Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

beste breyten: ’n Popresensie – BB is sexier as die prez


Deborah Steinmair - 2010-02-17



Ek lees op LitNet in ’n resensie van mondmusiek deur Stephanus Muller:

Die gesproke stem in mondmusiek is ’n radikale stelling. Dit stel melodie sentraal in die afwesigheid daarvan, impliseer die stil-word van die horisontaal-lineêre dimensie van musiek. Dit wys op musiek se impotensie.

Wonderlik gestel, maar oor Breyten se woorde en klanke kan ek om die dood nie ’n akademiese verhandeling skryf nie; die troebadoer met die toringhart sodat hy ons van ver kan sien kom. In hierdie land word nasionale skatte soos hy soms uitgejou en aangesê om liewer nie weer huis toe te kom nie as hy voor die volk staan om die koers uit die woestyn aan te dui met ’n staf wat bewe van woede en wraak, waarskuwings stotterende onder sy tong totdat sy kiesvleis flenters is van bitter woorde kou. In hierdie land word nimlike poedinggesig-minnesangers met haarjel en brabbeltaal-lirieke in massahisterie op skouspelverhoë aanbid. In hierdie land waar ’n jagse leier met ’n kop soos ’n gierige bosluis onverhinderd met bonsende mantiete ronddans en kinders maak, waar welvarende ouer romansiers bebeurs en oor en oor bekroon word terwyl die Groot Afrikaanse Roman, ongenooid, skaars ’n rimpeling in die troebel poel veroorsaak, in hierdie land, in hierdie taal is daar veel skoonheid en soveel daarvan is deur hom geskep: beste Breyten, ons sjamaan, ons onblusbare liefdesbriefskrywer. Hy laat ons liefde jonk bly soos die hele aarde, hy droom van ’n huis vol sterre, die wurms in die heelal. Hy stuur ons oë met helikopters uit, hy slaan ons oë op na die berge met rakette. Hy hou rooiborsduiwe en trossies mimosamane uit en asem mantras in en uit ons verrukte oor.

Leonard Cohen bewoon ’n toring van sang en Breyten ’n ruim bordienghuis waarin ons almal mag vertoef. Ons president maak liefdeskinders, maar Breyten maak geesteskinders soos Johannes Kerkorrel, Anton Goosen, Laurinda Hofmeyr, Piet Botha, Sarah Theron, Lize Beekman, Duusman, Laudo Liebenberg. Beide JZ en BB skep onbeskermd.

Liebenberg, een van die Vanfokkingtastiese seuns, begin die CD met die onweerstaanbare, energieke tromslag van afwagting en maak van ons almal se harte torings. Daarna vaar die album na stiller waters. Dis die gevoel van afwagting soos ’n hartklop wat die CD saambind, gebalanseer deur ’n gevoel van amper afgemete verwondering. Breyten se woorde haal die heel beste uit musikante en sangers – hulle klink na hulself, maar meer so. Elk bring iets uniek na die piekniek: Laudo ongetemperde drif, Sarah passievolle drama, Lize versugting, Laurinda stilte en wat Stephanus Muller haar "sensitiewe pianistiek" noem, Anton Goosen aardse deernis, Kerkorrel siniese ekstase vanaf die ander kant, Piet Botha nostalgie, en natuurlik Breyten – Breyten bring sy immer-optimistiese Don Quichot-hart, sy lieflike, intieme stem en sy Wellington-aksent. ’n Mens kry tog die gevoel dat ander mense nog moet leer om te sing soos BB kan praat. Dit is goed dat die oormag van snitte in sy eie stem is. Stephanus Muller noem Breyten se stem "die grein van Afrikaans". Ek hou van die musikale afwisseling, want die stem bly deurgaans dieselfde: die asemhaling van die hart.

Cohen het eenmaal gesê toe hy baie jonk was, het hy geglo vroue bewoon ’n emosioneel-gelade landskap waarvan poësie die landstaal is. Breyten en sy medemusikante laat ons almal toe om daar te woon. As "toeganklik" nie ’n vloekwoord is nie, is hierdie album toeganklik. Ja, Breyten kry dit reg om jeugdiges se hart met sang en vervoering om te praat, en sy lesers (en luisteraars) is nie ou wrakke met week en stywe oog nie. Gee dat ons in sy briewe mag woon in lengte van dae.

Rhythm Records skep betowering, laat ’n nuwe nasionale woordeskat op ons horison los met blasfemiese oopkeel-profete soos Fokofpolisiekar, verblik vir ons weer en weer ’n sweempie van die hartstog en magic van Breyten; die surrealistiese droommetafore waarmee hy Afrikaans bevrug.

Daar is ’n stel oorfone op die mark wat bekend staan as “skull candy” en wat my betref is hierdie CD presies dit: soetgoed vir die skedel. Die titel beste breyten is in die kol: die CD is ’n brief, ’n bitter intieme brief van en aan Breyten. Die omslag is treffend, na ’n foto van Cloete Breytenbach, met romantiese Breyten-tafeljafels wat soos cowboys of dissipels aansit vir vis en wyn. Dis nagmaal. Sit, sien, luister.

LitNet en Rhythm Records gee vyf eksemplare van beste breyten weg. Stuur jou volle naam en posadres per e-pos aan wen@litnet.co.za – voor 26 Februarie 2010.