Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Oneerlikheid oor die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans


Jason Lloyd - 2010-02-15

Miskien is dit erg neerslagtig om te sê dat die onderliggende nuanses rakende eenheid in en om Afrikaans dui op ’n stryd oor wie nou eintlik die regmatige eienaars van dié taal is.

Diverse metafore om bostaande te motiveer kan ek noem, maar laat ek ’n paar noem. Die verskillende perspektiewe rakende die omstrede toekenning van die Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywersbeurs aan die gevestigde en bejaarde skrywer André P Brink (75) is een voorbeeld wat as barometer kan dien hoe suksesvol of onsuksesvol die “projek van nierassigheid in Afrikaans” vorder.

Dit is ’n tema waaroor Jakes Gerwel gereeld skryf, omdat hy die ideaal van “nierassigheid in Afrikaans” nog altyd koester. Maar dit sukkel die afgelope klompie jare en die skeidslyne tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes is duidelik te sien. Dit dui op ’n toutrekkery oor wie “baas” en wie “Klaas” in die “Afrikaanse huis” is.
 
Ek was in Desember in Oudtshoorn, waar die !Garobfees vir die eerste keer aangebied is, “om ’n kulturele ontdekkingsreis onder die nasate van die Khoi te begin en om by te dra tot nierassigheid in Afrikaans”. Dit is egter ’n klinkklare verifiëring dat die jaarlikse Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en ander “wit” Afrikaanse feeste gefaal het om die aspirasies van alle Afrikaanssprekendes – en spesifiek bruines – te verwesenlik.

Ook die stigting van die “bruin” Suidoosterfees – waarvan Gerwel die voorsitter is – ’n paar jaar gelede “wat die winde van verandering, soos die Kaapse Dokter, en die strewe na die herposisionering, herdefiniëring en herbesitting van Afrikaans deur almal sou meebring”, is ook ’n bewys.

Die onlangse verskyning van die biografie van Afrikaans, Halala Afrikaans, saamgestel deur Daniel Hugo, is ’n bewys dat bruines se aandeel in die ontwikkeling van Afrikaans geringskat word. So word wyle Taliep Pietersen en bruines se bydrae tot Afrikaanse musiek nie eens genoem nie.

Die posisie van bruines in die Afrikaanse media en die letterkunde was en is nog altyd op die rand. Dit laat ’n mens dan suutjies vra: Wat doen Gerwel, Hein Willemse en Debra Meyer op Naspers se direksie om ’n stem vir bruines te wees?

Die joernalis Leopold Scholtz het onlangs in sy rubriek geskryf: “Afrikaans behoort nie net aan die Afrikaners nie; dit behoort aan almal wat die taal praat.” As in ag geneem word dat bruines aan die Afrikaanse taal sy eerste beslag gegee het, dan moet Scholtz se sin soos volg lees: “Afrikaans behoort nie net aan die bruines nie; dit behoort aan almal wat die taal praat.” Dit is dié oneerlikheid by sommige wittes oor die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans wat bruines skepties maak om betrokke te raak by die “taaldebat” by die Universiteit van Stellenbosch. Sulke oneerlikheid versterk onderlinge wantroue tussen wit en bruin.

Bygesê, daar is baie wittes – soos ’n Antjie Krog – wat op ’n praktiese manier bydra tot die herkonstruksie van die waarheid oor Afrikaans en die vestiging van ’n soomlose Afrikaans.