Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Poësie

SkryfNet XXIII: Andries Bezuidenhout se tweede verslag


Andries ''Roof'' Bezuidenhout - 2010-02-10

Die Sanlam/LitNet Aanlynskryfskool: SkryfNet XXIII - Poësie
Tweede verslag deur Andries Bezuidenhout van:

Adri Swart: "Afgedwaalde" en "Kliptuin"
Bibi Slippers: "Tweede maal tropies" en "Krisis"
Elizabeth Kendall: "Nokturne" en "Herlewing"
Elmarie Viljoen: "Vryevers" en "Hondelewe"
Hendrik Botha: "Grafskrif" en "Donor"

 

’n Paar algemene opmerkings voor ek spesifieke kommentaar op elkeen se nuwe weergawes van hul gedigte lewer. Verlede keer het ek na Nijhoff se fluit verwys. Hierdie keer gaan dit oor “stem”. Toe ek vir ’n kreatieweskryfkundekursus ingeskryf het, was iemand wat my gedigte baie goed ken se raad aan my: “Hou onmiddellik op as jy voel jy verloor jou stem.” Sedertdien wonder ek baie oor ’n mens se “stem” (“voice” in Engels, of dalk selfs “tone”) as digter.

As ek nou dink aan die nuwe generasie digters wat die afgelope tyd bekroon is, het elkeen ’n onmiskenbare stem. As ’n mens byvoorbeeld ’n gedig van Danie Marais, Loftus Marais of Ronelda Kamfer sonder outeurserkenning sien, gaan jy waarskynlik vinnig kan agterkom watter een van hulle die gedig geskryf het. Alhoewel daar sterk invloede is, soos byvoorbeeld Raymond Carver vir Danie Marais, Billy Collins vir Loftus Marais en Charles Bukowski vir Ronelda Kamfer (ek noem nou net een van vele by elkeen, ter illustrasie), het elkeen van hulle tog ’n sterk individuele stem. Dieselfde geld vir van die meer gevestigde digters, soos Breyten Breytenbach en Antjie Krog, alhoewel ek Antjie Krog al hoor sê het (of dit dalk iewers gelees het) dat sy bekommerd word as sy te veel soos haarself begin klink.

’n Unieke stem kan nageboots word. Hoeveel van ons het nie al soos Breyten Breytenbach probeer skryf nie, meestal heel onsuksesvol! Soms kan die naboots van digterlike stemme vir parodie ingespan word, soos daardie klassieke voorbeeld van mevrou Viljee wat met haar twee honde langs die see loop. ’n Meer onlangse voorbeeld is Gilbert Gibson se gedig oor Gert Vlok Nel in sy nuwe digbundel, Oogensiklopedie (“huis 16” op bl 51). Dis hartseer en vol deernis.

Dus, ’n vraag aan al vyf digters: Hoe klink jou digterlike stem? En wat maak dat dit jou stem is en niemand anders s’n nie?

Ek het nie duidelike riglyne of antwoorde om hierop te gee nie. Almal gryp gewoonlik eerste na Harold Bloom se argument oor die “anxiety of influence” en dat jonger digters hul rolmodelle doodmaak deur hulle te mislees. Ek weet nie of hierdie psigoanalitiese benadering dit heeltemal vir my doen nie. Ek het in Desember Jay Parini se boek Why poetry matters gelees en sy benadering gaan meer daaroor dat ’n mens as verskillende karakters moet probeer skryf en sodoende jou eie stem vind. Jy eksperimenteer met jou verskillende stemme tot jy een vind wat soos jy klink.

Hier is my kommentaar op julle nuwe sarsies. Dié keer is my benadering minder algemeen en baie meer spesifiek, dalk té spesifiek. Ek het probeer om duidelik te maak hoe ek oor die skryf- en skaafproses dink. Gebruik gerus waarvan julle hou en ignoreer dit andersins.


 

Adri Swart: "Afgedwaalde" en "Kliptuin"

Adri, albei jou gedigte werk beter as die voriges. Maar ek moet bieg dat ek so half teleurgesteld was toe ek sien jy’t besluit om van die beelde in “Gestenig”, jou eerste gedig uit die vorige bondel, te laat vaar. Ek het baie gehou van die idee van ’n ring wat vir ’n goue kalf gesmelt word. Dis een van jou Bybelse beelde wat gewerk het. Ek hoop nie jy laat vaar dit heeltemal nie. Jy kry dit reg om ou simbole op ’n nuwe manier in te span om iets wrang daarmee te doen. Dit lyk vir my of jou gedigte meer gefokus is op enkele beelde. Jy is ook baie meer ekonomies met woorde.

