Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Poësie

SkryfNet XXIII: Tweede maal tropies (finale weergawe)


Bibi Slippers - 2010-03-10

Die Sanlam/LitNet Aanlynskryfskool: SkryfNet XXIII - Poësie
Finale weergawe van BiBi SLiPPeRS se gedig:


Tweede maal tropies

Op pad terug van die mark af besef
ek wíl hier wees, by jou.
Ek pak ons oes op die tafel uit
verdeel my vertelling in hoofstukkies vrugte;
transponeer versigtig
na die vreemde toonaard
van jou tong: 

hierdie piesangs: die vallei naby Melmoth
as mens amper terug in Empangeni is;
hierdie papaja: ek klim kaalvoet die bure se boom,
die vrug val in die handdoek wat my boetie uitspan;
hierdie waatlemoen: my pa stoot die grassnyer voor hom uit –
hartseer groen hopies ruik na pienk sap en pitte;
hierdie spanspek: my ma maak planne vir grootskaalse maer word,
ons lag en eet dit saam met sjokolade;
hierdie mango: ek en my maats wat morsig deel,       
ek karring aan vesels verlang tussen my tande;
en dan
my pynappel: die stuk storie wat ek tot laaste laat staan,
die half-blinde oë wat ek agtergelaat het,
sy mond met die nasmaak wat my middeloor laat traan,
en my eensame reis na my tweede tropiese tuiste.

Ek sny en ons proe –
die sap is soet;
ons verteer my pynappel
en jy vorm spoeg-spoeg
die eerste sproeireën van my taal:

“my nooi  is in ’n nartjie”



<< Terug na SkryfNet XXIII <<