Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Shakespeare het die antwoord


Albert Maritz - 2010-02-09

The great artist is the simplifier – Henri Frédéric Amiel (1821–1881)


O, wat is ’n openingsaand ’n wonderbittere ding.

Ek is finaal van openingsaande af. Ek was by Maynardville s’n. Antony and Cleopatra. Regie: Marthinus Basson. Ek wou drie basiese dinge doen:

  • baie mense vermy – ek is dik skaam (introvert in geleerde taal)
  • naby-parkering kry
  • my kaartjie kry (die organisasie was puik) en ’n bier gaan drink oorkant die straat. 

Maar ek kon net naby-parkering kry.

So ’n aand is mos soos ’n reünie; soos ’n kunstefees. So hoe nou gemaak om almal te mis! Jy kry al jou lekker, lanklaas-gesien-mense daar. En jou sout-van-die-aardes.

Waar kry mens ’n beter ervaring as Sybil Sands, die langste al ’n agent in die Kaap vir akteurs? En op haar ouderdom – sy moet tagtig wees – gym sy nog en is sy nog net so onderhoudend soos altyd. Nog net so onderhoudend soos ’n Nerina Ferreira. Sybil staan voor my, met haar klein postuurtjie doeeeer onder, en kyk met haar groot oë op, en sê: “I am so excited. With Marthinus you never know what to expect – is he going to shock us, is it going to be a spectacle …?”

En dan die enkeles wat ’n mens so spoedig moontlik wil vergeet. My sensitiewe gestel is heeltemal te broos vir Power Trips, gereeld die masker vir ’n tragiese selfbeeld.
 
Oor die produksie self … ek hanteer dit later. Ek het baie dinkwerk om te doen. Behalwe om te sê: Marthinus Basson is seker een van ons top vyf akteurs in die land, en dit sluit Engelse akteurs in. Hy sou maklik ook ’n voice-over koning kon wees as daai veld se mense oplettend was. Hy is terselfdertyd een van die land se mees omvattende kunstenaars, en ’n baie entertaining mens. Hy is die regisseur van Antony and Cleopatra.

Hierdie produksie – met heelwat Afrikaanse akteurs in, in die hartjie van die Britse Koninkryk – waag baie.

*

Destyds by oorklanking kom spreek Tony Links en Anton Prinsloo die Departement toe. Die legendariese Nerina Ferreira sit en brei, en vra: “As ’n man geskiet word, en sy makker ry met sy perd tot by hom en sê: ‘Are you alright?’ of ‘Are you okay?’, hoe vertaal jy dit?” Sy vra: “Sal hy sê: ‘Is jy goed?’, want die mond moet die oop klank hê van okay/alright)?” Toe hulle die vertalers aanmoedig om logiese, gemaklike taal te besig, soos: “Okay”/“Orraait” in plaas van “Goed”, “Dis goed”, “Oe”, “Goe”, “Koe”, of “Hoe”, fluister die taalreviseur onder haar asem: “Oor my dooie liggaam.”

*

Mannheim-saga op TV was bietjie soos ’n grafskrif van ons ongelooflike talent in hierdie land. So baie van ons sterre is al onbesonge dood. Daar is Don Lamprecht teenoor Percy Sieff. Oom Koos Strauss is daar, en Trudie Taljaart en talle ander oorledenes. Ek sê altyd: ’n gemeenskap wat sy begraafplase versorg, is ’n gemeenskap wat vooruitgaan. Ons moenie dat negatiwiteit en swak standaarde ons onderkry nie. Laat ons altyd beter wees as dit.

*

Karen Hart het in ’n huldeblyk oor Dirk de Villiers hom uitgebeeld soos mens hom geken het. Dit was ’n uitstekende stukkie skryfwerk. Ons moet in die filmbedryf ’n Oom Dirkskap instel. Soos die Engelse se ridderskap.

*

En net voor ek terugkom by teater – dis darem ’n ingeligte publiek wat van Graeme Smith ontslae raak net voor hy die Engelse in ’n kriekettoets vernietig! Na hulle in twee ander toetse ’n oorwinning met een paaltjie misgeloop het. En as ek na nog één persoon wat hom nie ken nie, se gesanik moet luister oor Luke Watson, moor ek.

