Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Poësie

SkryfNet XXIII: Lina Spies se tweede verslag


Lina Spies - 2010-02-10

Die Sanlam/LitNet Aanlynskryfskool: SkryfNet XXIII - Poësie
Tweede verslag deur Lina Spies van:

Adri Swart: "Afgedwaalde" en "Kliptuin"
Bibi Slippers: "Tweede maal tropies" en "Krisis"
Elizabeth Kendall: "Nokturne" en "Herlewing"
Elmarie Viljoen: "Vryevers" en "Hondelewe"
Hendrik Botha: "Grafskrif" en "Donor"


Adri Swart: "Afgedwaalde" en "Kliptuin"

Afgedwaalde

In my vorige verslag het ek in besonderhede ingegaan op jou twee gedigte “Gestenig” en “Verlange”. Ek het nou weer my kommentaar daarop herlees en ek vrees ek moet presies dieselfde sê oor “Afgedwaalde” as wat ek oor “Gestenig” gesê het. Ek haal myself aan: “die beeldspraak (…) is verwarrend; die beelde sluit nie by mekaar aan nie.” Die Engelse begrip vir ’n aanwending van metafore
wat mekaar weerspreek, is “mixed metaphor”. Die gedig “Afgedwaalde” begin met ’n vals stelling, “selfs die voëls slaap …” Dan blyk dit dat dit nag is en voëls slaap in die nag en begin sing as die dag breek. Die poësie moet darem nie dinge sê wat so in botsing met die werklikheid is nie. Dit blyk dat die spreker in die vers wakker lê en probeer slaap deur “skape te tel” – ’n ou raadgewing om slaaploosheid te oorkom en in te sluimer. Maar dan word die skape sterre, en omdat ’n “ster verskiet”, raak jou “somme deurmekaar” en jy moet van vooraf begin tel. In die slotstrofe is die geliefde “my lam” wat êrens ’n “skaap slag” en die versugting van die slapelose “ek” ontlok dat hy die “wolle” oor haar oë moet trek.

Ek verbaas my dat jy nie self die totale teenstrydigheid kan sien in ’n “lam” wat ’n “skaap slag” nie! Jou taalgebruik is in meer as een opsig pynlik om te lees. Dit is, soos ek in my eerste verslag gesê het, om mee te begin retories. In Afrikaans tel ons al van toeka af skape as ons nie kan slaap nie, en na die geliefde is al male sonder tal in die Afrikaanse poësie deur die vroulike ek-spreker as “my lam” verwys. (Ek het dit self in ’n gedig in my eerstelingbundel, Digby Vergenoeg, in 1971 gedoen.) Dit het ’n verskynsel in Afrikaans geword om te vloek of Engelse woorde klakkeloos te gebruik. Dit spreek van niks anders as ’n gebrek aan woordeskat nie. Watter trefkrag het die woord “twee-seater” (kon gerus maar heeltemal in Engels daar gestaan het) wat boonop na die hemelruim vlieg? En wat is die funksie van “deurmekaar kom hel” behalwe om krag te verleen aan ’n ervaring wat jy nie in staat is om kragtig te verwoord nie?

Ek weet ek spreek my nou baie sterk uit, Adri. In my eerste verslag was ek baie diskreet en versigtig om nie seer te maak nie, maar nou moet ek eerlik wees. Jy neem jou toevlug tot retorika, tot ’n gekontamineerde Afrikaans-Engelse woord en ’n kragwoord (“hel” is nou ook nie so kragtig nie; elke Afrikaanstalige sê dit een of ander tyd sonder om te blik of te bloos) uit magteloosheid. Jou woordeskat is beperk. Poësie is die kuns van die woord; dis nie belydenis nie. Dit gaan by jou uitsluitend oor wat jy bely en nie hoe jy dit doen nie. Ek het nou die punt bereik waar ek in alle eerlikheid aan jou moet sê dat ek dink jy skryf vir terapie en nie omdat jy ’n gawe het vir die digkuns nie. Daarom bly jy steek by dieselfde tema.