My kommentaar gaan hierdie keer meer spesifiek wees. Dit gaan eerder oor skaaf as oor om die hele idee te ondersoek. Ek gaan eerste kommentaar lewer op “Kliptuin”, wat jy in die plek van “Gestenig” vir ons gestuur het.

Kliptuin

jy stapel ’n hoop klippe
en dit word ’n rotstuin:
in die grond ’n afdruk van jou duim
ons plant opgeskote plantjies
en jy soen my
natgeswete lip

en nou grou ek ringloos
met ouer vingers
tussen klippe wat
eens ons rotstuin was
met ’n natgeswete lip
soekend na jou vat.

As ’n gedig oor verlies werk dit. Ek wil ’n paar voorstelle maak wat dit dalk selfs nog meer gedronge sal maak.

Die eerste ding waaroor ek wonder, is die gebruik van “hoop” en “stapel”. Hulle kan dieselfde betekenis hê, alhoewel "stapel" menslike intervensie aandui. ’n Stapel klippe is seker meer ordelik as ’n hoop klippe. Hier’s een voorstel:

van ’n hoop stapel jy klippe –
’n rotstuin …

Die “en dit word” verbreek die vloei. Ek wonder nou of ’n mens nie met “hoop” se ander betekenis kan speel nie. Dalk só iets:

uit hoop stapel jy klippe –
’n rotstuin …

Soos altyd, net ’n voorstel. Dalk is dit ’n bietjie te presieus. My idee is dat die begin van ’n verhouding tog maar op hoop gebou word, net soveel as wat dit oor geloof (vir sommige mense, ten minste) en liefde gaan.

Ek hou baie van:

in die grond ’n afdruk van jou duim …

Ek hou van hoe dit ’n klein merk is ná die groot daad van klippe pak. ’n Klein voorstel om ’n komma in te voeg, weer ter wille van vloei:

in die grond, ’n afdruk van jou duim …

Oor die volgende reël is ek onseker. Ek neem aan die “opgeskote” is ’n verwysing na kinders. As jy dit bloot “plantjies” maak, sal die verwysing te obskuur wees. Ek dink dus tog “opgeskote” werk, juis omdat dit na plantjies verwys en nie direk na kinders nie. Die twee “plante” van “plant” en “plantjies” so naby aan mekaar hinder my, al kan ’n mens seker ’n argument vir ’n singende herhaling hier maak. Hoe klink die volgende?

saam bemes ons opgeskote plantjies …

Die “saam” is dalk maar net daar ter wille van die ritme. Of selfs net:

ons bemes opgeskote plantjies …

Oor die laaste twee reëls van die eerste vers voel ek die “en” hoef nie daar te wees nie. Jy het reeds drie ens in die gedig soos dit staan. Ek wonder ook oor die herhaling van “natgeswete bolip”. Dalk voel die herhaling van iets so letterlik verkeerd. Wat van net die volgende?

jy soen die sweet op my lip …

Ek hou baie van die eerste twee reëls van die tweede strofe. Ek sou net die “en” skuif na die tweede reël toe, ter wille van die ritme (dit sing so half), en om ’n té obvious “en” uit die weg te ruim:

nou grou ek ringloos
en met ouer vingers …

In die volgende twee reëls wonder ek oor die herhaling van “klippe” en “rotstuin”. Dit gee jou die geleentheid om met die woorde te speel, asook die moontlikheid van die enkelvoud van “klippe” om met “lip” te rym. Hier’s my voorstel:

tussen klip wat eens rotstuin was …

’n Mens sou dit ook so kon doen:

tussen klip wat eens
rotstuin was …

Die rotstuin in so ’n kort reël praat dan direk met die ander een.

Ek hou baie van jou laaste reël. Ek hou van die feit dat die lip na sy "vat" soek, en nie ’n ander lip nie. My voorstel dus:

my bolip se sweet
soekend na jou vat.

Die “bolip se sweet” is maar ter wille van die ritme en om ’n bietjie alliterasie in te bou.

Die algehele resultaat sou iets soos die volgende wees:

uit hoop stapel jy klippe –
’n rotstuin
in die grond, ’n afdruk van jou duim
saam bemes ons opgeskote plantjies
jy soen die sweet op my lip

nou grou ek ringloos
en met ouer vingers
tussen klip wat eens rotstuin was
my bolip se sweet
soekend na jou vat.

Probeer om dit ’n paar keer hardop te lees, selfs vir ’n gehoor. Dit laat ’n mens heeltemal anders na jou gedigte luister. Ek wonder selfs nou oor die “soekend” aan die einde. Is daar nie ’n ander, minder voor die hand liggende woord wat beter sal werk nie?

