Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Mulder-boek net betyds vir Afrikanervryheidstryd


Dan Roodt - 2010-02-16

Skrywer: Pieter Mulder
Titel: Kan Afrikaners toyi-toyi?
Pretoria: Protea-boekhuis
Datum:
2008
ISBN: 978-1-86919-256-3
Prys: R160

Klik hier om Kan Afrikaners toyi-toyi? by Kalahari.net te bestel!


Sedert die einde van 2009 heers ’n nuwe gees in die Afrikanerpolitiek. Vele mense het al onlangs opgemerk dat die debat in Afrikaans en onder Afrikaners geheel en al ’n ander koers begin inslaan as in Suid-Afrikaanse Engels. Terwyl die Engelse politieke diskoers vassteek in die gemeenplasige begrippe van die reënboognasie, die Madiba-kultus en ons mankolieke demokrasie, eintlik ’n meerderheidstirannie, is vele Afrikaners deesdae bereid om waagmoedig en eksperimenteel te begin dink.

Daarom is dit miskien nou veral ’n goeie tyd om Pieter Mulder se bundel essays, Kan Afrikaners toyi-toyi? op te neem. Die boek het volgens die uitgewer reeds in 2008 verskyn, maar was miskien ’n effe vroeg op die toneel, want toe is vele van die probleme wat Mulder aanroer, nog gesien as ignoreerbaar en dinge waaraan nie getorring moet word nie. Omdat Mulder leier is van die Vryheidsfront Plus, wat deur die meeste hoofstroomkommentators as ’n marginale Afrikanerparty gesien word, is sy mening moontlik ook nie so hoog aangeslaan as, sê maar, dié van Jacob Zuma of Helen Zille nie.

Maar met die huidige verskuiwing in die openbare mening en die oplaaiende kritiek in Afrikanergeledere, kan ’n mens politieke antwoorde in Mulder se boek begin vind. Soos menige gesoute politikus wat al jare lank aan parlementêre debatte, krisisse en skandale blootgestel is, is Mulder geneig om elke punt met ’n staaltjie of anekdote te illustreer.

Hierdie procédé maak die boek selfs meer toeganklik as wat dit andersins sou wees, want as ’n mens een sentrale tema in die bundel moet uitsonder, sou dit kulturele relativisme wees. Die meeste mense verstaan kulturele relativisme instinktief – “almal sien nie die wêreld op dieselfde manier nie” – maar om dit filosofies of intellektueel te definieer, is natuurlik moeiliker. Daarom is dit moontlik makliker vir mense om so iets deur middel van voorbeelde te begryp.

Só vertel Mulder in hoofstuk 26, “Wiskunde-vraestelle en Venda-kleremakers”, van sy moeilike Desembervakansie omdat sy vrou, ’n wiskunde-onderwyseres, langer as gewoonlik aan die nasien van matriekwiskundevraestelle moes bestee. Voorheen is nasieners per vraestel betaal, met ander woorde, vir die hoeveelheid werk wat hulle gelewer het. Hierteen het die stadige nasieners, veral ’n sekere mev Molefi, beswaar gemaak, want hulle bestee dan langer aan die nasienwerk as die vinnige nasieners. Hierna het die onderwysdepartement in hul wysheid besluit dat almal ewe lank moet werk, al voltooi sommige die werk teen ’n vinniger tempo as ander.

In dieselfde Desembervakansie ontdek Mulder ’n e-pos in sy inkassie met die titel “Westerse denke versus Afrika-denke”. Dié (naamlose?) e-pos som die verskille goed op:

Die Westerse kultuur is mededingend. Afrika stel ’n prys op harmonie en konsensus.

Die Weste beklemtoon individuele regte. Afrika beklemtoon groepsverpligtinge.

Die Weste beklemtoon individuele vryheid, Afrika groepsolidariteit.


Die kwessie van die Venda-kleremaaksters, wat uit Attie van Niekerk se boek Saam in Afrika afkomstig is, illustreer presies hierdie verskille. Attie se vrou het destyds in die ou Republiek van Venda ’n projek begin om Venda-vroue naaldwerk te leer. Mettertyd het dit tot ’n suksesvolle tuisnywerheid ontwikkel. Maar toe ontstaan die probleem dat sommige vroue beter klere maak as ander en meer stukke van die hand sit, wat hulle meer geslaagd in die mark maak.

