Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Expats > Onderhoude | Interviews > Jong expats | Young Expats

Jong expats: Karen Smit oor Edmonton, Kanada


Imke van Heerden - 2010-02-17

 

Uitsig op die stadskern van Edmonton oor die Saskatchewan-riviervallei

 

Aangetrek vir die koue, met jakkalspelsoorskutte; Ysbeeldhouwerkfees; Fantasiekostuum vir Halloween


Ski by die Marmot Basin in Jasper

 

Karen, waar woon jy nou en is die gras wel groener daar?

Ek woon in Edmonton in Alberta, Kanada. Dis so ’n paar uur noord van Calgary en ’n paar uur oos van die Rockies. Kanada is ’n ongelooflike mooi land, maar Edmonton is plat en baie industrieel (olie). So ek mis die Kaap, maar vir beroepsontwikkeling is dit dalk beter om hier te wees. Ek is deel van ’n goeie navorsingsgroep vir my PhD en daarna sal ek weer oorweeg waar ek wil bly.

Hoekom het jy Suid-Afrika verlaat? Beplan jy om terug te kom?

Ek is in ’n klein navorsingsveld, en ná my MSc by die UK wou ek graag met ander mense ook werk. Ek wou nie stagneer nie; ek wou die geleentheid gebruik om in ’n ander land ondervinding op te doen. Ek het nie eintlik te ernstig daaroor gedink nie – dit was eers toe ek moes begin pak dat ek rêrig besef het dat ek nou na die ander kant van die wêreld toe trek. Ek sal graag eendag wil teruggaan SA toe.

Vertel ons ’n bietjie meer van jou beroep.

Ek is deel van die diamantnavorsingsgroep by die Universiteit van Alberta. Ons bestudeer diamantvormingsprosesse in die mantel en ook die rotse waarin hulle voorkom.

Wat van Suid-Afrika laat jou lag en wat laat jou huil?

Za News laat my lag! En dis ’n beter manier om op hoogte te bly met wat by die huis aangaan as om die “regte” nuus te lees ... Alles is stadiger in SA – die diens, die internet ...

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Sonskyn. (Al skyn die son baie hier, is dit nog steeds koud buite.) Strand. Biltong. Rooiwyn wat nie ’n fortuin kos nie. Rugby en krieket. Braaivleis (nie ’n gas-BBQ nie). Creme Soda. Mrs Balls. Melktert. Hunters Dry. Sjokolade Steri Stumpies. Die lysie kan seker lank raak ...

Hoe reageer mense as hulle uitvind jy is Suid-Afrikaans?

Mense is geprikkel – hulle stel baie belang en wil meer weet van ons land, veral nou met die Wêreldbeker en al die flieks oor SA – Invictus en District 9. Iemand het my aksent herken omdat ek soos Wikus in District 9 klink.

Mense vra oor Apartheid en hoe ek persoonlik daaroor voel, en ook oor die misdaad en of SA rêrig so gevaarlik is. Mense het al vir my gesê dat hulle teen ’n vakansie in SA besluit het omdat hulle bekommerd is oor die misdaad. ’n Paar mense het al vir my gevra hoekom ek so ’n mooi land vir Edmonton van alle plekke verlaat het. Dan is daar ook natuurlik die een mens wat my gevra het of olifante en leeus in my agterplaas rondloop.

Waar in die stad/land waar jy tans woon, kuier jy graag, en wat doen jy in jou vrye tyd?

Almal hier is baie vriendelik, so dis nogal maklik om vriende te maak. Die Departement het baie nagraadse studente – baie van oorsee – so jy het dadelik ’n hele klomp vriende as jy hier aankom wat almal nogal gereeld na kuierplekke gaan. Die riviervallei het baie stap- en fietsryroetes wat jy in die winter vir cross-country skiing en snowshoing kan gebruik, en daar is ’n hele paar buitelug-ysskaatsbane. Ek gaan elke week vir ysskaatslesse en my vriende probeer my nog oorreed om yshokkie te speel.

Die Edmonton Simfonieorkes het gereeld uitvoerings en daar is ’n klompie museums, asook die Sitadelteater. Daar is baie lewende musiek in die stad, en ek ken nogal heelwat mense wat in musiekgroepe speel.

Jy kan ’n Afrikaanse sanger of groep nooi om daar op te tree; wie kies jy?


Moet hulle Afrikaans wees? Wat van die Parlotones, Prime Circle en Goldfish?

Sou jy Suid-Afrikaners aanmoedig om daar vakansie te hou?

Ek is nie so seker van Edmonton nie, maar beslis Kanada.

Die Banff en Jasper Nasionale Park in die Rockies, en die Icefields Parkway tussen die twee, is ongelooflik mooi in die somer en winter. Dit is so vier uur se ry van Edmonton en die mense wat hier bly, gaan vir die naweek en selfs ook net vir die dag. Daar is gletsers, mere en baie staproetes en kampterreine, en ski en sneeuplankry in die winter. Daar is ook agterlandse skiroetes.

Wat is die hoogtepunt van jou verblyf in die buiteland?

Ek hou daarvan om mense van verskillende kulture te leer ken en ook nuwe plekke te ontdek.

Enige interessante tendense waarvan jy ons wil vertel?

Pedestrians have right of way! ’n Motor sal vir jou stop en wag dat jy oor die pad loop. Ongelooflik; nie soos by die huis waar jy vir jou lewe vrees nie.

Alberta het geen rotte nie. Jy glo my nie? Google “Alberta Rat Patrol”.

Jy is gestrand op ’n eiland. Jy het drie Suid-Afrikaanse items van die sinkende skip gered. Wat het jy gekies?

Seker so veel as moontlik van die lysie goed wat ek hierbo genoem het. Heel bo-aan die lysie sal seker biltong, biltong en ’n bottel rooiwyn wees.





Uitstappie na die Jasper Nasionale Park (Rockygebergtes) in September


<< Terug na die Jong expats-blad <<