Die volgende gedig is “Afgedwaalde”, ook een oor verlies en die einde van ’n verhouding:

Afgedwaalde

selfs die voëls slaap maar
laat my die sterre tel
soos skape in die middel van die nag
(as een verskiet)
en iemand vlieg ’n twee-seater wat
net my somme deurmekaar kom hel
sodat ek weer van voor af moet
minus en die afgedwaalde
plus

in my voet wat slaap
(gelukkige hy)
maak sterretjies flikkerend nes
soek dan die afwesigheid
in die holte van ons bed

waar slag jy vanaand ’n skaap
my lam?
trek maar die wolle
oor my oë
voordat ek jou afdwaal
tussen al die sterre
uitkam.

Ek hou van hoe jy met die skape en slaap speel, die gelukkige voet wat slaap, en die speel met “skaap”, “lam” en “vang”. Ek hou baie van die “uitkam” waarmee die gedig eindig. Ook van hoe jy enjambement gebruik om woorde te kontrasteer en beklemtoon – ek verwys na die “minus” en die “plus” en die klem op die “uitkam” aan die einde. Jy gebruik weer bekende simbole, maar ek voel jy werk met hulle op ’n nuwe manier. Hier en daar sou ek nog verder soek vir ander uitdrukkings, soos by “sterre tel/ soos skape”, “sterretjies flikkerend”, “die middel van die nag” – hulle is al te veel gebruik.

Dalk moet ek meer spesifieke voorstelle maak.

Die eerste strofe se

selfs die voëls slaap maar
laat my die sterre tel
soos skape in die middel van die nag …

kan sterker en vreemder begin. Hier is my voorstel:

middernag, alles slaap –
vensters, mure, selfs die voëls
net ek wat lê en skaapsterre tel …

Of dalk:

nanag, alles slaap nog –
vensters, mure, selfs die hoenders
net ek wat lê, skaapsterre tel …

Verder sou ek nie aan die eerste vers wou torring nie. My laaste voorstel sou bloot wees om “sterretjies flikkerend” met iets soos “verloopte sterre” of “verdwaalde sterre” te vervang. Die “afwesigheid” voel ook vir my te direk. Wat van “lugleegte” of “vakuum”, of iets soos “leë ruimte”?

Met ’n paar klein verstellings ter wille van metrum sou die gedig dan só lyk:

middernag, alles slaap –
vensters, mure, selfs die voëls
net ek wat lê, skaapsterre tel
(as een verskiet)
en iemand vlieg ’n twee-seater wat
my somme deurmekaar kom hel
sodat ek weer van voor af moet
minus en die afgedwaalde
plus

in my voet wat slaap
(gelukkige hy)
maak verloopte sterre nes
soek dan leë ruimte op
in die holte van ons bed

waar slag jy vanaand jou skaap
my lam?
trek maar die wolle
oor my oë
voordat ek jou afdwaal
tussen al die sterre
uitkam.

Adri, ek is vrypostig met jou verse, want dit het my baie gehelp toe iemand op ’n slag dieselfde met myne gedoen het. Ek moet weer sê: dit gaan oor smaak, en smaak verskil uit die aard van die saak.


 

Bibi Slippers: "Tweede maal tropies" en "Krisis"

Bibi, ek hou sommer baie van hoe jy jou twee gedigte oorgeskryf het. Beide is baie sterker as die eerste weergawes, wat rééds met mooi beelde gewerk het. “Krisis” is baie meer gefokus. Dis heel duidelik en dit werk soos ’n bom. Soos met Adri, is my kommentaar dus baie meer spesifiek (en dalk selfs meer voorbarig) as verlede keer.

Eerste dan oor “Tweede maal tropies”. Ek plaas die gedig hier, want dis makliker om dit so te lees as om tussen vensters op jou rekenaar rond te moet spring (dis “vensters”, in plaas van “windows”, ter wille van taalpuriste).

Tweede maal tropies

Op pad terug van die mark af besef
ek wìl hier wees, by jou.
Ek pak ons oes op die tafel uit
verdeel my vertelling in hoofstukkies vrugte;
transponeer versigtig
na die vreemde toonaard
van jou tong: 

hierdie piesangs: die vallei naby Melmoth
as mens amper terug in Empangeni is;
hierdie papaja: ek klim kaalvoet die bure se boom,
die vrug val in die handdoek wat my boetie uitspan;
hierdie waatlemoen: my pa stoot die grassnyer voor hom uit –
hartseer groen hopies ruik na pienk sap en pitte;
hierdie spanspek: my ma maak planne vir grootskaalse maer word,
ons lag en eet dit saam met sjokolade;
hierdie mango: my maats en ek wat morsig deel,    
ek karring aan vesels verlang tussen my tande;
en dan
my pynappel: die stuk storie wat ek tot laaste los,
die half-blinde oë wat ek agtergelaat het,
sy mond met die nasmaak wat my middel-oor laat traan,
en my eensame reis na my tweede tropiese tuiste.

