Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Annie Klopper: Rockjagter

RAKA-musiekfees 2010: RAKA rustig, man


Annie Klopper - 2010-03-02

Dit gebeur min dat ’n mens presies kry wat jy nodig het. Ek praat van die smaak van daardie eerste koppie (goeie) koffie in die oggend of jou ma se kos na ’n lang, droë maand in die koshuis. Deesdae kry ek dáárdie tipe bevredigende gevoel al hoe minder voor verhoë. Hier in die stad is ek bederf met die oormaat van geleenthede om musiek in rokerige, donker plekke te gaan kyk en dis daardie rokerige donker plekke wat my begin onderkry. Ná ’n tydjie wil jy net daar uitkom en asemhaal, maar die musiek hou aan trek aan die arm.

Dis hoekom ek so bly was toe ek langs die Breederivier kon afpak waar die RAKA-fees buite Swellendam gehou is. Geen bedompigheid nie. Niemand wat jou per ongeluk op jou arm met ’n sigaret brand nie. Niemand wat hulle sweet onbewustelik aan jou afsmeer as hulle verby jou skuur om by die bar uit te kom nie. Net rustige vibes en hope gees.

By RAKA kan jy in die rivier dryf en steeds die musiek hoor. Jy kan onder ’n boom lê, jy kan staan en wieg, jy kan sit en jou vriendin se hare vleg, dans of seepborrels blaas. Jy kan natuurlik ook net ’n lekker kampplek onder die bome inrig, musiek uit jou bakkie speel en braai. Hoe jy dit ook verkies, jy kan ten minste weet die badkamers is skoon, die vibe is lekker en die musiek is goed.

Hierdie jaar het die aanbieding onder meer ingesluit: Tidal Waves, Gerald Clark en Albert Frost, Zinkplaat, Ryno Velvet, Gary Thomas, Hot Water, Baarmoedergevoel, Pretty Blue Guns, Mr Cat & The Jackal, Johannine, Louwtjie Rothman, Thomas Krane, Manouche en The Black Cat Bones.

My gunsteling nuwe musiekontdekkings vir wie ek glo groot dinge hierdie jaar gaan begin gebeur, is Thomas Krane en Johannine. Dis musiek wat jou op jou rug op die gras wil laat lê en na die wolke kyk. En dis presies wat ek gedoen het.

Foto’s deur Annie Klopper