Kliptuin

Die gedig slaag nie en my kritiek op “Afgedwaalde” is ook van toepassing op hierdie poging.

Adri moet ernstig nadink waarom sy probeer dig. Die essensiële vraag is of sy nie sonder die poësie kan lewe nie en of dit haar daartoe lei om elke dag ’n gedig te lees of minstens ’n paar keer elke week.


 

Bibi Slippers: "Tweede maal tropies" en "Krisis"

Tweede maal tropies

Die baie moeite wat ek met my eerste verslag gedoen het, is deur jou dubbel en dwars beloon. Hier het nou ’n wonderwerk gebeur. Jy skryf kennelik nie net vir terapie nie, maar omdat jy woordgevoelig is. Dit lyk vir my onnodig om dit vir jou te sê, want ek dink jy weet dit, maar ek doen dit tog: in die kreatiewe proses gryp ’n emosionele ervaring ’n digter aan; dit is die vertrekpunt, maar dan neem die verwoording oor en word die ervaring ondergeskik aan die woord. Die digter onderwerp hom aan die oppergesag van die woord en ontsê die ervaring sy aanvanklike oorheersing. Die Amerikaanse digter Robert Frost het die verloop van die kreatiewe proses perfek weergegee: “A poem begins with a lump in the throat; a home-sickness or a love-sickness. It is the reaching out toward expression; an effort to find fulfilment. A complete poem is one where an emotion has found its thought and the thought has found the words.” Dit het jy uitstekend reggekry in hierdie gedig. Frost gebruik “home-sickness” en “love-sickness” natuurlik metafories vir enige sterk emosie. Dit is nou regtig verrassend toevallig dat “Tweede maal tropies” letterlik oor ’n “home-sickness” en ’n “love-sickness” handel. Verrassende sinchronisering van twee gedigte!

Ek het net twee klein puntjies van “kritiek”: jy kan maar die woord "waatlemoen” terugbring in die sterk reël wat jy nou geskryf het: “hartseer groen hopies ruik na pienk sap en pitte waatlemoen”. Dan is ons nou deesdae besig om alles te “los” in plaas van te “laat”. Die boodskap op die meeste antwoordapparate lui: “Los asseblief vir my ’n boodskap.” Ek weet mens moet die mag van die volksmond erken en dit aanvaar en ek het myself al hoor sê dat iemand vir my iets moet “los”. Maar dit is nog steeds nie goeie taalgebruik nie, dus stel ek die volgende wysiging ook voor: “die stuk storie wat moes bly vir laaste” (jy vind dalk ’n beter oplossing).

Die slot is uitstekend! Jy het gaan leen by Opperman se beroemde liefdesgedig “Sproeireën” en daaraan jou eie dimensie gegee. Dit is wat ’n digter moet doen; nie klakkeloos oorneem van ’n ander digter nie, maar die ander digter laat saampraat in sy teks. En nou is dit so dat Opperman se gedig boonop ook in die tropiese KwaZulu-Natal se nartjieboorde tussen twee geliefdes afspeel. Dit is ’n vonds waarmee ek jou moet gelukwens.