Ek sny en ons proe -
die sap is soet;
ons verteer my pynappel
en jy vorm spoeg-spoeg
die eerste sproeireën van my taal:

my nooi is in ’n nartjie
my skoonma
in spanspek.

Eers waarvan ek hou, en dan voorstelle.

Wat duidelik baie goed werk, is die manier waarop jy eienskappe van die vrugte gekoppel het aan insidente of persone uit jou eerste tropiese bestaan. Dit werk uitstekend.

Nou voorstelle. Hier gaan dit oor smaak, maar ek dink tog jou aanvanklike titel “Ek woon weer in die trope” het beter gewerk. Ek dink ek verkies dit omdat “weer” meer subtiel is as “Tweede maal”. Al verdere kommentaar wat ek het, is oor die slot. Dit werk beter as die eerste weergawe, want dis verder verwyder van jou as persoon. Dalk daarom selfs meer kragtig. Ek voel egter die gedeelte oor die skoonma vat dit te ver weg (alhoewel dit ’n stukkie humor is). Dalk maar omdat die gedig my so roer, sou my voorstel wees om die skoonma met haar spanspek te laat staan. Eindig met so iets:

my nooi is in
’n nartjie.

Of dalk:

my nooi
is in ’n nartjie.

Jy kan dit selfs tussen aanhalingstekens plaas.

Ook “Krisis” is ’n baie beter gedig. Ek hou steeds van hoe jy met inheemse Australiese mitologie werk. Hierdie keer het jy dit selfs dieper in die gedig ingebou. Dankie vir die voetnote om die terme te verduidelik. As die gedig in ’n bundel gepubliseer word, sou ek dit agterin lys (soos Carina Stander maak), maar sonder direkte voetnote in die teks van die gedig. ’n Mens moet seker aanneem dat jou gemiddelde Suid-Afrikaanse leser nie daarmee vertroud sal wees nie.

Ek wonder nou al vandat ek jou eerste weergawes gelees het oor die gebruik van inheemse Australiese kosmologie in poësie. Ek het in Melbourne voor ’n rak in ’n boekwinkel gestaan en na die versameling plaaslike poësie gekyk. Ek het nie geweet waar om te begin nie. Tot my skaamte strek my kennis daarvan so ver soos Banjo Patterson, deels ook maar net omdat ek navorsing in sy tuisdorp gedoen het (vreemd genoeg, ’n plek met die naam Orange – noudat ons oor vrugte praat; dis vernoem na Willem van Oranje).

Ek is nou jammer dat ek nie maar ’n paar versamelings Australiese digkuns gekoop het nie. Dalk was my kredietkaart te dun. Die punt wat ek wil maak, vir jou as Afrikaanse pionierdigter – iemand wat uit Australië skryf – is dat ’n mens ook met die bestaande Australiese poësie in gesprek sal moet tree. As jy daardie woorde ontgin ("walkabout", "dream time"), gaan jy dit selfs in Afrikaans op maniere moet doen wat Australiese digters nog nie gedoen het nie.

Laat ek dit meer positief probeer stel: ek sien ’n geleentheid. Die aantal Afrikaanssprekende mense wat nou in ander dele van die wêreld woon, kan ons digkuns net verryk, weens nuwe verwysingsvelde en landskappe, asook nuwe letterkundes waarmee hulle meer intiem in aanraking kom.

Terug by die gedig. Eers jou hersiene weergawe (ek het die voetnote uitgehaal):

Krisis

Yalkarra bring droogte na die leë land
en ek keer ’n glas water
op die mat voor my lessenaar om.
Ek verstar, verstaan wat
die nat vlek voorspel …

Die aardbol trek sy voorkop op ’n plooi
“Alles sal verander,” sug die see.
Vloedgolwe vrees en verwarring
spoel sewe soorte eko-vriendelike waspoeier
in die chaos van die gange in die supermark uit;

’n veldbrand woed in die vrieskas,
die ystydperk breek in die oond aan
en my netjiese romp word groen in die was
want my hippie-hemp
is toe nie kleurvas nie.

Nog ’n duisend-drie-honderd-vier-en-twintig spesies
kies die hasepad na Bullima,
twintig ton sand waai uit die woestyn,
die son verstik aan swaar rooi stof,
word vir ’n dag lank blou in die gesig,
en oorweeg dit om vir eens en altyd af te tree.

Die maan moet paai en sus:
“Shhhh,” sing haar stralekrans,
“Rus!  Rus!  Dalk voel jy môre beter
as jy vannag sag daaroor slaap?”

