Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Kris


Johann de Lange - 2010-03-08

“’n Stem so skril soos ’n trassiejakkals,” sê Nico terwyl hy versigtig uit die heuningpotjie ’n draaisel bloekomheuning in sy koppie heuningbossietee laat drup. “Veral as hy eers ’n paar weg het. En hy’t altyd op eie koste dronk geraak. Dit was nou nie juis in sy aard om ’n ronde te staan nie. Elkeen vir homself; selfs al het hý jou vir ete genooi by ’n restaurant.”

Hy sit terug met die koppie tee in die een hand op sy boep gestut.

“Even so, wat hom oorgekom het, wens ek my grootste vyand nie toe nie.”

Barry is ’n antieke handelaar. Hy bly in ’n woonstel bokant sy winkel in Langstraat. ’n Woonstel met ’n lang veranda en broekie-lace. Een van daardie ou Kaapse geboue, lank in die familie, wat hy by sy ouers geërf het. Hy is die enigste seun en sy pa het hom daarby berus dat die familielyn met Barry sou doodloop.

Onder in die straat is daar dag en nag rent boys, en dis hoe hy Chris ontmoet het. ’n Maleier, van die soel soort. Straks nie ’n rasegte Maleier nie, meen Nico, eerder ’n ongekerstende bruin man wat wou opgradeer en die Slamse geloof aangeneem het. Chris is nie ’n tipies Maleise naam nie. Maar hy is baie begeerlik en rof, en dis hoe Barry van hulle hou.

Chris het half by Barry ingetrek en is deur hom onderhou. Barry, wat van nature suinig was, het geen verweer gehad teen Chris nie. Dié het soms gewelddadig geraak en dan was die winkel vir ’n paar dae gesluit terwyl Barry van sy loesing herstel het in ’n skemer kamer agter toe gordyne. Of hy sal vir Nico vra om vir ’n paar dae in te kom, no questions asked.

Nico het nie veel tyd vir Chris nie.

“O, daai een met die donker poephol soos ’n ver boomplaas,” sal hy sê as Chris in ’n gesprek ter sprake kom. Nico is ’n boorling van die Swartland.

Chris raak al gieriger en Barry se los geldjies is weldra op. Die res is vas belê. Hy skryf Chris in sy testament op, maar dit is nie goed genoeg nie.

Na nóg ’n loesing steek hy vir Chris in die pad, en dinge kom tot ’n breekpunt. Chris hou aan bel van ’n tiekieboks af tot laat in die nag, of lui die klokkie onder in die straat. Uiteindelik gee Barry in en druk die buzzer sodat Chris homself onder kan inlaat.

Hulle maak op, en raak aan die drink. In ’n stadium sê Chris hy wil Barry iets wys en verdwyn met die trap af in die donker winkel in. Hy kom terug met iets onder sy klere versteek. Hy sit musiek op en begin ’n dans uitvoer. Barry is salig onbewus dat Chris hoog is op die een of ander straatdwelm.

Hy begin dans en vertel vir Barry van die Balinese seuns, en van hulle dans met ’n kris. Dan haal hy die kris te voorskyn en werk dit by sy dans in. Hy lig sy hemp op en begin homself met die kris te sny. Barry probeer keer, maar Chris is in ’n trance. Hy voel nie die brand van die lem nie. Hy sny sy arms. Barry pleit by hom om op te hou. Chris hou op dans, vat Barry se gesig in sy hande vas en soen hom.

“Maak toe jou oë,” sê hy. Hy soen Barry se ooglede voordat hy met een haal die kris in sy voorkop indryf.
Barry val terug, nog nie bewus van wat gebeur het nie. Want die brein het geen gevoel nie. Chris storm by die trappe af en uit in die straat. Wanneer Barry half dronk en verblind deur die stromende bloed orent kom om hom te probeer keer, sien hy sy refleksie in ’n antieke spieël en sien die kris by sy voorkop uitsteek.

Hy bel Nico en sy dokter. Wanneer Nico opdaag, wag hulle vir die dokter om te kom. Die dokter bevestig dat die wond fataal is. Barry sal sterf die oomblik as die kris uitgetrek word.

Barry, verbasend kalm, vra Nico om sy prokureur te bel, hy wil ’n nuwe testament opstel. Hy sal toesien dat Chris nie ’n sent kry nie. Die dokter het intussen ook die polisie laat kom. Barry weier steeds om hospitaal toe te gaan.

Hy het met die prokureur en polisie daar langs sy bed ’n verklaring afgelê en Chris as sy moordenaar geïdentifiseer. Chris se vingerafdrukke en bloed sal op die kris se handvatsel wees.

Nico sit sy leë teekoppie versigtig op die koffietafel neer.

“Ek het geprotesteer, want hoe sal dit nou lyk, maar hy het ’n nuwe testament nét daar opgestel en áls vir my gelos. Die hele kaboedel.”

Nico maak ’n beweging met sy een hand asof hy met dié gebaar álles om hom wil opskryf. Dan sak hy terug in die leunstoel, en sy stem raak effens dun.

“Maar nie voordat ek belowe het om die kris saam met hom te laat begrawe nie.”

Kaapstad, Februarie 2007-2010