Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Welvaartskepping via die inheemse tale


Christo van der Rheede - 2010-02-23

Opsomming

Ons leef in ’n inligtingsamelewing waarin die generering en disseminasie van inligting die vernaamste ekonomiese, kulturele, opvoedkundige en sosiale aktiwiteite is. Die kennisekonomie is die ekonomiese komponent van die inligtingsamelewing, die een waarin kennisproduksie en die benutting van kennis deurslaggewend is vir welvaartskepping. Ons diverse en dinamiese inheemsetaal-erfenis is ’n belangrike instaatstellende hulpbron vir die ontwikkeling van gemeenskappe sodat hulle aktief kan deelneem aan die kennisekonomie en sodoende die kringloop van geslagte lange armoede kan verbreek. Hierdie referaat ondersoek die opvoedkundige en ekonomiese potensiaal van inheemse tale deur ’n ontleding van die sektore waarin hulle reeds as kern opvoedkundige en ekonomiese drywers funksioneer. Daar word ook ondersoek ingestel na maniere om ’n digitale teenwoordigheid met inheemse tale te bewerkstellig en dit aan te wend om opvoeding te bevorder en welvaart te skep.

Inleiding

Waarom bied die meerderheid skole en universiteite in ontwikkelde lande moedertaalonderrig aan terwyl die meeste leerders in ontwikkelende lande nie die voordeel van moedertaalonderrig geniet nie? En waarom bied ontwikkelende lande se mediabedrywe, soos die elektroniese, druk-, radio-, televisie-, film-, pos-, telekommunikasie- en musiekbedrywe, asook taalpraktisyn- en verwante sektore die meeste van hul produkte in die moedertaal aan, terwyl dieselfde bedrywe in ontwikkelende lande baie weinig van hul produkte, indien enige, in die plaaslike tale aanbied?

Is dit omdat ontwikkelende lande hul eie tale as minderwaardig beskou in teenstelling met ontwikkelde lande wat doelbewus daarna streef om hul eie tale vir opvoedkundige en ekonomiese redes te bewaar, beskerm en kommodifiseer? En voorts, is dit omdat ontwikkelende lande die politieke wil kortkom om hul eie tale te bewaar, beskerm en kommodifiseer en dit derhalwe nie optimaal benut vir die opvoedkundige en ekonomiese waarde daarvan nie?

Die antwoorde op die genoemde vrae kan na ons koloniale verlede herlei word. Kolonialisme het nie slegs ’n groot rol gespeel in die persepsie dat ons inheemse tale en kulture gelyk is aan agterlikheid, ongeletterdheid en etnotradisionalisme nie, maar het ook die tale van die koloniale magte as simbole van beskawing geposisioneer deur dit in alle openbare en private sfere as die amptelike kommunikasiemedia vir opvoedkundige en ekonomiese aktiwiteite in te bed (Alexander 2008; Webb 2006; Mutasa 2003).

Die Uitdaging

Die omkeer van hierdie geneigdheid tot die koloniale tale bied ’n besondere uitdaging vir die meeste Afrikalande, veral vir die politieke elite. Ná die oorhandiging van politieke mag aan die nuutverkose Afrika-regerings is weinig gedoen om die inheemse tale se status te verbeter en hul ekonomiese potensiaal optimaal te benut. Volgens Alexander en Bush het die Afrika-elite wat die koloniale koninkryk by die oënskynlik vertrekkende koloniale heersers oorgeneem het, geriefshalwe, en om hul magsgreep te behou, slegs ’n geringe gebaar gemaak om die kontinent se inheemse tale gereed te kry vir gebruik in magtige en hoëstatus-kontekste (Alexander 2007:18).

Daarom dat Webb, in ’n referaat getiteld "Language Policy Development in South Africa", ’n beroep doen op die nuwe demokraties verkose Suid-Afrikaanse regering om sodanige "geringe gebare" te vermy en liefs te fokus op behoorlike taalbeplanning gemik op die verhoging van die status en die bevordering van die gebruik (SA Grondwet, Artikel 6.2)[1] van ons inheemse tale binne die opvoedkundige, ekonomiese, sosiale, kulturele en politieke sfere:

In order to realise its basic objective of transformation, reconstruction and development, the SA government must obviously keep the basic language planning goal in mind, that is, to bring about a (radical) change in the language political realities of the country, creating a situation in which the languages of the country co-exist in a balanced way and function as developmental facilitators in education, the economy, political life, state administration, and the social and cultural spheres. Its language plan must therefore contribute to resolving the language-related problems discussed above. The SA government must thus not endorse a language policy proposal which will simply lead to a reproduction of the previous (and existing) language politics, where non-Bantu languages are dominant in public life and are perceived as the symbols of the ruling elite, prestige and success, and the Bantu languages are perceived as symbols of a socio-economic underclass and as instruments only of the low functions of public life. To achieve the general over-all goal of language political transformation where each of the official languages perform meaningful functions, language planning in SA needs to be directed at ... specific goals. (Webb 2006:11)

Hierdie betekenisvolle funksies waarna Webb verwys, sluit die gebruik van ons inheemse tale vir opvoedkundige, sosiale, kulturele, ekonomiese en politieke bemagtiging in. Hy beklemtoon egter die belangrikheid van taalbeplanning in Suid-Afrika met die oog op die optimale benutting van ons inheemse tale en kulturele hulpbronne sodat gemeenskappe aktief kan deelneem aan die kennisekonomie, opvoeding bevorder en welvaart geskep kan word. Sodanige opvoedkundige en ekonomiese optimalisering van ons inheemse tale is dus krities belangrik om die kringloop van geslagte lange armoede te verbreek.

Luidens ’n studie in hierdie verband bly die amptelike inheemse tale, met die uitsondering van Engels en Afrikaans, steeds gemarginaliseerd (met aanduidings dat die status van laasgenoemde geleidelik geërodeer word). Vergelyk:

Although the national language stands as a symbol for the uniqueness of the nation, the official language remains the key to power. It is, in effect, the language of formal public transactions such as education and the workplace. However, in countries such as South Africa, with the exception of English and Afrikaans, the indigenous official languages remain marginalized, and on the fringes of economic society, thereby excluding the vast majority of the population from mainstream economic activity. (Kaschula, Mostert, Schafer en Wienand 2007:10)

Vandaar dat Suid-Afrika voor die uitdaging staan om die taallandskap te demokratiseer en die gepaardgaande opvoedkundige en ekonomiese marginalisering van die meerderheid van ons burgers te beëindig.

Dit verg enersyds politieke wil om die taalbepalings in ons Nasionale Grondwet te eerbiedig, politieke oortuiging om die Suid-Afrikaanse Talewet[2] in werking te stel en politieke energie om die Inheemsekennissisteme- (IKS-) beleid wat in 2004 deur die Kabinet aanvaar is,[3] te implementeer. Baie kenners is dit eens dat dit die mees kritieke vertrekpunt is vir die bereiking van ’n gelyker taalbedeling ten einde deelname in hoofstroom ekonomiese aktiwiteite deur voorheen gemarginaliseerdes te verbreed.

The government and other stakeholders should draw all segments of the population on facts such as that unity and progress cannot be achieved through the use of one language, that people can only be empowered through their languages, that it is a myth that African languages cannot be developed to function like English and as was the case with Swahili and Afrikaans. (Mutasa 2003:325)

Andersyds verg dit visie, selfvertroue en entrepreneursdenke deur die taalgemeenskap self om die volgende te laat gebeur:

  • ons inheemse tale vir die ontginning, produksie en verspreiding van kennis te benut
  • moedertaalonderrig te bevorder en steun daarvoor te mobiliseer
  • bestaande bedrywe of ekonomiese sektore waar inheemse tale as kern ekonomiese drywers funksioneer, uit te brei
  • ’n digitale teenwoordigheid vir inheemse tale te skep
  • hierdie digitale teenwoordigheid in stand te hou en steun daarvoor te werf
  • die digitale ruimte wat deur inheemse tale gevul word, asook die plek wat dit binne die kennisekonomie inneem, te vergroot
  • welvaart te skep 
  • die opvoedkundige en ekonomiese gebruik van inheemse tale te optimaliseer om die kringloop van geslagte lange armoede te verbreek.
Ekonomiese en opvoedkundige optimalisering van inheemse tale

Om die potensiaal vir die bereiking van die bogenoemde ideale te ondersoek,sal hierdie referaat, soos in die vorige paragraaf uiteengesit, die volgende doen:

  • ’n aantal sleutelsektore (byvoorbeeld onderwys, radio, televisie, film, advertensies, gedrukte en elektroniese media) waarin die verskillende amptelike tale van Suid-Afrika as die kerndrywers van opvoedkundige en ekonomiese aktiwiteite aangewend word, ontleed
  • strategieë identifiseer om ’n digitale inheemse taalruimte te skep
  • moontlikhede verken om sodanige digitale inheemse taalruimte opvoedkundig, sosiaal en kommersieel te laat groei.