Ek betree die droomtyd,
en die wêreld word stadig wakker,
haal sirkulêr asem
en blaas dreun dreun dreun op die didgeridoo;
die ritmiese geratel van dinosourus-gebeentes
gee die pols aan vir ons dans
op my walkabout.

Dan vat ek vorm:
Kakkerlak.
In die naam van oorlewing
saam met iemand
wat my liefhet.

Nou ’n paar voorstelle. Dit gaan maar oor vloei en ritme. Hier en daar het ek gevoel jy gebruik te veel byvoeglike naamwoorde. Dis iets wat ek by een van my dosente geleer het. In gedigte verswak dit baie keer, eerder as wat dit die gedig sterker maak. ’n Mens moet hulle versigtig weeg.

Yalkarra bring droogte na die leë land.
Ek keer ’n glas water voor my lessenaar om,
versteen, want ’n nat vlek voorspel …

My voorstel vir “versteen” gaan maar oor om ’n vreemder woord te soek, want “verstar” klink ’n bietjie gebruik. Dit speel ook met die water-tema. Hier sou ek selfs oorweeg om “leë” voor “land” uit te haal.

Die strofe daarna:

Die aardbol trek sy voorkop op ’n plooi.
“Alles sal verander,” sug die see.
Sewe soorte waspoeier spoel eko-vriendelik
chaos en verwarring in die supermark se gange uit;

Ek sou oorweeg om die eerste reël uit te laat. Dis nie so sterk soos van die ander beelde nie.

Derde strofe:

veldbrand in die vrieskas,
ystydperk in die oond,
my netjiese romp word groen in die was
want my hippie-hemp
is toe nie kleurvas nie.

Vierde strofe:

Nog ’n duisend-drie-honderd-vier-en-twintig spesies
kies die hasepad na Bullima,
sand uit die woestyn, die son verstik aan stof,
oorweeg om af te tree, blou in die gesig.

Dalk snoei ek nou al die tekstuur uit. Ek het nie spesifieke voorstelle vir die volgende strofes nie. Probeer om dit hardop te lees en luister hoe dit vloei. Die gedig stuur op ’n lekker wrang slotsom af, dus moet die ritme dit ondersteun.


 

Elizabeth Kendall: "Nokturne" en "Herlewing"

Elizabeth, jy het een van jou gedigte oorgeskryf en die ander een laat vaar. Die hersiene gedig is ’n baie groot verbetering op die eerste weergawe. Ek wil jou tog aanmoedig om nie die tweede een van verlede keer (“Hartsake”) te laat vaar nie. Die idee van ’n hartkamer wat ’n plakkerskamp word, is besonders mooi. Ek weet Lina Spies was krities oor die beeld en dalk is ek net minder gevoelig as sy oor iets soos armoede, maar wat my van informele nedersettings opval, is hoe mooi mense hulle huise binne-in versier, ten spyte van nood. Ek is op ’n slag getref hoe baie ’n sinkplaathuis binne-in soos ’n tipiese Afrikaner-voorkamer gelyk het – sideboard en al!

Eers “Herlewing”. Hier is jou tweede weergawe:

Herlewing (’n Gedig vir Chris)

Jy het na my gekom op ’n dag
toe die garsland aan doodgaansiekte wou beswyk
toe die kruike leeg en koud en krakerig was
toe niks meer nêrens op ’n plek wou pas
toe alles halfmas hang.

Tog het die wind gedraai
en dans verdwaalde klanke nou
soos druppels tussen my en jou.

Koring en gars staan blinkvet in die aar
daar’s komyn en spelt tot wie-weet-waar
wyl reën oor dorre aardkors giet
en uit die wingerd, pers en groen
word kruik en kan
eens tot die droesem dor,
tot teen die rand gevul.

En in die vleie, vol van hoop,
vlam baldadig bly
vuurpyle in bloedrooi son gedoop
waarlangs ons met sagte spore loop.

Al algemene kommentaar wat ek oor “Herlewing” het, is dat te veel van die beelde vir my oor nog te gewoon klink. Ander werk weer ongelooflik goed. Ek hou veral van “kruike leeg en koud en krakerig”. Kan ek iets met die gedig probeer? Ek gaan dele bloot uitsny:

Herlewing
(vir Chris)

Jy het na my gekom toe die garsland
aan doodgaansiekte wou beswyk
toe die kruike leeg en koud en krakerig was.

Tog het die wind gedraai
en dans verdwaalde klanke nou
druppels tussen my en jou.

Koring en gars staan blinkvet in die aar
daar’s komyn en spelt tot wie-weet-waar
en uit die wingerd, pers en groen,

word kruik en kan
eens tot die droesem dor,
tot teen die rand gevul.