Krisis

Dit is ook nou ’n veel beter gedig as die eerste versie. Dit is veel meer afgestem op die een tema – die krisis wat deur aardverwarming veroorsaak word – en vorm dus nou ’n veel sterker eenheid. Die metafore vir wat gebeur wanneer dit op hierdie aarde al hoe warmer word, is treffend, behalwe dat ek nie seker is van die aarde wat sy “voorkop” op ’n “plooi trek” nie? Waarvan is dit presies die metafoor? Verder: as die “son verstik aan swaar rooi stof”, beteken dit dat hy verdwyn; kan die hemelkoepel dan nog “blou” wees? Om die son te laat “aftree” is vals beeldspraak; jy kan hom liewer laat oorweeg om “vir altyd onder te gaan”. Jy gee ’n baie diepsinnige verklaring aan “walkabout”. Volgens my Oxford Concise Dictionary beteken “to walk about” net “to stroll”. Bosman en Van der Merwe gee as vertaling van “walk about” (twee woorde): “rondloop”, “stap”, “slenter” “drentel”. Ek het my tot ’n baie slim jong man (let wel: hy is jonk) gewend en gevra of hy weet wat “walkabout” beteken. Sy antwoord lui: “Ek dink die Aussies gebruik dit in die sin van rondreis of toer.” Oortuig my dat die leser – en ’n digter moet sy leser nóg onderskat nóg oorskat – die metaforiese betekenis wat jy daaraan heg, gaan verstaan. Engels is ’n ryk, sterk taal, en waar dit ’n ander taal indring, is dit meesal ’n virus in plaas van ’n noodsaak en dus ’n verryking. Waarom skep jy nie self woorde om die begrip van ’n paleontologiese ontdekkingsreis weer te gee nie? Ek sou ’n oplossing kon vind, maar jy moet dit liewer – as ek jou oortuig het – self vind. Ek het “paleontologie” in die HAT nageslaan en my kop sing van die wonderlike moontlikhede wat dié woord bied.

Jou verse vir die tweede ronde van die skryfkursus het my plesier verskaf. Doe zo voort!


 

Elizabeth Kendall: "Nokturne" en "Herlewing"

Beste Elizabeth

Ek waardeer jou vriendelike briefie aan my en Andries baie. Ek is natuurlik veral bly dat jy die verslae insiggewend en leersaam vind. Van my eie skryfgeen is ek van vroeg in my lewe bewus, want woordvaardigheid loop sterk in die Spies-familie. My wonderlike, onvergeetlike pa was ’n hartstogtelike poësieliefhebber en het van kleins af vir ons drie dogters gedigte voorgelees. En toe het ek aan die Universiteit van Stellenbosch my mentor in DJ Opperman gevind en ernstig begin dig. Hoe kan ek dan anders as om jong aspirantdigters na die beste van my vermoë te probeer help?

’n Besliste vooruitgang openbaar hom in die gedig “Herlewing”, jou variant van “Vir Chris”. Die nuwe vers, “Nokturne”, is ritmies mooi, alhoewel ek ernstige kritiek het op die taal van die gedig. Hier volg my kommentaar.

Herlewing

“toe niks meer nêrens op ’n plek wou pas”: Ons práát wel so (onder andere is dit die spreekwyse van Verna Vels se “liewe Heksie”, maar Blommie korrigeer haar onmiddellik), maar dit is sekerlik nie volwasse taalgebruik nie en pas nie in ’n liefdesgedig nie. Die Afrikaanse dubbele ontkenning is veral vir digters baie lastig (mens leer later allerhande ompaaie daarom heen), maar ons moet tog maar die tweede nie meesal behou: “toe niks meer êrens op ’n plek wou pas nie”. Laat die swak slotreël van die eerste strofe weg; dis onnodig.

Die swakhede in die gedig lê in die struktuur. Waarom spring jy nou vanaf strofe 1 na die liefdesbelewenis? En in die natuur reën dit tog eers voordat die graan geil staan.

Toe het die reën gekom
en die aardkors gedrenk
tot by die droesem:
koring en gars staan blinkvet in die aar
daar’s komyn en spelt tot wie weet waar
en uit die wingerd, pers en groen,
word kan en kruik
tot teen die rand gevul.

En in die vleie
vlam vuurpyle baldadig bly
waarlangs ons sagte spore loop.     

