Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Humor in die dood


Fanus Rautenbach - 2010-03-02

My oudste suster, Susie, is die afgelope vyf jaar deur haar dogter, Susan, en skoonseun, Dries, op Franskraal, langes Gansbaai, versorg. Susie was drie jaar ouer as ek en toe die ouetehuis op Onrus aankondig dat hulle ’n siekeboeg gaan aanbou, vra Susie of sy dit mag inwy. Die toestemming word gegee en sy is vir 24 uur die eerste en enigste inwoner.

Toe verhuis sy na ’n ander siekeboeg genaamd nie Onrus nie, maar Hemelrus! Dogter, Susan, het haar om middernag gaan groet, en vertel haar toe van tant Diedie (78) wat haar ou man, oom Basie (86), tien jaar lank versorg het nadat hy kanker gekry het. Die laaste nag waak sy by hom, hou sy hande styf vas en fluister liefdevol: "Vasbyt, my dierbaarste, vasbyt, ons is amper daar!” Nou vertel Susan dat sy die eina-storie toe aan haar sterwende moeder vertel en dat haar mammie, glo dit as jy wil, haar kop geknik en probeer skeef glimlag het. Susan het omgedraai en weggegaan ...

’n Paar dae later is sy en Dries na hulle kinders toe in Oos-Londen, waar dit Susan se taak is om aan die twee dogtertjies van ouma Susie se dood te vertel. Die tweetjies word Engels groot en die jongste se kommentaar is: “This is the worst Christmas I’ve ever had!” waarop die oudste probeer verduidelik: "Dead, darling! Oumie Susie is dead! Dead! Dood! Like a dog dead!”