En in die vleie vlam baldadig bly
vuurpyle, in bloedrooi son gedoop,
waar ons met sagte spore loop.

Hoe’s daai? Ek dink dis ’n pragtige gedig. Ek beny vir Chris.

As ek nou verder krities móét wees, sou ek aan die metrum werk. Dit vloei nie heeltemal soos dit moet nie en ek is ook onseker oor die rym. Daar is soms paarrym, maar die patroon is nie konsekwent nie. Móét dit wees? Dalk tog, as ’n mens só met struktuur werk. Aan die ander kant, dalk kan ’n mens dit maar ’n bietjie lostorring, sodat dit nie soos ’n drilpeloton voete stamp nie. Dit gaan tog oor die oorvloed van liefde en ’n dans. Dis ’n liriese gedig wat moet sing. ’n Laaste opmerking: die laaste reël is nie die sterkste een in die gedig nie en ’n mens wil sterk eindig. Ter wille van die rym wou ek dit nie uithaal nie. Ek weet nie of die loop met “sagte spore” so goed werk nie. Is daar nie ander moontlikhede nie?

Nou die nuwe een, “Nokturne”:

Nokturne

my kersie brand
’n klein wit lig
teen die stilte van ’n pikswart nag
waar alles sag asemhaal
en wag

uit my vulpen se mond
rol dapper woorde
oor vlaktes wit papier
waar ek hier in vroeë-oggend sit
en kyk hoe skadutonge
skugter teen die mure lek

ons huis se krag is af
geen internet of helder lig
die yskas stil en dood
en net die veraf dreun
van motors in die straat
wat kom en gaan, van iewers vandaan

dis Juniemaand in Bronkhorstspruit
en deur die vensterruit
sien ek die bome buig en wieg
in ysig winterwind
(dis koud my kind)
onthou jy nog die ryp,
die turf, die mielielande op ons plaas,
jou hande yskoud voor jou mond
as ons soggens staan en stoom uitblaas,
die wasem teen die ruit

ons Ma se koffie-en-beskuit

gedagtes vlieg soos bont ballonne
in die lug
die mure luister stom,
swygend in die duister
wagtend vir ’n lig om aan te gaan
iewers, ver hier vandaan.

Ek hou van hoe die rym die gedig laat klink. Elizabeth, weer die kwessie van beelde wat nog nie dig genoeg is nie, wat nog nie sing soos niemand vantevore nie. “Bont ballonne” hinder my spesifiek. Ook die kersie se “klein wit lig”, mure wat luister, maar stom is. Dit klink te bekend. Die herhaal van “vandaan” pla ook. (Ek weet, ek weet! Dit gaan oor smaak.) Ek gaan weer sny (om my punt meer konkreet te illustreer), maar ek het ook ’n ander voorstel hier: ek wil met die volgorde van jou strofes lol. Ek dink ’n mens moet die toneel eers plaas en dan voortborduur:

Juniemaand, Bronkhorstspruit –
boomskelette, vroeë-oggend winterwind
en ons huis se krag is af,
geen internet of helder lig.

Dalk is “boomskelette” nou my eie cliché. Dalk is daar ’n ander beeld om daardie kaal populiere en bloekoms op die Hoëveld in die winter te beskryf. Ek het die “vroeë-oggend” elders in die gedig gaan haal om saam met “winterwind” te gebruik. Dis net ’n voorstel ter illustrasie. Plaas die leser van die gedig in die situasie. Dan kan ’n mens oor die herinnerings praat:

Uit my vulpen se mond
rol woorde oor skemervlaktes papier:

Onthou jy die ryp,
die turf, my kind,
die mielielande op ons plaas,
jou hande voor jou mond,
ons wat soggens stoom uitblaas,
wasem teen die ruit,
ons Ma se koffie-en-beskuit?

Dalk kan die woorde uit die "vulpen se mond” (ek hou daarvan!) selfs in die donker verdwaal? ’n Mens wonder hier wie “my kind” is (wat ek ook ’n bietjie rondgeskuif het). Dalk moet jy dit duidelik maak met wie die spreker in die gedig hier praat.

Ek hou baie van die laaste twee reëls, ook van die rym. Dis ’n goeie einde. Maar ’n mens moet die gedig baie vernuftig opstel, sodat daardie crescendo werk:

Geen antwoord nie –
die yskas stom en net die dreun
van motors ver en ek
wagtend vir ’n lig om aan te gaan
iewers, ver hier vandaan.

As ’n mens verder skaaf, kan dit werk.

Dalk het ek nou van te veel tekstuur ontslae geraak. Ek weet nie. Gooi dit weg en werk weer aan jou oorspronklike weergawe. ’n Paar dinge pla my nog: “ons huis se krag is af” – is daar nie ’n ander manier om dit te sê nie? Gerard Manley Hopkins het na poësie verwys as “the common language heightened”.


