Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Skryfsake | Writing matters

Andries Bezuidenhout: Hoe maak ’n mens tyd om te skryf?


Andries Bezuidenhout - 2010-02-11

Ek weet nie. Ek kry heeltemal te min tyd vir skryf. Ek skat vir voltydse skrywers wat hul brood met net hul woorde verdien, is dit ’n meer filosofiese vraag oor dinge soos inspirasie. Vir my is dit ’n praktiese kwessie van tyd inruim tussen navorsing, akademiese skryfwerk, musiek en skilder. In die verlede het ek happe tyd ingeruim deur verlof te neem en na ons huis in Trompsburg toe te gaan. Maar daar is ’n iesegrimmige tuin wat hande uitruk, wispelturige krane weens swak munisipale dienste, en verstopte dreine wat ’n mens van die rekenaar af weghou. Laat in die nag, as jy net die bure se windpomp hoor kraak, kom dinge egter aan die gang.

Die vaste inleweringsdatums van ’n kursus in kreatiewe skryfkunde het my gehelp om my benadering te verander. Ek moes leer om stukkies tyd te steel om aan gedigte te skaaf, veral in die aande. Dit het van my ’n selfsugtige mens gemaak en vriendskappe gekos. Vir inspirasie reis ek, sakboeke en penne in my heupsak. Ek kon nog nie leer skryf terwyl ek bestuur nie (’n vriendin van my kan teen 140 km/h op die Ben Schoeman-snelweg haar maskara en lipstiffie aansit sonder om ’n ongeluk te maak), so ek hou gereeld langs ’n grondpad stil om aantekeninge te maak. Of ek gaan sit in een of ander dorpsmuseum. Gelukkig neem my navorsing my na wonderlike plekke toe, soos myne en fabrieke – plekke wat ek andersins nooit sou besoek het nie, op paaie wat ek nooit sou gery het nie. Dit maak dat ’n mens nie anders kán as om te skryf nie. Hou ’n mens ooit op skryf? Die vraag gaan seker oor die daad van woorde op papier of hardeskyf (hardeskryf?) neersit en later na hulle toe terugkeer om met hulle te stoei.

 

<< Terug na die VraNet-blad <<