Sektorontleding

Algemene en verdere onderwys

Daar is al heelwat geskryf oor die swakker wordende matriekuitslae van Suid-Afrikaanse skole, die lae geletterdheid- en syfervaardigheidsvlakke, die hoë uitsaksyfer onder leerders en die lae vaardigheidsvlakke wat skoolverlaters se werkplek vereis. Hierdie situasie kan toegeskryf word aan die feit dat die meeste leerders in Suid-Afrikaanse skole nie in hul moedertaal (wat enige van die inheemse tale kan wees) onderrig word nie, maar eerder in ’n ander taal.

All primary school-based systemic evaluation and testing as well as the analysis of performance by learners who are not being tested in their mother-tongue (MT) at Grade 12 level, plus the high drop-out rate give a clear messages that the system is not working as it should and, in some cases, not at all. We need to take a sharp look at the languages of learning and teaching (LoLTs) which are being used in schools and accept that it is the responsibility of the WCED to point out very clearly the disadvantages of dropping the mother-tongue too early. (WCED Language-In-Education Transformation Plan 2007)

In die meeste gevalle is die taal van onderrig en leer Engels en in sommige gevalle is dit Afrikaans. Volgens Horne (2007:6) word hierdie probleem vererger deurdat opvoeders nie genoegsaam toegerus is vir die uitdaging om Engels as taal van leer in die klaskamer te gebruik nie. In baie gevalle word reduserende tweetaligheid toegepas weens onbekwame kodewisseling tussen Engels en die moedertaal, in plaas van ’n sistematiese proses van toevoegende tweetaligheid, wat beteken dat daar eers ’n stewige basis in die moedertaal gelê word en dat Engels geleidelik as tweede taal ingevoer word (Horne 2007:4).

In gevalle waar skole oorskakelingstweetaligheid toepas, behoort die oorskakeling van die moedertaal as onderrigmedium na Engels as onderrigtaal deeglik beplan te word om reduserende tweetaligheid te voorkom. Indien skole egter handhawende tweetalige onderwys toepas, word Engels toegevoeg, maar vervang dit nie die moedertaal as onderrigtaal nie. Toevoegende tweetaligheid word verder versterk deur die uitgebreide gebruik van die moedertaal (UNESCO 2008:8):

The evidence is clear: mother-tongue-based bilingual education significantly enhances the learning outcomes of students from minority language communities. Moreover, when mother-tongue-based bilingual education programmes are developed in a manner that involves community members in some significant way and explicitly addresses community concerns, these programmes also promote the identification of the minority community with the formal education process. The parameters that shape a bilingual education programme include the availability of resources, its pedagogical and social goals, and the political environment in which it is to be implemented. The examples described above demonstrate a variety of such parameters, all of which have given rise to innovative and effective bilingual education models. (UNESCO 2008:41)

Onderrig en leer behels tweerigtingkommunikasie, dus het ’n wanverhouding tussen die onderrigtaal en die moedertaal ’n ernstige impak op die leerder se akademiese vordering. In baie gevalle word hierdie probleem verder gekompliseer deurdat die onderwyser nie vaardig is in die onderrigtaal nie (Nomlomo 2005:269).[4] Die kwessie van moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys is dus ’n faktor waarmee rekening gehou moet word indien ons die kringloop van geslagte lange armoede wil verbreek. Wat opvoedkundige waarde betref, verhoog dit die gehalte van onderrig en leer beduidend, en wat ekonomiese waarde betref, dra dit by tot ’n hoër deurvoersyfer en die ontwikkeling van kundige en vaardige burgers.