Dit is iets wat ek na die voorbeeld van Opperman byna nooit doen nie: ’n gedig vir ’n beginner oorskryf, maar ek het dit in die geval van hierdie gedig van jou nodig geag. Jy het nog nie ’n eie stem gevind nie en dit kan jy alleen doen as jy jou woordeskat uitbrei en met jou eie oog – nie ’n ander ouer digter s’n of die oog van die retorika nie – begin dink. Moet nooit vir jou leser verduidelik wat jy gesuggereer het nie; die poësie leef by grasie van suggestie. Laat die vleie dus vleie bly en maak hulle nie “vol hoop” nie. En weerhou jou daarvan om die liefde vir jou medewandelaar al in die tweede strofe uit te spreek. Dié strofe is onnodig en cliché-agtig. Die slotstrofe suggereer die liefde wat weer tussen die “ek” en “jy” “opgevlam” het. Daar is geen uitweidings voor nodig nie.

Die vraag kom by my op of die jong digters woordeboeke raadpleeg. Die groot Amerikaanse digteres Emily Dickinson het gesê dat haar woordeboek haar “closest companion” was. As jy droesem nageslaan het, sou jy geweet het dat jy die woord verkeerd verstaan en dus verkeerd gebruik het: HAT verklaar droesem: “Afsaksel, moer, bv van wyn: Hier’s net droesem oor in die bottel; gooi dit weg. Veral fig gebruik: ’n Bitter beker tot die droesem ledig.” Droesem kan dus nie dor wees nie. Jy sal die taal van die Bybel in die laaste voorbeeldsin van die HAT by droesem herken. Pasop vir hierdie soort woorde waaraan ons binne ’n sekere konteks gewoond geraak het, maar die betekenis nie meer heeltemal ken nie.

Nokturne

Hierdie gedig is weer ’n voorbeeld van die uitdrukking van een van die poësie se groot temas, eensaamheid, in literêre taal. Die gedig is “romanties” in die slegste sin van die woord; dit word “mooiskrywery” deur van abstrakte woorde gebruik te maak; woorde wat die figuurlike betekenis al so dikwels in Afrikaans uitgedruk het dat dit nie meer konkreet kan funksioneer nie: “wit lig”, “pikswart nag” (dit is een van die moeilikste dinge in ’n taal om ’n oorspronklike kleuradjektief te vind vir byvoorbeeld “pikswart”, “diepblou”, “grasgroen”), “sag asemhaal”, “skadutonge teen die mure lek”, “bome buig en wieg”, “ysige winterwind” (daar is nie so iets soos “digterlike vryheid” nie; waar in Afrikaans die byvoeglike naamwoord voor die selfstandige naamwoord ’n e kry, laat ’n mens dit nie weg nie, net so min as wat jy die e byvoeg as dit nie normaal daar hoort nie; dus “ysige wind” en byvoorbeeld “blou hemel”), “jou hande yskoud”, “wasem teen die ruit”, “bont ballonne”, “mure” wat “stom luister”, “swygend in die duister”.

Ek kan ’n aspirantdigter help, maar die één ding wat ek hom/haar nie kan leer nie is om sy/haar taalvermoë te versterk. Soms is dit vir iemand “wat gedigte skryf” onmoontlik om te doen en dan is so ’n persoon nie werklik ’n digter nie. Poësie is en bly die kuns van die woord; niemand sal my ooit kan oortuig dat dit iets anders kan wees nie. Jy moet baie poësie lees! Jou “vlaktes wit papier” het my laat dink aan een van DJ Opperman se grootse gedigte – die vers oor die ouddigter (nie noodwendig oud in jare nie, maar “uitgeskryf”) wat nie meer die inspirasie van vroeër kry nie en voor sy “kalahari’s wit papier” sit (“Oud-Digter”). Dít is oorspronklikheid; dít is grootheid. Opperman gebruik die beeld van die grootwildjagter vir die digter, maar verklaar nêrens sy beeld te eksplisiet nie. Die digterskap word wel gesuggereer deurdat die ek-spreker net enkele reëls wat nie uitgroei tot volle gedigte nie, ontvang:

Die panne is nie opgedroog. Die spoor
van die grootwild het ek ’n rukkie net verloor
en leef intussen van die enkel reël
wat springend ritsel om die oog en oor.

