Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Artikels | Features

Die Pienk Dossier # 10


Coenie Kukkuk - 2010-02-04

Die Pienk Dossier verskyn so elke drie weke en word saamgestel deur Coenie Kukkuk, redakteur van Gayspeak.co.za. Ons poog om soveel as moontlik te berig in dié kort spasie oor wat in die LGBTI (lesbiese, gay-, biseksuele, transseksuele en interseksuele) wêreld gebeur, hier in Suid-Afrika en elders. Bydraes is welkom en kan gestuur word aan coenie@gayspeak.co.za.

  1. Dit blyk reeds dat 2010 ’n besige jaar gaan wees wat betref pienk feeste, geleenthede en Prides. Die jaar skop af met Kaapstad Pride einde Februarie, asook die 10de Pienk Loerie Mardi Gras in Knysna vanaf 28 April tot 2 Mei. Volgens die organiseerders gaan die Pienk Loerie hierdie jaar sy dekadefees met mening vier – daar is selfs ’n pienk mini-Sokkerbeker op die spel. Op die reklamefoto verskyn Charl van den Berg, Mnr Gay Suid-Afrika™ 2009, wat ons land oor Valentynsnaweek in Februarie by die Worldwide Mr Gay-kompetisie in Oslo, Noorweë verteenwoordig. Ons wens Charl net die beste toe. Lees meer oor die Pienk Loerie hier.
  2. Gay-groepe is in oproer oor die beplande aanstelling van die selferkende homofoob, die voormalige joernalis Jon Qwelane, as ambassadeur in Uganda van alle plekke – die land wat so graag gay mense wil galg toe stuur. Dis óf ’n reuse-oordeelsfout óf ’n siniese klap na gay mense in Suid-Afrika. Lees gerus Pierre de Vos se ope brief aan Zuma hier. Die gepaste spotprent is deur Zapiro.
  3. Zietsie’s in Aucklandpark, Johannesburg, bied Bruce J Little se uitstekende Little Poof! aan van 10 tot 28 Februarie. Die toegang is slegs R110, en vir ’n R100 meer sal Elzabé jou kos gee soos net sy kan. Bruce sê: “If you are gay, bi, curious or even insufferably straight this comic compilation of storytelling and song will delight you with an array of queens from every multicultural closet. Come and see some of your favourite flamboyant characters (and some unlikely ones) telling their story.” Jy kan bespreek by andre@elzabezietsman.co.za. Onthou dat slegs 30 gaste per aand gehuisves word in die Glaskas met sy asemrowende uitsig oor Johannesburg, so moenie te lank wag om te bespreek nie.
  4. SA GLAAD en andere het ’n klagte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien van haatspraak teen die PAC se jeugarm, PAYCO. Hul leier, Pitso Mphasha, sou na aanleiding van die gay-storielyn in SABC1 se soapie Generations gesê het dat die program "declared war with African cultures and practices" en dat "Africa is not the home of gays and lesbians." Ja well no fine, Pitso. See you in court. Miskien moet hy by Qwelane gaan leer, wat nou vir R100 000 deur die Menseregtekommissie in die Gelykheidshof gedagvaar word. Lees meer daaroor hier en hier.
  5. Dullstroom is een van ons gunstelingplekke, en ons het Desember weer daar ’n draai gemaak. Hierdie pragtige dorpie – een van die hoogstes bo seespieël – lyk asof dit vanuit die Skotse Hooglande in Mpumalanga oorgeplaas is. Een van Afrikaanse musiek se sterre, Bobby van Jaarsveld, tree 20 Maart 2010 in die geskiedkundige NG Kerk Dullstroom se saal op. Die 22-jarige sanger se jongste album raak-raak aan platinum-status in verkope en hy toer deesdae met ’n volle orkes. Jy kan kaartjies bespreek by een van ons ou vriende, Del-Monte, op 082 8955 933. Dit val oor ’n lang naweek en dis net die regte tyd vir die eerste wegbreek van 2010. As julle daar is, moenie Mrs Simpson’s, wat deur die bekende paar Stephen en Brian bestuur word, misloop nie. Dis nie verniet as een van die Top 100 restaurante in Suid-Afrika aangewys nie!
  6. So van sing gepraat, die Twelve Tenors van Europa is van 16 tot 28 Februarie in Suid-Afrika, en tree vir ’n beperkte speelvak in die Johannesburgse Teater (voorheen die Civic) op. Kaartjies kos R171 en kan by Computicket hier bespreek word. Van die talle bekende liedere wat hulle sal sing, is "Danny Boy", "You raise me up", "Bring him home", "Mack the Knife", "That's life", "Twist and shout" en "Hey Jude".
  7. Die Pienk Dossier ondersteun die verbanning van vuurwerke in Suid-Afrika. Die Facebook-groep Ban Fireworks in South Africa trek nou al digby die 25 000 lede. Word gerus deel daarvan hier. Daar word werklike strategieë soos klagtes by die hoofinspekteur van plofstowwe, massa-aksie, boikotte en hofsake in die Hof vir Klein Eise bespreek. Kyk gerus onder “Discussions”. ’n Reeds geslaagde optog is in Vereeniging gehou, en een word binnekort vir Alberton beplan. Meer word regoor die land verwag. Daar is ook ’n aanlynpetisie wat ter ondersteuning geteken kan word.
  8. Lidia Theron het onlangs die bekendstelling van die boek Trans, wat handel oor die werklike stories van transseksuele in Suid-Afrika, in Kaapstad bygewoon. Een van die sprekers, Robert Hamblin, bekende fotograaf van die sterre, wie se werk op menige bekende CD-omslag pryk, en self ’n transman, het in sy toespraak gesê: “People ask me if I am happy now - I say everybody has a chance to be happy … if they get to be who they are.” Lees Lidia se verslag hier.
  9. Barry Ronge het onlangs in The Times een van sy keuses as een van die beste klassieke rolprente, wat nou op DVD beskikbaar is, naamlik Death in Venice, bespreek. Dit handel oor ’n ouer man se beheptheid met ’n skone tienerseun. Dit het blykbaar in 1971 al wat prys is ingepalm, onder andere ’n BAFTA en ’n Oscar. Volgens Barry is dit ’n aanwins vir jou versameling. Die foto is van The Times se webblad.
  10. OUT Well-being in Pretoria bied twee keer ’n maand ’n regskliniek aan vir hulpbehoewende gay mense, waar hulle ’n prokureur oor regsake kan konsulteer. Die volgende twee vind 11 vm – 1 nm op 5 en 19 Februarie plaas. Dis vir werklose of arm gay mense wat nie ’n prokureur kan bekostig nie, en algemene regsadvies word gegee. Om ’n afspraak te maak, besoek die Facebook-groep hier of skryf aan director@out.org.za.

Die Pienk Dossier verskyn so elke drie weke. Bydraes kan aan coenie@gayspeak.co.za gestuur word vir oorweging.