Hoër onderwys

Sommige kenners is voorstanders van die uitbreiding van moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys ook na die hoëronderwyssektor. Die verslag van die ministeriële komitee oor transformasie en maatskaplike kohesie en die eliminering van diskriminasie in openbare hoëronderwysinrigtings (Report of the Ministerial Committee on Transformation and Social Cohesion and the Elimination of Discrimination in Public Higher Education Institutions), wat in 2008 vrygestel is, beklemtoon ook die onderrigwaarde van inheemse tale. Dit rapporteer egter dat die meeste Suid-Afrikaanse universiteite, met die uitsondering van die histories Afrikaanse universiteite, en nog een of twee ander, in gebreke gebly het om enige van die inheemse tale as onderrigtaal in te voer (Report of the Ministerial Committee 2008):

The role of language is therefore critical to higher education transformation, as it impacts on access and success, affirms diversity, while the right of a student to “instruction in the language of his or her choice, where this is reasonably practicable”, is afforded by the Constitution. It is no wonder then that language policy is the subject of contestation in higher education institutions. In this regard, all institutions are committed to multilingualism in one form or another, including the development of African languages as academic languages, and the introduction of African languages as languages of communication. However, more often than not, this commitment remains symbolic, as a range of factors, such as the availability of qualified staff, finances and student interest militate against the full implementation of multilingualism. It should be noted though that there is also opposition at different levels and of varying intensity to the acknowledgement of the significance of mother tongue mastery in academic success. (Report of the Ministerial Committee 2008:94)

Ramani en Joseph (2006:17) het egter bevind dat baie van die aggressiwiteit teenoor Afrikatale verdwyn sodra ’n Afrikataal as ’n medium in ’n dubbelmediumprogram aangebied word.[5] Die werk van Ramani en Joseph sentreer op die ontwikkeling van ’n dubbelmedium-BA-graad in Engels en Sesotho sa Leboa aan die Universiteit van Limpopo, gegrond op ’n model van toevoegende tweetaligheid. Hierdie model stel studente in staat om hul Engels- sowel as hul moedertaalvaardigheid vir “higher order cognitive work” te ontwikkel (Ramani en Joseph 2006:4).

Die vermelde benadering waarvolgens ons inheemse tale as onderrigmedium saam met Engels in hoër onderwys ingevoer word, kan ons begrip van die komplekse inheemse raamwerk van vorige ervaringe, metafore, geloof, waardes, persepsies, verhoudings, magstryde, ekonomiese aktiwiteite, taal-, kultuur- en landbou-aktiwiteite verhoog, en lei tot die ontwikkeling van innoverende strategieë gerig op die verbreking van die kringloop van geslagte lange armoede. Sodanige insigte sal nooit moontlik wees solank as wat ons voortgaan om die waarde van ons inheemse tale gering te skat nie.

One result of the disuse of African languages in education, and the devaluation of the knowledge embodied in these languages, is the positioning of Africa as a receiver rather than a contributor. African countries receive knowledge, know-how, technology, books, etc from other countries, particularly in the West, but are not seen to contribute anything of “recognized value” to the global knowledge pool. (Roy-Campbell 2005:3)

Daarby sal gemeenskappe nie eienaarskap aanvaar van projekte waarmee hulle nie kan identifiseer of wat nie in hul betekenisgewende konteks inpas nie. Want hulle eie konteks is per slot van rekening die enigste een waarin hulle met selfvertroue kan identifiseer met projekte afgestem op die verbetering van hul lewensomstandighede. Dat hierdie gemeenskappe ook deur die radio, televisie, rekenaar, sellulêre telefoon, verstedeliking, migrasie en globalisering aan ander kontekste blootgestel word, kan nie ontken word nie. Hierdie blootstelling is egter dikwels beperk tot die voorsiening van goedkoop arbeid in ruil vir ’n bestaansloon wat in ieder geval te min is om aan die spiraal van ontmagtiging, armoede, oningeligtheid en wanhoop te kan ontkom.

Kotze en Kotze (1996:7) stem saam en kom tot die volgende waardevolle slotsom:

The people’s meaning-giving context is the only framework within which they can relate to developers. It is the framework within which development initiatives obtain meaning. It will either permit or block development, depending whether there is a "fit" between development initiatives and context. People will not be steered, influenced or "taken with" unless the development initiative has positive meaning within their context.

Teen hierdie agtergrond is dit noodsaaklik om enkele van die sleutelsektore waarin die amptelike tale van Suid-Afrika as kerndrywers van opvoeding en ekonomiese aktiwiteit aangewend word - spesifiek die radio, die publikasiebedryf en die elektroniese media - te ondersoek en vas te stel hoe dit optimaal uitgebou kan word om die kringloop van geslagte lange armoede te help verbreek.

