Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Goed om te weet: Dié feiteboek vir ingeligte Suid-Afrikaners is ’n intellektuele plesier


Leon van Nierop - 2010-03-08

Titel: Goed om te weet: Dié feiteboek vir ingeligte Suid-Afrikaners
Skrywers/samestellers: Hans Büttner en George Claassen
ISBN: 9780624047759
Prys: R295
Uitgewer: Tafelberg

Klik hier en koop jou eksemplaar van Goed om te weet nou van Kalahari.net!

Hierdie keurig-versorgde bundel propvol onderhoudende wetenswaardighede is die mees verdienstelike intellektuele plesier wat jy kan hê sonder om jou brein te ooreis.

Die skrywers en samestellers het die boek in dertien afdelings verdeel, met inligting oor verskeie aspekte van die samelewing, van politiek tot kuns, die wetenskap, gesondheid en tegnologie, asook die mens se bestaan op aarde.

Onder elke afdeling het die skrywers inligting sorgvuldig versamel oor aspekte waarvan ’n mens dink jy iets weet of ’n basiese begrip het. Tot jy die definisies en beskrywings nagaan en besef dat jou brein dikwels deur ’n tuimeldroër gesit moet word om kennis op te skerp, te herbevestig en uit te brei.

Wat veral aan die boek tref, is die uitmuntende en ekonomiese taalgebruik. Die feite en omskrywings is op die man af en ráák. Sonder ’n bombastiese geleerde en pronkerige omhaal van woorde of ’n gesmokkel met ingewikkelde beskrywings slaag die skrywers daarin om te fokus op die kruks van die saak en met die minimum woorde die maksimum inligting te gee. Maar dan inligting wat prakties gebruik kan word – nie net ’n blote intellektuele gesnater en doellose uitbreiding van feite nie, maar ’n inzoem (soos ’n kamera in ’n nabyskoot doen) op presies waaroor die begrip gaan.

Die indrukwekkendste hoofstukke handel veral oor die sosiale wetenskappe, die ekonomie, die aarde en die wêreld (daar word ’n onderskeid tussen die twee getref), geskiedenis, religieë, en die regte en die wet. Die kunste- en literatuurhoofstukke bevat egter ’n paar leemtes.

Ek was veral beïndruk met die raakvat-beskrywings oor die wêreldgeskiedenis en -politiek waarin begrippe soos blitzkrieg, neokolonialisme en soewereiniteit blitsig opgesom en ekonomies verwoord word. Kernwoorde word gebruik om die begrippe prakties en raak saam te vat, en dikwels word bykomende inligting (soos mense wat selfmoord gepleeg het) amper as ’n belangrike en wetenswaardige nagedagtenis gegee.

Hierdie feiteboek is dus veeldoelig. Dit kan as ’n naslaanwerk gebruik word vir studente wat kundige en in-die-kol-beskrywings van feite en begrippe wil bekom en wat kompakte inligting oor leiers- en ander wêreldfigure soek. Dit kan ook ’n blitskursus vorm vir mense wat so vinnig as moontlik ’n magdom inligting wil bekom voordat hulle aan vasvrakompetisies deelneem. Maar dit kan ook as ’n lekkerleesboek dien vir weetvrate wat kennis en inligting vir die blote lekker wil versamel en byvoorbeeld meer wil weet van die totstandkoming en beleid van die PAC, presies wat die Elisiese Velde is, en die rol wat Hector Petersen in die stryd teen apartheid gespeel het.

Die boek gee ook maklik verteerbare omskrywings van begrippe wat ons almal dink ons ken, maar wat eintlik intellektuele verfrissing nodig het, soos presies wat die Koran is, wat agape beteken en watter bydrae die rondreisende toneel (-geselskappe) in Suid-Afrika tot die kunste gelewer het. Wat die boek nog meer prikkelend maak, is byvoorbeeld die verduideliking van begrippe soos Freudiaanse glips (as openbaring van onderdrukte gedagtes deur jou optrede of verspreking) – ’n voorbeeld van hoe elke woord tel om inligting ook op intellektueel-vermaaklike en stimulerende wyse oor te dra.

