Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Disgrace skok ook in herskrywings


Charles Malan - 2010-02-09

Klik hier en koop die Disgrace (boek) nou op kalahari.net!
Klik hier en koop die DVD van die film Disgrace nou op kalahari.net!
Klik hier en koop In oneer nou op kalahari.net!

By geleentheid van JM Coetzee se sewentigste verjaarsdag kan Suid-Afrikaanse lesers in die vierings deel deur die belewing van verskillende herskrywings van sy mees opspraakwekkende roman, Disgrace. Verwerkings van ’n literêre teks word herskrywings genoem, en tereg. Die oorspronklike teks word met nuwe perspektiewe aangebied, ten goede of nie.

Minstens vier herskrywings van die Nobelpryswenner se roman waarmee Coetzee sy tweede Booker-prys verower het, val tans plaaslik saam: die fliek, ’n Afrikaanse vertaling, ’n voorlesing op klankbiblioteek en ’n goedkoop sagteband-herdruk. Hopelik sorg dit ook vir ’n herlees van hierdie verpligte leesstof vir Suid-Afrikaners.

Die skokkende verhaal van verkragting, vernedering en magsomwenteling in ’n nuwe Suid-Afrika is vandag, tien jaar na die boek se verskyning in 1999, aktueler as ooit. Die skrywer het ook, soos ’n vyfde van wit Suid-Afrikaners, uit die land padgegee.

Die fliek Disgrace se internasionale aansien bevestig dat die plaaslike verhaal van prof David Lurie se “fall from grace” (eer), na algehele “disgrace” (oneer), universele betekenis het. Die roman is dus in wese ’n klassieke tragedie.

Die befaamde akteur John Malkovich is voortreflik in sy vermoë om David Lurie, gesiene akademikus, se dubbelkantigheid te vergestalt en hom tot “sielebegeleier” vir gedoemde honde te reduseer. Hierin is die barre Karoo die ideale ruimtelike teenpool vir die eerbiedwaardige Kaapse akademiese inrigting.

Diegene wat in spitsverkeer na die uitstekende voorlesing deur Jack Klaff van die roman wil luister, kan dit doen deur bruikleen van die Listeners’ Library. Die taalkundige Coetzee se fyn, genuanseerde taalspel kom by uitstek met die voorlesing tot sy reg.

Coetzee met sy Afrikaner-pa het homself in onderhoude ’n Afrikaner genoem en Dusklands, wat oor die fiktiewe Coetzee-familie handel, bevestig dit. Die Afrikaanse herskrywing of vertaling van Disgrace bied dus ’n welkome kodeverwisseling na die taal wat ook in die roman ter sprake is.

Ongelukkig is Fanie Olivier se vertaling, In oneer, nie orals baie suksesvol nie, en kerngedeeltes word gebrekkig of selfs foutief vertaal. Van belang is egter dat Coetzee bepaalde gedeeltes (soos Athol Fugard dit oor sy eie werk stel) vanuit ’n bekende Afrikanerkonteks “oorskryf”. Vir Afrikaans is hierdie belangrike vertaling ’n stukkie kleimafbakening vir ’n internasionaal erkende Afrikaanse skrywer.

’n Groot pluspunt vir (her)lesers is die jongste uitgawe van die roman deur Vintage Books. Teen ’n ongelooflike R82 by Kalahari.net én tuisaflewering binne minder as ’n week verval alle moontlike besware van koste en moeite om die boek in die hande te kry.

Die storie van Disgrace lê subtiel ingebed in die doelbewus onaansienlike omslagontwerp. Die bloederige grafitti-letterwerk isoleer die prefiks dis- deur middel van fontgrootte van die stamwoord grace. Dit beklemtoon die betekenisvolle skeiding verder deur die krul van die kreupel hond se stert om die groter stamwoord.

Vier soorte herskrywings belig dus verskillend dat oneer nie sonder sy teenpool, eer, sin maak nie. Met sy begeleiding van die naamlose hond na ’n min of meer waardige einde bied Lurie ’n onwaarskynlike stukkie eerbetoon te midde van die gruwelikste oneer.

Oudiovisueel (fliek), ouditief (voorlesing), talig (vertaling) en skriftelik (heruitgawe) bied herskrywings verskillende kragtige perspektiewe op ’n ontstellende teks wat slegs in hierdie land met sy talle paradokse sou kon ontstaan het.