haal diep asem en sê: “Vrou, ek hoor hoeka ou Jakob Regop gaan byrie Queen in Ingeland gaan kuier. Die moeilikheid is dat hy net een vrou gaan saamneem; en hy benodig so vyf op ʼn aand om die behoefte te kalmeer. Drink glo pilletjies om tot bedaring te kom. Kyk, vrou, die geneek staan nou so: Premier die Bruinman het nourie dag gekla dat Ingeland nie meer geld het nie. Kyk, hy is mos oek die voorloper van die Labour Party in die land van die Queen. Hy is nou wel Premier die Bruinman, maar is nie bruin soos oorle dominee Henneriks nie. Oorle Henneriks was oek moes onse kamtige leier; toe sê hy sorry Baas – ook jammer dat my broek in die water afgeval het. Maar van sy Jan Regop was daar g’n teken nie.”

“Hoekom, praat jy so deurmekaar?” wil auntie Wynkan weet.

“Vrou, sien jy?”

“Nee man, ek sien niks nie, ek sien net vir jou.”

“Ek bedoel, sien jy my punt?"

“Nee, watse punt? Waar is die punt? Of waar is jou punt weggesteek?"

“Premier die Bruinman is die moer in vir die klomp geld wat gebruik moet word om die Queen te beskerm.”

“Hoekom?”

“Hulle gaan ʼn ystermuur tussen Jakob Regop en die Queen bou, want sy masjiengeweer sal nie deur die muur kan skiet nie. Maar die moeilikheid gaan kom as hy wel die bullets skiet. Die papier sê hy gaan net deur die venster spring (dit is nou nadat sy yster-bullet die ystermuur deurboor het), die tuinslang gryp en hom skoon spyt. Dan gaan alles oukei wees – virus-vry. Dan is hy weer fris en gesond. En die Ingelse belastingbetalers sal die kind moet sorge.

“Ai tog, jirre, die politicians wil net number five, droom en niks doen nie.”