En terwyl ek by sport is – dis darem ’n skande dat daar nie ’n internasionale Suidsee-eilande-span meeding nie. Dit sou natuurlik Nieu-Seeland en Oz verswak, en dis die enigste rede. Maar laat ons maar volhou om die ou twee spannetjies te knak wanneer dit saakmaak.

*

Teater wat oud en jonk geniet, en wat help om toekomstige gehore te bou, is Francois Potgieter se StorieskipKoejawel en die Ruimteseerowers. Francois is die perd wat in my produksie van Faan se Stasie die ongelooflik vermaaklike kondukteur teenoor Paul Eilers gespeel het. Francois is elke dag gewoonlik agter ’n kamera in ’n “rolverdeling”-ateljee in Kaapstad. Dis waar een van die eerste treë van lewe gegee word aan advertensies wat ons op TV sien.

Maar by die meeste Wes- en Suidkaapskole sien mense hom elke jaar in die Koejawel-stukke. Koejawel is ’n onnutsige seun – amper ’n Swart Kat-skepsel, wat eintlik sonder dat hy dit weet, met sy kettie en sy skateboard die held word om grootmense se aaklige pogings tot misdaad te fnuik. Daar is dubbelsinnige ondertone wat die agteruitgang van die mens aanraak.

Vanjaar was ’n verdere hoogtepunt, toe StorieskipKoejawel en die Ruimteseerowers, weer eens kindergehore aan sy voete gehad het. Skeppings soos die ruimteskip en oorlogmasjinerie op die verhoog is die handewerk van Fleur du Cap-wenner Koos Marais – eweneens ’n stel- en rekwisiete-kollega van Faan se Trein en Faan se Stasie.

Saam in die organisasie en op die verhoog is Bernadette Erasmus en Karla Burger.

Die spannetjie speel sonder mikrofone, en beheer, bloot deur hul vernuf, ’n hele saal vol lewendige kinders vir net minder as ’n uur. Dit op sigself sê baie. So hoede af vir akteurs met stemtegniek, diksie en duidelike artikulasie, wat ’n storie kan vertel waarop ons voorvadere sou trots wees.

Integriteit loon hulle ooglopend. Hulle is elke jaar vroeg-vroeg al tjok-en-blok bespreek. So vinnig spring …

*

Mens vergeet gou, maar laat ek net weer die skandaal ophaal van die uitgawe van R22 miljoen aan ’n opvoering. Ons het in ’n stadium stukke met MIV/VIGS, kindermishandeling, dwelms en verwante sake as onderwerpe opgevoer. Die kaartjieprys, as dit geborgde optredes was, het op so R3 per persoon uitgewerk. Weet jy hoeveel mense bereik jy met R22 miljoen? Die hele blessitse Afrika – let alone plaaslike gehore!

Ek werk eendag aan die SABC1-reeks Khululeka. Ek vra die ou-u-u-u kollega van my van Johannesburg uit oor wat hy nog alles aanvang. Hy vertel hulle doen VIGS-opvoerings – en nie vir R5 000 vir die groepie per week nie; nie teen R5 000 vir die groepie per dag nie; nie vir R5 000 per persoon per dag nie – nee, R5 000 per persoon per show, soms meer as twee keer per dag.

*

Die fliek Taken het ’n gelukkige einde! Maar die realiteit van trafficking is baie egter as die fliek. Die dooies en meisies wat daar in die klein hokkies bedwelm agterbly, is die realiteit. ’n Mens wonder onwillekeurig, ná Taken op M-Net was, wat geword het van die meisies wat Gert van Rooyen en sy vrou  laat verdwyn het. En hoekom daar ’n Gert van Rooyen-rylaan in Kaapstad se voorstad Welgelegen is? Bekyk gerus ons eie Traffic-teenvoeter se webwerf www.stoptrafficking.org.za.