 

Elmarie Viljoen: "Vryevers" en "Hondelewe"

Elmarie, ek hou van die twee nuwe gedigte wat jy ingestuur het in die plek van “Desember” en “’n Herfsgedig”. By “Hondelewe” hou ek van die manier waarop jy die ou gesegde se betekenis heeltemal omgooi. Ek hou ook van hoe jy met die woord “materiaal” speel in “Vryevers”. Soos met die ander, eers die gedig en dan ’n paar voorstelle, meestal vir klein verstellings.

Hondelewe

Daar kom ’n tyd wanneer die hond
met dowwe pels en droë snoet
die waterbak nie meer kan haal nie
en wakker word in eie bloed.

Die onus rus dan op die baas
om God te speel en te besluit
dat Wagter nou genoeg geleef het:
sy blaf is weg, so ook sy byt.

Maar dan kom daar ’n ander tyd –
vooruit bepaal, soms onverwags –
wanneer selfs baas se oë verdof,
want elke hond kry mos sy dag.

Hierdie is ’n baie tradisionele vers met ’n vaste metrum en rympatroon (al is dit halfrym in die laaste strofe). Ek sou dus baie versigtig wees om daaraan te torring (ek weet hoeveel werk gaan daarin). My gevoel is egter dat dit kragtiger kan wees as jy dit korter maak. Daar is besonderhede (soos “dowwe pels en droë snoet”) wat oorbodig voel. Die “wakker word in eie bloed” voel ook vir my too much, soos die Engelse sou sê. Deur te onderspeel gaan jy ’n beter effek bereik; deur te onthuts, eerder as te walg. Probeer dalk ’n minder tradisionele benadering, maar eindig met paarrym wat die omkeer van die gesegde soos ’n sweepslag laat klap.

Nou “Vryevers”:

Vryevers

Eens op ’n tyd
het sy haar skaamwit nagrok
versigtig vol gedigte geskryf:
verse met klanke wat nog roerloos lê
en ritme wat skaars ritsel
soos sagte papier.

So het sy dan elke aand
aan die slaap geraak:
geklee in strofes sonder some
en skewe-naat-rympatrone,
en só gehoop om dalk een oggend
as digter
te ontwaak.

Maar een nag
(die maan ’n toe oog in die lug)
sterf sy in die rok
sonder om ooit te leer
dat woorde wil vloei
soos linte langs ’n lyf.

En toe dit geruisloos lig word
vaar sy na die hemel,
word haar rok twee vlerke van fluweel
met haar aardse woorde op geweef:
eindelik publiseerbare
materiaal.

Ek hou van die beeld: Gedigte as klere. Dis makliker om dit op patrone te maak. Dis veel moeiliker om jou eie ontwerp en styl te vind. Ek het slegs twee voorstelle. Beide gaan oor smaak; ignoreer dus gerus.

Die eerste gaan oor die derde vers. Dit klink amper didakties:

sonder om ooit te leer
dat woorde wil vloei
soos linte langs ’n lyf …

Die “leer” klink so leerderig. Is daar nie ’n ander manier om dit te stel nie? Sou dit nie beter werk as sy net voor haar dood, te laat, tot die besef kom nie? Alhoewel “woorde wil vloei/ soos linte langs ’n lyf” mooi klink (alliterasie), is ek nie seker of die beeld sterk genoeg is om die idee te dra nie.

Die tweede is maar net ’n gevoel wat ek het oor die woord “fluweel”. Dit voel vir my oorgebruik, spesifiek as dit saam met “vlerke” gebruik word. Wat van “fluweelvlerke” om dit effens te maskeer? Alhoewel, dit foeter met die halfrym wat jy met “hemel” in die vorige reël bewerkstellig. Is daar nie ’n ander, minder ooglopende tipe materiaal wat ’n mens hier kan inspan nie?


 

Hendrik Botha: "Grafskrif" en "Donor"

Hendrik, jy het enkele verstellings aan die twee gedigte gemaak. Ek hou steeds daarvan, maar sal hierdie keer meer spesifiek wees met my kommentaar. Ek hoop nie jy ervaar dit as te intervensionisties nie – maar dan weer, ek skat jy sal dit net ignoreer as dit jou irriteer.

Eers “Donor”. Hier is jou hersiene weergawe:

Donor

My hart op veertig by sy bruikbaarheid verby,
my niere uitgeloog op vyftig,
die lewer verskrompel deur oordaad
en die longe hygend, onherroeplik
verniel deur teer en nikotien

maar ek stuur vir jou my oë,
in lewe blou, om die korneas
oor te plant sodat jý met
ander oë na dieselfde son en
sterre as ek in verwondering kan kyk,

maar mag die laaste prentjie,
vandag onherroeplik in my netvlies ingebrand,

jou eerder maar gespaar bly.