Daar is ses Venda-kleremaaksters. Op aandrang van dié wat die minste klere maak en die minste inkomste verdien, word ’n vergadering belê waarop besluit word dat die inkomste voortaan gelykop verdeel sal word. Ook die vrou wat vyf keer meer as die ander met haar vlyt verdien, stem saam met die gelykopverdeling. Hierdie aandrang op groepsharmonie vernietig egter die tuisnywerheidprojek, wat kort daarna ten einde loop.

Volgens Mulder moet ons iewers ’n middeweg vind tussen Westerse individualisme en Afrika-groepsolidariteit. My vraag is of dit moontlik is, veral as daar in dié land soveel meer Afrikane as Westerlinge is!

As die seun van Connie Mulder en iemand wat in ’n politieke huis grootgeword het, getuig Mulder se vertellinge dikwels van ’n fyn aanvoeling vir politieke nuanses en atmosfeer. Maar soos telkens in die boek blyk, gaan dit sedert 1994 nie meer soseer om ideologiese verskille nie, maar om die handhawing van konsensus in die eie groep of organisasie. Wat vir ons en die meeste rubriekskrywers soms na onhoudbare teenstrydighede lyk, hanteer swart politici met die grootste gemak.

Hierdie soort kwessies is natuurlik nie vir ons Afrikaners sonder implikasies nie, want waarskynlik is ’n groot rede vir die huidige ontnugtering met die skikking van 1994 dat die blanke politici destyds nie verstaan het dat “verskillende geleenthede vir verskillende woorde vra nie”. In dié trant vertel Mulder in hoofstuk 16 (“Buthelezi en Mandela – hierdie plek vra vir hierdie woorde”) van ’n potensiële botsing tussen die Zoeloe- en die Xhosa-leier in die jare negentig. Oor die naweek het Buthelezi – destyds nog lid van Mandela se kabinet – tydens die Inkatha Jeug-saamtrek ’n woedende aanval op Mandela gedoen. Al die blanke politici het gedink dat Buthelezi daarmee uit die kabinet geskop sou word. Tot hulle verbasing is die verhouding tussen Buthelezi en Mandela die daaropvolgende Maandag in die parlement ontspanne, selfs gemoedelik. Want, verduidelik een van die swart politici aan hulle: “Meneer Mandela verstaan van woorde en van die politiek. Daarom verstaan Mandela dat dáárdie plek, dit is nou Ulundi, vir daardie spesifieke woorde van die naweek gevra het en dat híérdie plek, dit is nou die parlement, vir ander woorde vra.”
 
In dieselfde verband vertel Mulder dat die parlementêre toesprake in die ou Suid-Afrika, in weerwil van die gebrekkige tegnologie destyds, deur Hansard streng op datum gehou is. “As ’n parlementslid in daardie tyd vroegmiddag ’n toespraak gehou het, kon jy die volledige geskrewe weergawe van die toespraak by Hansard kry voor jy die aand huis toe gaan.” Destyds het Hansard in boekvorm jaarliks verskyn, maar deesdae is dit drie jaar agter, omdat die spesifieke woorde wat parlementslede gebruik en die logiese teenstrydighede wat hulle mag begaan, nie meer so ’n belangrike rol in die politiek speel nie.

Volgens Mulder strook dit met die siening van Afrikadenke wat deur Attie van Niekerk in Saam in Afrika ontleed word. Van Niekerk sê dat “taal dikwels nie gebruik word om feite en gevoelens waar en betroubaar te formuleer, om dit wat ons die werklikheid noem, presies weer te gee nie ... Dit gaan ... om voordeel te behaal – om mag, nie soseer oor waarheid nie. Daarom kan heftige woorde van een oomblik met handomkeer die volgende oomblik op hul kop staangemaak word as omstandighede verander. Daarin lê vir die Afrika-mens geen teenstrydigheid nie. Op ’n manier is die ‘ek’ wat nou die een ding sê, nie die ‘ek’ wat netnou ’n ander storie praat nie.”

