Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Ongetiteld


Reney Warrington - 2010-03-02

Dit is in die Pick n Pay waar ek haar raakloop. Daar is niemand agter haar in die tou nie en ons wil almal die vyfuurverkeer mis.

Ek sit my organiese worteltjies neer. My R10 is reg. Eers tóé kom ek agter dat al haar kruideniersware reeds opgelui is. Sy en die kassier wag vir iets anders. Die kassier kyk af; sy kyk op. Dit verklaar oombliklik waarom daar niemand agter haar was nie. Dammit.

Iets het sekerlik nie 'n prys opgehad nie. Of die regte kleingeld skort. Dit lyk nie of sy rekeninge betaal nie. Haar hande is leeg.

Haar arms is maer en haarloos. Haar nek effens vorentoe gedruk soos dié van 'n aasvoël. Sy is langer as ek, maar weeg sekerlik dieselfde.

Ek kyk op in die moeë gesig en is meteens in The Triplets of Belleville. Of 'n soortgelyke Franse strokiesprent.

Alles aan haar lang, maer gesig hang ondertoe. Die hol wange, die rooi sekelmaan tussen haar oë en onderste ooglede. Net haar mond stry nog effens teen swaartekrag deur effens vorentoe te druk. Haar onderste lip verraai haar egter – die punt daarvan drup-drup ondertoe.

Die ooghare is lankal weg. Die kopdoek dek haar kaalheid.

Sy is moeg. Dit is hoekom die kassier na haar vingers staar.

My wortels is vergete.

Daar is 'n skielike gewarrel en hulle oorhandig dít waarvoor sy so geduldig gewag het aan haar. 'n Pakkie sigarette.