Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Om “openbare figuur” te wees


Jason Lloyd - 2010-02-23

Glo my as jy wil: die wêreld is ʼn klein plek, al lyk dit op die wêreldkaart so groot soos ʼn Bybelse Goliat.

Die waarheid in dié oorbekende gesegde opgesluit het ek twee weke gelede weer eens ontdek. Mag dit altyd so wees sodat die mens dit nooit kan vergeet nie en altyd iets goeds daaruit kan leer. So, behandel enige persoon wat jou pad kruis met die nodige respek. Wees nederig en onthou om ander te respekteer kos niks nie. Wees gewaarsku: waar jy ook al beweeg, is daar ʼn paar oë – vanuit die hemel en hier op aarde – wat jou bewegings dophou. ʼn Paar oë wat jou miskien iewers gesien het, jou foto in ʼn tydskrif of koerant raak geblaai het, jou op TV of in ʼn verhoogstuk gewaar het. ʼn Paar oë wat jou miskien gesien het in plekke “waar daar gesondig word”. ʼn Paar ore wat ʼn goeie of slegte storie van jou gehoor het of miskien jou stem oor die radio of op TV gehoor het. Wees dus gewaarsku.

Twee weke gelede terwyl ek besoek afgelê het by ons kantore op Despatch het twee persone – sonder dat ek dit verwag het – aangekondig "hulle ken vi’ my”. Die een is Liesle, wat my ken vanweë my rubrieke in Die Burger, en ʼn ander persoon omdat sy my suster ken. Dit was baie aangename ervarings gewees en ek wil graag dankie vir Liesle sê vir haar behulpsaamheid toe ek hulp benodig het.

Toe die politikus eerw Allan Hendrickse in 2005 gesterf het, het die uwe in Die Burger ʼn oorsig oor sy lewe geskryf. Ek het die eerwaarde geloof vir sy rol in die manifestasie van die vryheidsdroom vir alle Suid-Afrikaners, maar hom gelooi vir sy aanvaarding van die driekamerparlement in 1983 en omdat dit veral swartes uitgesluit het.

Op pad KKNK toe ʼn paar dae nadat die artikel verskyn het, het ek op Steytlerville gestop en daar het ʼn sekere oom my foto in Die Burger onthou. Oor die driekamerparlement-opmerking was hy woedend, “maar gelukkig lyk jy soos ʼn goeie seun”. Wees dus gewaarsku.

ʼn Ander voorval verlede jaar was baie minder aangenaam toe ek in ʼn plek (wat se naam ek nie hier wil noem nie) deur twee mans bestorm is “omdat jy elke keer politieke snert in jou rubrieke kwyt raak”. Gelukkig het hulle nie aan my geraak nie, maar hul reaksie was vir my ʼn barometer oor hoe ons as nasie nog steeds baie sensitief is oor (soos die digter Adam Small destyds in ʼn ander konteks gedig het) “wat roep om ten hemele gesê te word”. Wees dus gewaarsku.

Ek onthou dit is ʼn bekende rubriekskrywer wat op ʼn keer opgemerk het dat rubriekskrywers en joernaliste ook “openbare figure” is en dat hulle altyd moet let op hul openbare gedrag en uitsprake. Dit is waar – maar dit geld eintlik vir ons almal. Wees dus gewaarsku.