By al die frustrasies wat ons tans binne die toenemende Afrika-werklikheid van Suid-Afrika ervaar, is daar die taalkwessie. Waarskynlik wil die meeste Afrikaners mal word as ANC-politici hulle verseker dat hulle honderd persent ten gunste van die Grondwet se taalbepalings en veeltaligheid is, net om in die volgende sin aan te kondig dat Engels die taal van onderwys en die staat moet wees. In hoofstuk 25 (“Koloniale tale in ’n vry Afrika”) sê Mulder: “As ons in die parlement oor moedertaalonderrig praat, dan hoor die ANC-lede rassisme en die bevoorregting van Afrikaans. Hulle bly blind vir internasionale navorsing wat oor en oor bewys het dat moedertaalonderrig die beste soort onderrig is.”

Interessant is dat Mulder se vader Connie, van wie daar op bl 147 ’n foto saam met Félix Houphouët-Boigny afgedruk is, blykbaar lang gesprekke met dié destydse president van die Ivoorkus juis oor die rol van koloniale tale in Afrika gevoer het.

Maar al Pieter Mulder se goeie argumente ten gunste van moedertaalonderrig ten spyt, is ek bevrees dat die taalkwessie nóg ’n teenstrydigheid is wat ons Westerlinge in Afrika raaksien, maar wat die Afrikaan glad nie pla nie. Robert Mugabe haat Brittanje en die Britse kolonialisme, maar sou nooit van Engels in sy land wou ontslae raak nie.

Benewens sy begrip van kulturele relativisme en die onversoenbaarheid tussen wit en swart denke, spreek uit die res van die bundel ook Mulder se diepgaande kennis van die Afrikanergeskiedenis en politieke tradisie. Met behulp van sy anekdotiese skryfstyl bied hy byna ongeërg hier en daar boeiende geskiedkundige feite aan.

By die lees hiervan kan ’n mens nie anders as om te wonder waarom die Vryheidsfront Plus nie beter by die stembus teen byvoorbeeld Helen Zille se DA vaar nie. Pieter Mulder is geen hierjy nie, maar iemand met ervaring en insig in die probleme van die land en die kontinent.

Moontlik verkies die blanke kiesers egter die meer aanvallende Westminster-styl wat Tony Leon en ná hom die liberale Helen Zille so gewild by Afrikaners gemaak het. Omdat dit egter so uit pas is met Afrikadenke, het liberalisme nêrens in Afrika inslag gevind nie. Trouens, ’n mens kry dikwels die indruk dat swart mense geïrriteer word deur die oordrewe kritiek van liberale politici op die soort logiese teenstrydighede wat Mulder as tipies van die Afrika-mentaliteit uitwys. Die gedagte dat mev Zille ooit ’n groot aanhang by swart kiesers gaan kry, verteenwoordig dus ’n onmoontlike droom, al maak sy groot gewag daarvan dat sy ’n paar woorde Xhosa magtig is en ook soms vuis in die lug toi-toi!

Pieter Mulder bied hom, goddank, nie as een of ander koloniale redder van Afrika aan nie, maar as iemand wat vir die Afrikaner ’n plek in die Afrika-son wil verseker. Of dit ’n goeie besluit van hom was om die adjunkministerskap van landbou in ’n ANC-kabinet te aanvaar, is nog nie seker nie, en ons weet dat die jong Turke in sy party heftig daarteen gekant was.

Anders as die gemoedelike en begripvolle toon wat Mulder in Kan Afrikaners toyi-toyi? teenoor teenstrydige Afrikapolitiek handhaaf, het die persverklarings vanuit sy party oor die afgelope maande egter al hoe strydvaardiger geraak. Ek skryf dit toe aan die hoë mate van ontnugtering en woede wat daar tans onder Afrikaners teenoor die huidige bestel heers.

Indien Mulder hom wil handhaaf as ’n woordvoerder en vegter vir Afrikanerbelange, sal hy waarskynlik self ’n baie meer kritiese en kragdadige houding moet inslaan om aan sy kiesers en die breë Afrikanervolk se verwagtinge te voldoen. Want terwyl hy weens sy blootstelling aan die Afrikakultuur en -denke wat in ons parlement geld, soveel begrip daarvoor toon, raak Afrikaners toenemend keelvol vir die negatiewe gevolge en verval wat dikwels uit premoderne Afrikadenke spruit. Soos Max du Preez in Dwars kan ’n mens dit verromantiseer en jouself met Afrosentriese teorieë oortuig dat dié manier van dink die Weste in vele opsigte vooruit is.