Radio

Luidens die Nasionale Gemeenskapsmediaforum (NGMF) moet gemeenskapsmedia (soos radio, koerante, tydskrifte, advertensie-agentskappe, televisie, film, ens) deur die gemeenskap besit en beheer word, via sy verteenwoordigers, moet dit niewinsgewend bedryf word en toeganklik wees vir die gemeenskap wat dit dien. Voorts moet die gemeenskap óf ’n geografiese gemeenskap óf ’n belangegroep wees en in diens van benadeelde gemeenskappe staan (MDDA 2004:16).

Gemeenskapsradio bied dus ’n uitstekende manier om kulturele interaksie, gemeenskapsbesprekings en debat binne ’n geografiese gebied of tussen belangegroepe te bevorder. Dit verskaf ook nuus en lig gemeenskappe in oor belangrike opvoedkundige, kulturele, sosiale, politieke en godsdienstige kwessies, gebeure en ontwikkelings. Gemeenskapsradio kan ook gebruik word as ’n medium om ekonomiese interaksie tussen sy luisteraars te bevorder. Baie gemeenskapsradiostasies gaan egter gebuk onder allerhande soorte probleme en faal dus daarin om gemeenskappe te ontwikkel en bemagtig.

Institutional weaknesses continue to beset the sector, particularly in the areas of management and administration. Often an inability to pay staff adequately leads to a blurring of roles between the board, staff and volunteers. Licensing delays, caused by the IBA/SATRA merger, has caused further disruption, including high board turnover and community disillusionment ... The absence of partnerships with local government, integrated development planning and other community structures has placed limitations on the extent to which community radio has been able to facilitate community participation in local government and development initiatives. (Dooms 2002:2 in MDDA, 2004:56-7)

Daar is egter baie gemeenskapsradiostasies wat ’n uitstekende diens lewer en selfonderhoudend is. Hier onder verskyn ’n lys van gemeenskapsradiostasies in die verskillende provinsies, oorgeneem uit die SAARF-lys van gemeenskapsradiostasies (2009).

 

 

Dit is egter belangrik dat die regering en sy verwante agentskappe, soos die MDDA, die effektiwiteit van hierdie gemeenskapsradiostasies en die impak daarvan op ontwikkelende gemeenskappe deurlopend ondersoek en monitor. Hulle moet ook armoedegeteisterde gebiede identifiseer waar gemeenskapsradiostasies ontbreek en die betrokke gemeenskappe help om ’n radiostasie te vestig wat op opvoedkundige en ekonomiese ontwikkeling via die medium van die inheemse tale sal fokus.

Dit sluit nie die verskillende kommersiële radiostasies uit wat ook in die inheemse tale dienste lewer nie. Vergelyk die onderstaande SAARF-lys van kommersiële radiostasies (2009):

 

Dit is belangrik om daarop te let dat kommersiële radiostasies in die inheemse tale ook met van die hoogste luisteraarsgetalle spog. Ukhozi FM (KwaZulu-Natal) se luisteraarstal is gemiddeld 6,6 miljoen en Umhlobo Wenene FM (Oos-Kaap) s’n is gemiddeld 4,7 miljoen (SAARF, RAMS, syfers vir November 2009).[6] Hierdie getalle dui aan dat ons inheemse tale belangrike ekonomiese drywers is wat talle geleenthede vir die uitbreiding van die ekonomiese waarde van die betrokke tale bied.

’n Taal met ’n aansienlike ekonomiese waarde is ’n bate vir die spraakgemeenskap en kan in baie ander sektore met groot sukses aangewend word om welvaart te skep.

So ’n sektor, wat verderaan bespreek sal word, is die publikasiesektor.

Publikasiesektor

Die jaarlikse boekpublikasiebedryf se opnameverslag van 2007, wat in Januarie 2009 vrygestel is, stel die totale omset van al die publikasie-entiteite wat aan die opname deelgeneem het, op R3.5 miljard. Die opnameverslag bied ook die volgende ontleding van netto omset van plaaslike boeke volgens taalgroep (Industry Survey Report 2007:42):

 

Die plaaslike boekpublikasiebedryf word tans oorheers deur die verkope van Engelstalige boeke, wat neerkom op 75 persent van die netto omset van alle verkope regoor alle subsektore, met Afrikaans in die tweede plek met 15 persent en die ander nege inheemse tale wat gesamentlik 10 persent uitmaak. Die verkope van Bybels in die nege inheemse tale vorm die meerderheid van die verkope van niefiksie (Industry Survey Report 2007:43).