Hier sê Opperman in ’n sublieme gedig wat ek in my kommentaar vir jong digters sê: die digter het sy oog nodig, maar ook sy oor. Hy moet deur sy oog dink en hy moet terselfdertyd ingestel wees op die akoestiese aard van die woord; dit wil sê die digter moet sy oog en sy oor sintuiglik opskerp. Ek laat die tweede strofe van “Oud-Digter” weg en siteer die derde strofe waarmee die gedig afsluit. Die ouddigter wat sy inspirasie kwyt is, probeer dit kunsmatig soos ’n vuurtjie “stook” en word “dol” daarvan soos van “dagga rook”:

 Doller … dan sterker as die jongeres gespier,
sien ek wat hulle nie kan sien: die koel rivier,
die gemsbok en reënvoël … opgeefselend

oor my kalahari’s wit papier.  


 

Elmarie Viljoen: "Vryevers" en "Hondelewe"

Hondelewe

Die eerste twee reëls van die gedig is treffend en skep verwagtings by die leser waaraan nie voldoen word nie. Strofe 2 se twee slotreëls klop nie met die twee beginreëls nie: dié beginreëls skep die indruk van ’n ou verswakte hond wie se lewenseinde onkeerbaar nader en dan lê hy aan die slot in sy eie bloed, wat suggereer dat hy ernstig beseer is. Geen mens of dier raak sommer so van niks aan die bloei nie en dan boonop so ’n ernstige bloeding dat die hond “selfs daarin wakker word”.

Moet nooit idiome of vaste uitdrukkings uit die alledaagse taalgebruik aanwend waaruit daar net nie meer ’n poëtiese vonk te haal is nie: die “onus rus” op iemand wanneer dit oor ’n formele saak gaan, nie oor die uiters moeilike taak om ’n geliefde dier aan die slaap te laat maak nie. Die gevoelswaarde van die woordgebruik in hierdie gedig is vals, want dit het nie die drakrag vir die emosionele inhoud wat die twee aanvangsreëls suggereer nie. Naas die “onus wat op die baas rus” is die hond sy “blaf en byt” kwyt en in die slotreël “kry elke hond sy dag”, met ander woorde die dag kom dat die hond se baas ook sal doodgaan. Hierdie laaste idioom het ’n geselstrant: “elkeen kry sy dag van geluk, teëspoed of vergelding …” Dit word, soos die HAT te kenne gee, ook dikwels lig-spottend gebruik.

Die tema leen hom nie tot ’n speelse vers nie en dit is wat hierdie gedig – ek hoop teen die digter se bedoeling in – word. Geen goeie digter – ook al skryf hy/sy vrye verse – gee ooit die rym heeltemal prys nie, maar rymdwang (geforseerde rym wat jou woorde laat gebruik wat nie inpas by die aard van die woordgebruik in die res van die gedig nie) is afkeurenswaardig. Die digter staan onder dwang van die rym in hierdie gedig.

Vryevers

Dis nie ’n swak vers nie, maar wel ’n voortydige vers. Eers as ’n jong digter by ’n bundel kom, kan sy/hy sê wat die aard van haar/sy verse is; het sy/hy die insig ontwikkel oor hoe sy/hy skryf en wil skryf; met ander woorde mens kan nie voordat jy regtig ’n substansiële bydrae tot die poësietradisie waarbinne jy skryf, gelewer het, ’n credo-gedig skryf nie. As ’n digter ’n “vrye vers” skryf, kan sy/hy darem nie volstaan met die titel “Vryevers” nie. Die gedig het ’n sekere bekoring, maar wat die digter regtig oor die poësie sê, is onduidelik. Sy romantiseer die swewende, digterlike woord en sluit af met twee reëls wat ’n totale wanklank is; die nugter konstatering: “eindelik publiseerbare/ materiaal”: nee, nee, nee. Die tweede bydrae van Elmarie Viljoen is nie naastenby op die peil van haar eerste bydrae nie. Ek hoop my nogal skerp uitsprake op die twee jongste verse prikkel haar sin vir selfkritiek.


