Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Skryfsake | Writing matters

Marita van der Vyver: Hoe maak 'n mens tyd om te skryf?


Marita van der Vyver - 2010-03-09

Iemand het op ’n keer gesê as jy ’n taak gou en goed gedoen wil hê, vra ’n werkende ma om dit vir jou te doen. Ek glo nogal daaraan. Dis ’n geval van nood leer bid. Of honger help skryf.

Vandat ek kinders en stiefkinders het om te voer en te versorg, skryf ek met veel meer drif en dissipline as toe ek ’n selfsugtige alleenloper was. (Waarmee ek nie beweer dat alle alleenlopende skrywers selfsugtig is nie, maar ek was.) Voor die koms van my kinders kon ek skryf wanneer en hoe en waar ek wou, dwarsdeur die nag, enige plek in die huis. Ek het dikwels geskryf eerder as om te eet. Nou lei ek ’n lewe van kos wat op vaste tye geëet (en gekook) moet word - en woorde wat op vaste tye geskryf moet word.

Ek het dissipline aangeleer. Ek leer steeds, elke dag. Dit kom nie natuurlik vir my nie. Maar dis óf gedissiplineerd skryf óf glad nie kans kry om te skryf nie. En ’n lewe sonder skryf is vir my ondenkbaar. Omtrent so ondenkbaar soos ’n lewe sonder my kinders.

 

<< Terug na die VraNet-blad <<