Totdat jy al die gate in die paaie sien terwyl swart politici sorgeloos in een vyfsterhotel na die ander indaba hou oor allerlei komplekse ideologiese kwessies en hulle die blankes – en veral Afrikaners – vir al die probleme verantwoordelik hou.

Ons reaksie van: “Maar maak net die verdomde pad reg!” of “Doen wat jy sê, moenie net mooi broodjies bak nie!” is tipies Westers en deur die eeue heen in ons ingedril, vandat die ou Grieke die eerste vorme van logika ontwikkel het en vandat die Romeine ’n gesofistikeerde paaienetwerk en regstelsel in stand gehou het.

Ons verskille in denkwyse veroorsaak egter geweldige spanning, frustrasie en woede en kan selfs op gewelddadige botsing – ook in die nuwe Suid-Afrika – uitloop.

’n Leemte in die boek is dat Mulder nie veel oor die volkstaatbegrip te sê het nie, want dit is immers die element wat die Vryheidsfront van alle ander opposisiepartye onderskei. In die jaar of twee sedert hy die boek geskryf en saamgestel het, het die Afrikaner se ontvanklikheid vir dié idee egter radikaal van afsydig tot belangstellend en selfs vurig ondersteunend verander. Onlangs het ’n meerderheid van sowel Beeld as Die Burger se aanlynlesers in meningsopnames gestem dat hulle graag in ’n volkstaat sou gaan woon.

Pieter Mulder mag dus vind dat waar hy net wou toyi-toyi, daar dalk van hom verwag gaan word om Afrikanerbevryding met dodelike, nieteenstrydige Westerse erns te benader.

Met sy oortuigende toeligting van hoe ons eintlik in verskillende wêrelde leef, al sit ons saam in die parlement en woon ons kinders soms dieselfde skole en universiteite by, bied Mulder egter implisiet ook ’n argument aan oor waarom ons oorlewing op die lange duur net deur ’n volkstaat verseker kan word.

Teenoor diegene – en daar ís nog sulke joernaliste en koerantredakteurs onder Afrikaners – wat dink dat ons as minderheid die gang van die landspolitiek en die sukses van Suid-Afrika kan bepaal, kan ’n mens opper dat ons eintlik glad nie daarin geslaag het om die swart man in sy wese en in sy denke te verwesters nie. Net die Britte en dalk sommige Franse glo dat hulle dit reggekry het, maar dan woon hulle nie meer in Afrika nie! Nie eens met apartheid en politieke mag toe ons in 1960 nog 20 persent van die totale bevolking was, kon ons die oeroue manier van dink en doen in Afrika ’n sentimeter skuif nie. Hoe op aarde gaan ons dit in die huidige stelsel regkry waar ons polities magteloos is en demografies ’n skrale minderheid van 9 persent verteenwoordig?

Hoewel Pieter Mulder en die Vryheidsfront dus tans ’n taamlik marginale faktor in ons politiek is, kan die volkstaat-idee nie anders as om veld te wen nie. Gegewe die mentaliteitsverskille wat Mulder so goed uitbeeld, en die toenemende verwydering tussen taal- en rassegroepe in die land, is dit, benewens emigrasie, die enigste moontlike oplossing vir Afrikaners.

Dit is nou nodig dat veel meer politieke boeke in Afrikaans verskyn en ook dat die internetdebat oor ons toekoms in fyner besonderhede gevoer word. Oplaas sal ons ’n ordentlike plan kan formuleer wat daardie problematiese “saambestaan in Afrika” moontlik kan maak waarna Mulder en Van Niekerk verwys.

Die huidige politieke debat in Afrikaans is om van te juig, en dit sluit ook Kan Afrikaners toyi-toyi? in. Ek was laas so opgewonde toe ek as student in die laat sewentigerjare op die voorblad van Time gelees het van die Franse “nuwe filosowe”. As hulle destyds die (vir Europese intellektuele) ondenkbare kon doen en die kommunisme en Marxisme skerp te lyf kon gaan, kan ons vandag ’n hele nuwe inhoud aan die begrip volkstaat gee en waarom dit in ons konteks onvermydelik is.

Soet is die stryd vir die stryer, soos ID du Plessis gesê het.