Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Poësie | Poetry

Dievx Dv Stade 2007


Johann de Lange - 2010-02-10

Vinnige aantekeninge met die linkerhand

Laat spiere bult, glimlag, ontbloot op aanvraag
wat ookal verlang word, die vlesige boude
asof in onderwerping, die ontspanne of spulse lul
lig die balle op, glimlag met tande wit
lyftaal wat ’n gemaklike saamwees
met die kyker veins. Seunsagtig, of beskaafde
primaat. Jagter of prooi
altyd in die visier van die fotograaf-
voyeur. Uit die pantheon van sport
word dié atlete die essensie
van kontaksport; begeerte vleesgeword,
die fantasieë van die kykers uitgespeel
onder soekligte. Trek die wit t-shirt op
oor die gesig & word bok-kuit dier,
of die jockstrap af oor mik of vag,
diep kurwe van die rug, vlug vir die jag.

                                Geen gode nie,
die lywe vlesig, swaar, bonkig soms,
die swaartekrag trek aan die enkels,
die spiere beur teen ons skuins
slingerbaan deur ’n koue heelal.
Skouerskutte, knieskutte om die brose
gebeente. Kneusplekke, skrape, letsels,
die gesigte verraai ’n innerlike bestaan
weg van die lense, ’n worsteling wat wil sê:
Ek is meer as wat jy hier sien.

Seepskuim in die stort, die ewige ablusie
intieme konfigurasies & posture
’n kortbegrip van begeerte
omring met die rekwisiete wat oombliklik
konteks skep, sportveld, stort (kaskenades
onder kaskades water)
sauna, kleedkamer, gym: plekke
waar konvensies verslap,
en mans spontaan sáám kan wees
naak of semi-naak, vir die ruwe spel,
rugby- of sokkerbal tussen die bene
wydsbeen uitnodigend, terug-
geleun met hande agter die kop
saam in die sauna in ’n loom na-gloed
ná ’n harde dag op die veld
mikke geskeer, of met beswete oksel-
boste, gladdelyf, of harig met slakspoor
van naeltjie na vag, kuiltjies wat die boude maak
of die diep kurwe van die rug.
Waar alles ook begin, uiteindelik volg
ontkleding, ontleding van attraksie
self- of onselfbewus, hitsig
of geblus, word ’n ou onskuld
opnuut aangeleer, word teen-
natuur opnuut natuur & heel,
kom bymekaar om weer soos seuns
onbelemmerd met mekaar te speel.