’n Verdere insiggewende waarneming is dat publikasies in die Afrikatale vir die onderwyssektor bestem is. Dit is ’n interessante ontwikkeling wat ooreenkom met die idee van moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys en die bevordering daarvan.

Hierdie uitbreiding van inheemse tale na die fiksie-, niefiksie-, skool-, akademiese, professionele en vakkundige sektore bied dus loopbaangeleenthede vir professioneel opgeleide praktisyns van inheemse tale asook entrepreneursgeleenthede vir die sprekers van hierdie tale.

Die groei in die inheemse gemeenskapskoerantsektor bied soortgelyke loopbaangeleenthede in die joernalistiek, advertensiewese, ens, asook entrepreneursgeleenthede vir diegene met ’n belangstelling in verkope, bemarking, aflewering, ens. Gevestigde koeranthandelsmerke soos Isolezwe, Ilanga en Umafrika bevorder ook isiZulu en dien as voorbeeld vir ander inheemse taalgemeenskappe om ook sulke koerante in hul onderskeie inheemse tale te vestig.

Hierdie waarneming is niks nuuts nie, aangesien talle publikasie-inisiatiewe in verskeie inheemse tale, soos isiXhosa en Sesotho, ontstaan het sedert die aankoms van die eerste sendelinge in Suid-Afrika toe boeke en koerante gedruk is om plaaslike gemeenskappe te onderrig en te ontwikkel, met groot sukses:

The earliest written records of the South African indigenous languages date back to the 18th century. The first text, a short isiXhosa wordlist, was compiled by a Swedish traveller, Andrew Sparrman, in 1776. Subsequently, following the steady arrival of missionaries, many more wordlists were compiled as printing presses were established. The early transcription of African languages by missionaries pioneered modern scholarship in those languages. The most famous of the early publishing initiatives were the Lovedale Press in the Eastern Cape, the Morija Press in Lesotho and the Marianhill Press in Natal. Accordingly, the modern growth of African languages was uneven, depending on the arrival of missionary activity and the degree and intensity of the missionaries’ investment in developing them. As a result, the languages were not only reduced to writing but indigenous language speakers were also educated and trained by the missionaries, and continued the work into the future. (DOE 2003:19-20)

Ons inheemse taalerfenis is ongetwyfeld ’n waardevolle hulpbron, maar dit benodig staatshulpbronne om dit verder te ontwikkel en as kern ekonomiese drywers in die verskillende mediasektore te vestig. Voorts vereis dit die ondersteuning van sy sprekers wat mediaprodukte in die verskillende inheemse tale wil koop. In hierdie verband kan veel geleer word van Afrikaans, wat tot ’n taal van handel en wetenskap ontwikkel het.

Sodanige ontwikkeling is noodsaaklik om die taal in die digitale ruimte te lanseer.

Elektroniese media

Die digitale ruimte bied talle nuwe en opwindende geleenthede vir al ons inheemse tale. Daar bestaan alreeds ’n aantal webtuistes in verskeie van ons inheemse tale en afhangende van die verkeer wat dit skep, bied dit geleenthede vir adverteerders om hul produkte te adverteer.

Die koms van die mobiele web sal uiteindelik almal met ’n selfoon in staat stel om toegang tot die internet te verkry. En ons sien alreeds dat die groei van mobiele internet in Suid-Afrika die gebruik van die internet via die persoonlike rekenaar oortref (Morse 2009).

In ’n aanlynartikel getiteld "Media, social media more intertwined than ever" spreek Marion Scher die opinie uit dat sosiale media en sosialenetwerke, soos Facebook, toenemend deur maatskappye, individue, adverteerders, bemarkers en kommunikeerders gebruik word. Sosiale media bied dus addisionele geleenthede vir ons inheemse tale om vir ander doeleindes as bloot sosialenetwerkvorming gebruik te word.