Waar die meeste hoofstukke in die kol is en ek weinig fout kon vind, was ek wel teleurgesteld oor die weglating van sekere name in die Suid-Afrikaanse afdelings, veral wat die kunste betref. Die skrywers waarsku aanvanklik dat daar kritiek kan wees op watter name ingevoeg of weggelaat is, maar om Katinka Heyns byvoorbeeld onder die kunste weg te laat was ’n fout. Darrell Roodt staan ook terloops bekend as Darrell James Roodt, en om Roodt in te sluit en Heyns weg te laat, moes nie gebeur het nie.

Ek vind ook dat radio en televisie ’n sterker rol in die kunste-afdeling kon gespeel het. Radio word byvoorbeeld afgeskeep en persone wat wel ’n deurslaggewende rol gespeel het, soos Morkel van Tonder, Fanus Rautenbach, Esmé Euvrard en Verna Vels, om maar vier te noem, kon die hoofstuk meer volledig gemaak het. Indien Suzanne van Wijk voorkom, moes ander name soos Jan Schutte ook prominensie geniet het. Dit is jammer, want dit doen afbreuk aan die kunste-hoofstuk. En waar, o waar, is Babs Laker en Aletta Gericke wat so ’n leidende rol in die stigting van die Akademie vir Dramakuns gespeel het? Ook Hermien Dommisse se naam word gemis. ’n Mens soek ook die naam van Koos Human in die literatuurhoofstuk.

Dalk moes die skrywers ook nie sekere rolprente genoem het nie, want die oomblik wat hulle fokus op ’n rolprent soos Casablanca en One Flew over the Cuckoo’s Nest (albei meesterstukke), moet rolprente soos Schindler’s List, 2001: A Space Odyssey en Raging Bull ook voorkom. Rolprenttitels moes liewer in die geheel weggelaat gewees het as om net sekeres uit te sonder en belangriker produksies te ignoreer.

Groot name soos Guy Burgess, Gavin Hood en Robert de Niro is ook weggelaat. Dus sal die student of kennisvraat wat veral die kunste en Suid-Afrikaanse literatuur bestudeer, leemtes in hierdie hoofstukke teëkom.

Maar dit is te verwagte dat elke leser soortgelyke kritiek op weglatings sal hê. Feit bly staan dat hierdie feiteboek ’n belangrike bydrae tot die naslaankultuur in Suid-Afrika lewer. Jy kan dit langs jou bed hou en elke aand lees voor jy gaan slaap, of jy kan dit in jou motor hou en deurblaai terwyl jy vir die kinders wag om van die skool af te kom. Dit is toeganklik vir alle lesers en is ’n broodnodige naslaanwerk. Dit is boonop boeiend in keurige Afrikaans geskryf en kundig nagevors. Tafelberg moet gelukgewens word met die lesersvriendelike visuele uiteensetting en tipografie van die boek, wat nie net lyk na ’n rits feite wat afgerammel word nie, maar opskrifte wat die oog trek en jou noop om verder te lees omdat jou nuuskierigheid geprikkel word.

Dit neem wel ’n rukkie om gewoond te raak aan die wyse waarop die boek uiteengesit is, want as jy ’n naam soos Nelson Mandela of ’n filosofie soos eksistensialisme wil naslaan, moet jy aanvanklik die korrekte hoofstuk identifiseer alvorens jy by die begrip kan uitkom. Dit maak dit enersyds makliker vir studente wat in sekere rigtings studeer en presies weet onder watter hoofstuk sekere begrippe sal val, maar vir die leek of die algemene leser kan dit aanvanklik verwarrend en leser-onvriendelik wees.

Ek het aanvanklik gewonder of dit nie dalk makliker sou gewees het om bloot ’n alfabetiese lys te maak en al die inligting, soos in ’n woordeboek of ensiklopedie, saam te voeg van A tot Z nie, maar by ’n tweede deurlees blyk hierdie die beste en mees logiese indeling te wees. Die skrywers erken self dat hulle uiteindelik moes besluit oor waar ’n bepaalde woord of begrip in werklikheid die beste tuishoort. Die maklikste sou miskien vir die potensiële leser of navorser wees om na die begripslys aan die einde van die boek te blaai indien ’n woord vinnig nageslaan moet word en dit dan onder die korrekte opskrif/hoofstukindeling op te spoor.

Ek het die boek (as passasier!) gedurende ’n tien uur lange reis tussen Johannesburg en Loxton deurgewerk en moet erken dat dit die reis aansienlik en vermaaklik verkort het. En dat ek van nou af hopelik meer vrae in vasvrakompetisies korrek sal kan beantwoord!