Die trafficking-bedreiging wat Suid-Afrika in die gesig staar met die 2010-sokker is ’n wrede realiteit. Dis die handeldrywe met kinders en grootmense – met seks die hoofdoel. Dis skrikwekkend en waaroor elke kind in Suid-Afrika met sy of haar ouers moet praat. Die debat of “sekswerk” wettig verklaar moet word of nie, is een waarin jy jare se energie kan stort. Wat ook al verseker dat jy elke sekswerker vir VIGS kan toets en ’n bad aanbied. En kan reguleer, eerder as te laat in die hande van polisiemanne.

*

Ek gaan kyk Hein Pohl se play Daais Bedinges by die Meulteater, Paarl. Hein het jare se ervaring en verdien vermelding vir hoe hy sy eie stukke op die planke bring. Hy skryf, speel en regie. Nou is hy in Johannesburg, en soos talle voor hom, probeer hy sy onbetwisbare talent onder die aandag van TV-vervaardigers en regisseurs van verhoogwerk bring. Vorige sulke manne, baie van hulle uit die goudmyn van Heidelberg, Kaap, was Maurice Page (Isidingo) en Theodore Jantjies (7de laan).

*

Desember 09 is Piet Botha op Albertinia. Ek gaan kyk. Piet is seker die kunstenaar met die meeste aansien tussen sangers. Johnathan Martin speel saam. Hul ken hulle stuff. Maar die klankstelseltjie kom nie die mas op nie. Die klankmeng verdring Piet se stem onder die klank van hul instrumente.

*

Ek gaan kyk Karen Zoid in Desember by Gatta Patat in Kaapstad. En tref een van die grootste verrassings van my lewe aan. As sy gereken word as een van ons groot rockers – sy is ooglopend selfs Koos Kombuis se onbetwiste rock-chick-champion – raai ek jou aan - probeer haar boonop in ’n klein venue sien, met een of twee musikante en haar eie stories.

Karen Zoid se gesels van die verhoog af kon net sowel scripted gewees het – so snaaks, afgerond, opbeurend en artistiek was dit. Ek erken ruiterlik en graag – ek was in ekstase. ’n Bok van Klerk-storie het my eenkeer by ’n privaat geleentheid uit my skoene uit verras. Karen Zoid het dieselfde met my gedoen in Desember 2009 in Kaapstad. Sy kan enige aksent namaak, haar tydsberekening is juis, haar teks uit die boonste rakke – Karen Zoid is ’n sit-up komediant sonder weerga.

*

Nou goed – Antony and Cleopatra. Ek sou enige teaterganger aanraai om die stuk te gaan kyk. Sommer op openingsaand, want dan is al jou helde daar. Ou base van teaters. Nuwe base van ou teaters. Ou base van nuwe teaters. Base.

Die Maynardville-opset is beeldskoon. ’n Klein stukkie natuur in ’n steeds uitdyende buurt. Uitdyend van ontwikkeling en ’n vuil gevoel anderkant die heinings.

As die stuk begin, oorweldig die Marthinus Basson tegniese ontdekkings jou. Mens is regtig geseënd om oor so ’n teaterregisseur te beskik. ’n Akteur met slange wat oor hom krioel; die aardsheid daarvan gejukstaposisioneer teenoor die hoëvlak tegniese innovasie, is Marthinus se skeppinge. Die skouspel word stelselmatig vervang deur die tema van die aand – Shakespeare. En akteurs, ongeag of hulle Afrikaans of Engels is, wen of verloor teen die woord-en-beeld-meester. Sommige ou ervarenes gee mee voor die opdrag. Groentjies verras. En uiteindelik lê die sukses van Shakespeare daarin om die volle betekenis van elke frase te soek. Om algemene begrippe te verstaan is nie genoeg nie. Om nie ag te slaan op die ritme soos deur Shakespeare voorgeskryf nie, laat die teaterganger in die duister.

Dan is daar die mense wat die stuk oor en oor gaan kyk, diegene wat vriende of kollegas in die stuk waardeer, of dié wat die skouspel waardeer, of dié wat op intellektuele vlak die storie kan volg ondanks die gebrek aan begrip in sommige vertolkings.

Shakespeare het self die antwoord as hy in die woorde van een van sy karakters die vertolking beskryf as een wat “dansend op die tong” moet wees.


When a man coms to me for advice, I find out what kind of advice he wants, and I give it to him
– Josh Billings, 1818–1885