Social networking has impacted onto every form of communication, especially media. With just a cellphone you can be aware of what's happening anywhere in the world - virtually as it's happening ... The impact of social media is increasing daily. Whenever people turn on their computers, they're likely to receive a message that could change their thinking on a particular issue or make them aware of a new product. In other words, a blurring of the lines between public relations, advertising and straightforward news and editorial. (Scher 2009)

Hierdie addisionele geleenthede sluit in die gebruik van inheemse tale vir kreatiewe interaksie met ’n bepaalde inheemse taalgroep, aangesien dit een van die snelsgroeiende meganismes is om met mense in aanraking te kom en ’n diens of produk te bemark, of die verkryging van kollektiewe insette van mense, of die inisiëring van ’n aanlynprojek gemik op hulpverlening aan mense wat steeds in armoede vasgevang sit.

Die mobiele web open nuwe moontlikhede omdat dit al hoe meer mense in staat stel om toegang tot die internet te verkry. Dit vra egter die ontwikkeling en vertaling van digitale inhoud in die inheemse tale, want inhoud interesseer mense, en waar daar mense is, volg adverteerders.

Aanbevelings

  • Bevorder kwaliteit moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys in die algemene-, verdere- en tersiêre-onderwys-bande.
  • Lei onderwysers en dosente intensief op en gee hulle die bevoegdhede en bronne om dit reg toe te pas.
  • Vestig ’n sterk vennootskap met die publikasiebedryf om leermateriaal en leesboeke in die inheemse tale beskikbaar te stel.
  • Brei die gemeenskaps- en kommersiële radio’s, televisie, film, gedrukte en digitale media uit en gebruik dit vir opvoedkundige, ekonomiese en vermaakdoeleiendes.

Ten Slotte

Om dus nog steeds te redeneer dat taalverskeidenheid ’n las is en dat die pad vorentoe vir Suid-Afrika een is van slegs Engels is, is om die kringloop van geslagte lange armoede waarin die meeste nie-Engelssprekers vasgevang is, te verleng. Dit is deur gehalte-moedertaalgebaseerde onderwys en die optimale benutting van ons inheemse tale binne die oudio-, visuele, druk- en digitale-mediaruimtes dat geleenthede vir werkskepping, entrepreneurskap, ontwikkeling en selfvervulling geskep word.

Die infrastruktuur, beleidsraamwerk en institusionele kapasiteit is daar. Al wat nodig is, is om die winste wat alreeds met die benutting van inheemse tale as media-instrumente bereik is, te konsolideer en uit te brei. Ons inheemse taalerfenis is inderdaad ’n waardevolle bate, en daar is geen rede waarom ons dit nie kan benut om ons mense se lewens te verbeter sodat hulle ten volle voordeel kan trek uit die kennisekonomie nie. Dwarsoor die wêreld skep inheemse gemeenskappe hul digitale ruimtes in die inheemse tale, want dit is goedkoop en verg nie veel meer as slegs toegewydheid en kreatiwiteit nie - nie van ander mense nie, maar van die sprekers van die inheemse tale self.

 

