Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

’n Middeweg vir Afrikaans


Leon Rousseau - 2010-02-19

Elemente van ’n konsep-artikel deur my oor die Afrikaanse spelwyse het as brief in BY verskyn. Hier is die volledige hersiene artikel:


Dit is verblydend dat die debat oor die Afrikaanse spelling van vreemde woorde tussen my enersyds en Ernst Kotzé en Tom McLachlan andersyds tot dusver op so ’n beskaafde vlak kon verloop. (Dié twee is onderskeidelik voorsitter en ondervoorsitter van die Akademie se Taalkommissie.)

Selfs mnr McLachlan het minder straf op my geword. In sy brief in BY noem hy my beskouinge “eksentriek” en “idiosinkraties”. Dit is ’n groot verbetering op wat hy onlangs op RSG daarvan gesê het.

In belang van Afrikaans is dit veel beter dat mense soos ek – apostels en bewonderaars (ek sou graag wou sê fânz) van daardie onverskrokke maar voortydig ontknaterde taalhervormer Peter Blum – ek hervat, dat mense soos ek met die Taalkommissie saamwerk eerder as om daarmee te twis. Daar is veel wat ek van die eerbiedwaardige liggaam kan leer. Durf ek byvoeg: en omgekeerd?

Ek en Kotzé het in ’n kort briefwisseling ooreengekom dat niks wat ons van mekaar sê, persoonlik bedoel word nie. Dieselfde wil ek vir McLachlan sê.

Toegegee dat geen mens en geen kommissie onfeilbaar is nie, is daar in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) opvallende anomalieë.

Neem as enkele voorbeeld die drie woorde chops, chips en steak. Al drie is dekades gelede al tot Afrikaans getem (chops vermoedelik eerste, steak laaste), met die pragmatiese spellings tjops, tjips en steik, maar net tjops verskyn in die Woordelys. Tjips word verswyg en steak verskyn as steak – dit wil sê rou, ongetemde Engels. Dui hierdie voorbeeld daarop dat die Taalkommissie geleidelik in die rigting van rou Engels beweeg? So ja: ek beskou dit as ’n gevaarlike neiging.

Prof Kotzé vra wat ek met die “bevryding van Afrikaans” bedoel. Ek bedoel veral twee dinge:

1. Wanneer ek ’n sin skryf waarin Engels drie keer not (of ’n ander negatiewe woord) sou gebruik, moet ek ses nie’s gebruik. Om my Afrikaanse sin iets eleganter te maak, moet ek maniere vind om die nie’s te verminder. Een van die maniere is op die ou end dikwels om byvoorbeeld ’n frase soos “dié woord kom nie in Afrikaans voor nie” te vervang met “dié woord ontbreek in Afrikaans”. Ek moet dus iets anders sê as wat ek wou sê, en dit behoort vir geen taalgebruiker nodig te wees nie. Vandaar dat ek sê: Weg met die verpligte dubbel-nie. Welkom aan die opsionele niet.

2. Wanneer ek Afrikaans praat, wil ek die mot juste, die juiswoord of paswoord, gebruik, nie ’n approksimasie of ’n omskrywing daarvan nie, en daarom praat ek van “boom” (op die beurs), “scoop” en “zoom”, van “keen”, “deal” en “steal” (“R2 miljoen vir daai huis is ’n steal”), van “grand”, “jam” en “sad”. Wanneer ek skryf, wil ek dieselfde vryheid hê, maar ek wil Afrikaans nie in ’n stortvloed Engels laat verdrink soos tans met Nederlands gebeur nie, en daarom wil ek dié woorde deur spelling tot Afrikaans tem deur te skryf buhm, skuhp, kihn, dihl, stihl, ghrând, djâm en sâd.

Die â van sâd is vir die eerste keer byna sewe jaar gelede deur Peter Snyders bekendgestel in ’n rubriek wat hy in Die Burger in Kaapse Afrikaans geskryf het. (Moenie daai taal-tjie vergiht-ie, geleerde here.) Vir die lang iee-klank in deal, ’n klank wat in Afrikaans en Nederlands ontbreek, maar dikwels in Kaaps voorkom, wou Snyders skryf, wat vir my problematies was omdat dit die uitspraak van byvoorbeeld priële kon aantas. Die klanke wat ek met die ih van dihl en die uh van skuhp weergee, sou hipoteties in Duits so gespel word. Hulle bestaan nie in Nederlands/Vlaams nie. Naas Nederlands is Duits ons taal se naaste familie. Enige redelike spelwyse sou egter aanvaarbaar wees mits dit ons in staat stel om woorde soos deal en scoop te verafrikaans.

Tom McLachlan vermoed ek wil na die Patriot-spelwyse terugkeer. Niet so. (“Dit is nie so nie” – vyf woorde – in Standaard-Afrikaans.) Dit sou heerlik wees, want dan sou ons kon sê f staan vir “f”, v staan vir “w” en w staan vir “wh” (freeslik, universiteit en wau!). Ons sou kon sê z staan vir “z”, x staan vir “ks” en q staan vir “kw” (zebra, Exodus en qaad). Ons sou biki of biekie skryf, omdat dit is hoe ons die woord in Standaard-Afrikaans uitspreek. (“Bietjie” is hoe dit in Kaaps gesê word.) So ’n volledige terugkeer na die weliswaar goeie beginsels van die Patriotters (ek behou die reg voor om ’n gedeeltelike terugkeer te bepleit) sou egter te ingrypend wees en sou buitendien sy eie probleme meebring.

Lewe die middeweg!