 

Hendrik Botha: "Grafskrif" en "Donor"

Donor

Dit verheug my dat jy aan jou verse gewerk het. Daar is dan ook sprake van besliste verbeteringe. Die vervanging van die metafoor van die hart wat “verby sy rakleeftyd is” met “my hart op veertig by sy bruikbaarheid verby” is egter nie ’n verbetering nie. ’n Hart is baie dinge, maar “bruikbaar” is dit seker nie. My mentor Opperman het nooit vir ’n jong digter iets waarop hy kritiek gehad het, oorgeskryf nie en dit was nog altyd vir my ook ’n vasstaande reël, maar nou gaan ek dit oortree. Wat van: “my hart wat klop verby sy vervaldatum”? Jy mag dit met plesier kry as jy wil.

Ons skryf en praat Afrikaans, helaas, al hoe meer anglisisties. Daarom “beantwoord” ons nie meer ’n telefoon nie, maar na voorbeeld van Engels “antwoord” ons dit net. Gaan kyk maar in die HAT: “Iemand moeite, verdriet bespaar”. Streng gesproke is die verlede tyd “het gespaar”, soos in geld “gespaar” vir ’n nuwe motor, en gee die HAT nie eens “gespaar” se betekenis as ’n selfstandige woord nie. Wil jy tog nie maar asseblief dat die “laaste prentjie” – nog altyd regtig net te vaag – die jy van die gedig “bespaar bly” nie?

Grafskrif

Dit het nou ’n sterk gedig geword met ’n tersaaklike aanhaling. Ek gaan my in beginsel aan Opperman se voorbeeld hou en nie jou gedig vir jou oordig nie, maar dit tog vir jou oortik – met enkele wysiginge. Dan kan jy sien hoe ’n gedig wen deur die tipografie en deur nog groter konsentrasie met die weglaat van onnodige woorde. Jou verse is netjies getik, maar met die sitaat nader aan die titel lyk dit tipografies ook reg. Engels is ’n ryk en magtige taal en juis omrede van sy globale oorheersing is hy vir Afrikaans gevaarlik. Waar Engels ’n ander taal binnedring, is dit ’n virus. ’n Mens lees in Afrikaans tussen die reëls; beslis nie tussen die “lyne” nie. Let daarop hoe in my versie die idioom “van meet af aan” nuwe betekenis kry deurdat jy dit nou ook verletterlik (met my weglatings): jou jas is aan die begin reeds nie na die maat van jou menswees gesny nie; dws verkeerd gemeet. Om ’n idioom die teenoorgestelde te laat doen as wat dit gewoonlik doen, naamlik om in plaas van die letterlike die figuurlike te laat uitdruk, eerder die figuurlike te verletterlik, blaas jy dit nuwe lewe in.

Grafskrif

there are worse things than being alone but it often takes decades to realise this and most often when you do, it is too late, and there’s nothing worse than too late (Charles Bukowski)

Na byna dertig jaar, skoolgetuigskrif
in die hand wat nou tussen die reëls lees
dat jy nie tot jou reg kom binne spanverband nie,

nie werklik bied wat konvensie vra nie:
individualis, dromer, rondloper,
heeltyd hunkerend na waar meer asem is;

dié wete gryp jou aan die keel
dat die jas wat jy so lank gedra het
van meet af aan nie kon pas nie

maar soos Bukowski sou dit ’n leeftyd duur
voordat jy te laat besef het
die vrees vir alleenwees word hopeloos oorskat

Let op elke leesteken wat ek in my herskrywing gebruik het.

Gaan voort met dig. Die talent is onmiskenbaar daar.


 

Terug na SkryfNet XXIII - Poësie