Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Sokker: Jy wil dit weet, al weet jy nog nie jy wil dit weet nie


Tinus Horn - 2010-03-02

Titel: Sokker – alles wat jy wil weet maar te skaam is om te vra
Skrywer:
Tim Sandham
Uitgewer:
Lapa Uitgewers
ISBN: 9780799345377
Klik hier om die boek op Kalahari.net te koop!


Dis in die lug; dis op die grond. Dis erg aansteeklik, en ’n kondoom gaan jou nie daarteen beskerm nie. Vergeet ook maar van ’n vitamien B12-inspuiting en daai simpel suikerpilletjies wat die homeopaat aan jou wil afsmeer. Selfs dokter Ishmael Mtomkulu, wat so mooi kan help met die Lotto, penisvergrotings en huweliksprobleme, het hierteen g’n raad nie. Sokkerkoors is op ons, en jý gaan dit kry.

Tim Sandham belowe nie dat hy jou immuun kan maak daarteen nie, maar sy oulike boekie, Sokker – alles wat jy wil weet maar te skaam is om te vra, sal jou oortuig jy’t niks te vrees nie – inteendeel; sokker is eintlik goed vir jou, en die Wêreldbeker-eindtoernooi is iets waarna die hele Suid-Afrika kan uitsien.

Die boekie is net 48 bladsye lank, maar propvol feite oor reëls (Sandham het veral ’n ding oor die onkantreël), beroemde en berugte spelers uit die verlede en hede, statistiek en geskiedenis van spanne wat aan die toernooi deelneem, en genoeg oor plaaslike helde om jou in enige sjebien tuis te laat voel, al lag almal agteraf vir jou vaardigheid met die vuvuzela.

Sandham se sin vir humor en lekker skryfstyl is genoeg om dit die lees werd te maak, en selfs ’n sokkergeesdriftige sal iets daaruit leer.

Die boekie is goed versorg en vol foto’s en oulike tekeninge. En daar’s ’n uithaalbonus met raaisels, speletjies en ’n inkleurprentjie vir die kleinspan wat my al die afgelope twee dae uit die werk hou.

Dis amper tyd vir die grootste gebeurtenis in Suid-Afrika se sportgeskiedenis. Maak seker jy’s gewapen met jou Bafana-ondersteunerstrui … en Sokker – alles wat jy wil weet maar te skaam is om te vra.