In die eerste strofe het ek ’n paar voorstelle wat meer oor vloei en ritme gaan. Hier en daar vat ek liberties met woorde:

my hart op veertig by bruikbaarheid verby
my niere op vyftig uitgeloog,
lewer deur oordaad uitgedroog,
longe wat hyg aan teer en nikotien …

Met die res van die gedig wil ek nie neuk nie. Al waaroor ek wonder, is die enjambement in die tweede vers. Ondersteun dit die vloei soos dit kan? Is daar nie ander plekke om dit af te kap om ’n mens na die einde van die gedig toe te trek nie?

Nou “Grafskrif”:

Grafskrif

There are worse things than being alone but it often takes decades to realize this and most often when you do, it’s too late, and there’s nothing worse than too late.  - Charles Bukowski

Na byna dertig jaar, skoolgetuigskrif
in die hand wat tussen lyne lees
dat jy nie tot jou reg kom binne spanverband,

nie werklik bied dit wat konvensie
vra: individualis, dromer, randloper,
heeltyd hunkerend na waar meer asem is.

die wete gryp jou aan die keel
dat die jas wat jy só lank so
dapper probeer dra het, nie regtig

ooit kón pas nie,
dat alles saam van meet af
aan eintlik maar futiel was.

maar soos Bukowski sou jy ’n leeftyd
neem om te verstaan dat die vrees
vir alleenwees hopeloos oorskat word

- maar dit was reeds te laat.

Daar is verhandelings oor die gebruik van die motto aan die begin van ’n gedig geskryf. Ek neem aan jy’t Bukowski maar gaan haal en hier ingespan omdat my kollega nie bekend was met sy werk nie. Ek dink nie die motto dra by tot die gedig nie. Bukowski se presiese woorde is nie belangrik nie. ’n Mens verstaan die gedig heel goed daarsonder, mits jy min of meer weet wie Bukowski was. Die aanhaling neem van die gedig se enigma weg, voel ek. Mense wat nie van Bukowski hou nie (of weet wie hy is nie), gaan in elk geval nie jou gedigte verstaan of waardeer nie. Laat hulle maar begaan.

Oor die gedig self. Ek voel steeds jy kan “tussen lyne lees” uitlaat en die leser eerder self tussen die lyne laat lees. Kan ek spesifieke voorstelle maak?

Die eerste twee strofes:

Na byna dertig jaar,
skoolgetuigskrif verslaan,
maar lees in helder lig nog:

Individualis, voel vinnig ingeperk,
kom nie tot sy reg in spanverband,
nie wat die konvensie vra.

Die beelde van “aan die keel gryp” en die jas wat jy dra, kom te gewoon oor vir so ’n aweregse gedig. Die eerste weergawe se ontknoping was amper beter. Ek het meer van “huiwerend op die periferie” in die vorige weergawe gehou. Dit het meer soos ’n outentieke stem geklink, selfs die “muwwe mainstream”, spesifiek omdat jy ’n stuk Engels ingooi.

Ek het nou jou vorige weergawe gaan haal en dit effe aangepas:

Altyd dus, op die periferie,
huiwerend, maar meer asem hier
as wat die muwwe mainstream bied.

Maar somtyds raak dit eensaam daar,
en soos Bukowski sou jy ’n leeftyd neem
om te verstaan dat eensaamheid oorskat word

- maar toe was dit te laat.

Die resultaat, met nog ’n paar klein verstellings, sou iets soos die volgende wees:

Na byna dertig jaar,
skoolgetuigskrif verslaan,
maar lees in helder lig nog:

Individualis, voel vinnig ingeperk.
Kom nie tot sy reg in spanverband.
Nie wat die konvensie vra.

Altyd dus op die periferie,
huiwerend, maar meer asem hier
as wat die muwwe mainstream bied.

Somtyds raak dit eensaam daar,
en soos Bukowski sou jy ’n leeftyd neem
om te verstaan dat eensaamheid oorskat word

- maar toe was dit te laat.

Ek voel dat dit nou amper te veel struktuur het. Moet ’n mens dit nie heeltemal deurmekaar gooi nie? Met die struktuur rondfok en dit op steurende plekke afkap nie, Bukowski-styl? (Ek weet ek het die vorige keer voorgestel dat jy ’n sonnet daarvan maak! So waai my jas ...)


 

Verwysings

Gilbert Gibson. Oogensiklopedie (Tafelberg, 2009).
Jay Parini. Why Poetry Matters (Yale University Press, 2008).

 

Terug na SkryfNet XXIII - Poësie