Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Skryfsake | Writing matters

Carina Stander: Hoe maak ’n mens tyd om te skryf?


Carina Stander - 2010-02-19

Daar is drie dinge waarsonder ek nie kan skep nie: verbeelding, stamina en ’n sperstreep. Verbeelding is wat dit is: ’n binnesintuig. Stamina is ’n soort hardkoppigheid, ’n single-minded wil om aan te hou skep, of mens nou wil of nie. ’n Sperstreep, of deadline, is ’n grens wat ek skep en waarby ek eenvoudig hou. Want wanneer die wilde perde van verbeelding deur my tuin hardloop, is daar ’n tyd om hulle te ry en ’n tyd om hulle tot rus te bring.

Soos almal griffel ek ook maar oral inspirasienotas neer. Die werklike verwerking en voltooiing van idees gebeur dan in die drie ure bedags wanneer my peutertjie slaap en van 7 tot 11 saans as alles stil is.

Daar was ’n stadium toe ek agt weke aanmekaar sou werk sonder om naweke te halt, maar ek vind dat tyd en effektiwiteit nie noodwendig parallel loop nie. Daarom maak ek nou weer tyd vir ou rituele wat my help om stamina te behou: klim twee keer per week berg, gaan boogy, rumba en tango elke week saam met my man, bid skemertyd op die strand, speel met my seuntjie, kuier in die hangmat met vriende, fliek. Eers daarná oorleef ek maklik ’n week waarin ek artikels of ’n kortverhaal, ’n opdragvers en nuwe skildery moet inlewer. Werk hard, speel hard - dís die ritme wat my laat rimpel van kreatiewe plesier. En as ek ná ’n groot projek voel dat ek getrou genoeg was aan verbeelding, stamina en sperstreep, beloon ek myself altyd met ’n reis na ’n wonderlike plek waar ek weer nuwe skryf- en kunsidees kan versamel.

 

<< Terug na die VraNet-blad <<