BRONNELYS

Alexander, N. 2007. Literacy and Linguistic Diversity in a Global Perspective.In Literacy and Linguistic Diversity in a Global Perspective, An Intercultural Exchange with African Countries (reds N Alexander en B Busch). Council of Europe. Strasbourg.
—. 2008. Proper use of mother tongue the way forward. Cape Times, 21 April 21. Suid-Afrika.
Annual Book Publishing Industry Survey Report of 2007. 2009. Skool vir Inligtingstegnologie, Departement Inligtingswetenskap, Publikasiestudies, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika.
DvO. 2003. The Development of Indigenous African Languages as Mediums of Instruction In Higher Education. Verslag saamgestel deur die Ministeriële Komitee aangewys deur die Ministerie van Onderwys in September 2003. Departement van Onderwys, Suid-Afrika.
—. 2008. Report of the Ministerial Committee on Transformation and Social Cohesion and the Elimination of Discrimination in Public Higher Education Institutions. Department of Education. South Africa.
Horne, TJ. 2007. The Trainability of the African Language Transferee (ALT). Johannesburg.
Kaschula, Mostert, Schafer en Wienand.­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­­ 2007. English Hegemony or African Identity? Towards an Integrated Language Planning Tool for Economic Development in SA. Journal of Folklore Studies, 17(2):43-59. Skool vir Tale, Rhodes Universiteit, Grahamstad, Suid-Afrika.
Kotze DA en PMJ Kotze 1996. What is Wrong in Development? In Focus, Mei/Junie 1996. Unisa. Suid-Afrika.
Media Development and Diversity Agency. 2004. The People’s Voice. The development and current state of the South African Small Media Sector. Saamgestel deur Adrian Hadlans en Karin Thorne van die Social Integration and Cohesion Research Programme van die Raad vir Geesteswetenskappe in vennootskap met die Media Development and Diversity Agency and Mediaworks. RGN-Uitgewers. Suid-Afrika.
Mutasa, DE. 2003. The language policy of South Africa: what do people say? Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.
Morse, J. 2009. Opportunity for Mobile Content in South Africa,http://www.bizcommunity.com/Article/196/78/29860.html (3 Januarie 2010 geraadpleeg).
Nomlomo, V. 2005. Instructional Approaches in Science: A Case Study of Two Grade 4 Classes in the Western Cape, South Africa. In Brock-Utne, Desai en Qorro 2005. LOITASA Research in Progress. Language of Instruction in Tanzania and South Africa. Tanzanië.
Nurse, K. Culture as the Fourth Pillar of Sustainable Development,  http://www.fao.org/SARD/common/ecg/2785/en/Cultureas4thPillarSD.pdf (3 Januarie 2010 geraadpleeg).
Ramani, E en M Joseph. 2006. The dual-medium BA degree in English and Sesotho sa Leboa at the University of Limpopo: successes and challenges. In Brock-Utne, Desai en Qorro 2006. Focus on fresh data on the language of instruction debate in Tanzania and South Africa. African Minds.
Roy-Campbell, ZM. 2006. The State of African Languages and the Global Language Politics: Empowering African Languages in the Era of Globalization. In Olaoba,  Arasanyin en Pemberton (reds), Selected Proceedings of the 36th Annual Conference on African Linguistics, pp 1-13. Somerville, MA: Cascadilla Proceedings Project. www.lingref.com, document #1401.
Scher, M. 2009. Media, social media more intertwined than ever, http://www.biz-community.com/Article/196/424/43852.html (12 Januarie 2010 geraadpleeg).
South African Advertising Research Foundation (SAARF), RAMS figures, November 2009 by http://www.saarf.co.za (12 Januarie 2010 geraadpleeg).
UNESCO, Education Sector, 2008: Mother Tongue Matters: Local Language as a Key to Effective Learning. Parys, UNESCO.
Webb, V. 2006. Language policy development in South Africa. Sentrum vir Taalpolitieke Navorsing. Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika.
WKOD. 2007. WCED Language-In-Education Transformation Plan. Kaapstad.

Eindnotas

[1] Lees Artikel 6 van ons Nasionale Grondwet.

[2] Die Nasionale Talewet wat in 2003 deur die Kabinet aanvaar is, streef daarna om die Bantoetale te ontwikkel en te bevorder ten einde ekonomiese ontwikkeling via die bevordering van veeltaligheid te fasiliteer en om die kapasiteit van die land se tale te ontwikkel, veral in die konteks van tegnologisering.

[3] Die Inheemsekennissisteme- (IKS-) beleid is in 2004 deur die Kabinet aanvaar. Die doel van hierdie beleid is om IKS'e in Suid-Afrika te erken, bevestig, ontwikkel, bevorder en beskerm. Dit bied ook ‘n basis waarop inheemse kennis gebruik kan word om die lewens van talle mense te verbeter en armoede uit te roei.

[4] Die studie wat deur Vuyokazi Nomlomo onderneem is, het gefokus op die impak van taal op effektiewe onderrig en leer in wetenskap. Twee graad 4-isiXhosa-moedertaalgroepe, waarvan die een in Engels onderrig is en die ander in isiXhosa, is waargeneem en die data toon dat die leerders wat deur die medium van isiXhosa (56 persent) onderrig is, diegene wat in Engels onderrig is (30 persent), uitgestof het.

[5] ’n BA-graad in Kontemporêre Engels (CELS) en Multitalige Studie (MUST) is sedert 2003 in die Skool vir Tale en Kommunikasiestudie, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van Limpopo geïmplementeer.

[6] Die Suid-Afrikaanse Navorsingstigting (SANS) bied maandelikse RAMS-verslae wat beskikbaar is by http://www.saarf.co.za.