Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Expats > Onderhoude | Interviews > Jong expats | Young Expats

Jong expats: Yolandi Oosthuizen oor New York


Imke van Heerden - 2010-01-27


Waar woon jy nou en is die gras wel groener daar?

Ek bly vir die afgelope twee jaar in New York. As tiener het ek heeltemal te veel flieks oor die stad gekyk en vroeg verlief geraak, so vir my is dit ’n droom wat bewaarheid is. Dis ook ideaal vir my beroepsrigting, vol geleenthede en verskeidenheid in die kunswêreld. Dis nie noodwendig beter nie en mens sal altyd jou kultuur mis, maar vir my is dit tans nommerpas.

Vertel ons bietjie meer van jou beroep.

Ek is ’n grafiese kunstenaar en werk tans by Complex Magazine. Ek werk meestal aan die adverteringskant en geniet dit vreeslik. Nee, dis nie soos Ugly Betty nie ...

Vir ’n grafiese kunstenaar is die New Yorkse kunswêreld seker hemels! Hoe verskil dit van Suid-Afrika s’n?

Ek wil begin deur te sê dat die kunswêreld in Suid-Afrika wonderlik is en besig is om te groei, maar aan die einde van die dag is New York beslis die middelpunt van die kunswêreld. Dis maar net ’n kwessie van grootte en beskikbaarheid. Kunstenaars het ’n baie groter publiek en word dus baie meer aangemoedig. Dis die perfekte plek om te begin en ongelooflike geleenthede aan te gryp. Natuurlik is dit moeilik om jou voet in die deur te kry, maar daar is ’n oorvloed inspirasie.

Watter New Yorkse kunsbestemmings sou jy aanraai vir iemand wat gek is oor kuns?

Jy moet ’n paar dae opsy sit om net in Chelsea rond te wandel en die honderde klein galerytjies te besoek. Jy kan natuurlik ook nie die grotes mis nie: die MoMA, die MET, Guggenheim, die Whitney, PS1, die Brooklyn Museum en die New Museum of Contemporary Art. Ek het onlangs ’n wonderlike uitstalling by die Queens Museum, The Panorama of the City of New York, ontdek wat nou al vir 40 jaar bestaan en elke gebou in NY op klein skaal vertoon. Die hele kunswerk is redelik groot en mens kan jou eie woonstelblok maklik opspoor. Dis nogals indrukwekkend!

My gunsteling-kunsbestemming is ’n klein teatertjie in Brooklyn genaamd Jalopy. Elke aand van die week is daar ’n ander tema of gebeurtenis wat nooit teleurstel nie. Deur die dag verander dit in ’n musieksentrum, waar jy letterlik enige instrument onder die son kan leer speel.

Wat is jou top drie kunservarings tot dusver?

1. Ek het in 2008 vir ’n paar maande vir ’n filmmaker by die Tribeca Film Festival gewerk. Dit was ’n wonderlike ervaring en absoluut surreëel. Ek het die kans gekry om location scouting saam met hom te doen en voorskoue te beplan, wat nie noodwendig my spesialiteit is nie; dit het my egter beslis uit my gemaksone gekry.

2. Ek het verlede jaar een van my groot helde, David Calderley, ’n bekende grafiese kunstenaar, ontmoet. Hy het onder andere ’n paar CD-covers vir Beck, Interpol en Moby ontwerp – ’n fenomenale ontwerper uit en uit. Ek het hom toevallig deur my ou baas ontmoet en beplan om alles in my vermoë te doen om nie kontak te verloor nie!

3. Ek het die afgelope jaar twee toneelstukke gaan kyk deur die bekende skrywer David Mamet, onder andere Oleanna, waarin Julia Stiles en Bill Pullman gespeel het. Dis ’n asemrowende ervaring om, na jare se fliekgenot, sy werk in lewende lywe te sien.

Op die ou end dink ek dis New York se raar skatte wat dié stad regtig definieer. Ek was byvoorbeeld onlangs by ’n My Little Pony-uitstalling ... wat meer kan ek sê?!

Waar kuier jy graag, en wat doen jy in jou vrye tyd?

Ek woon in Manhattan se Lower East Side. Dis my gunsteling-deel van die stad, vol goeie restaurante en vintage-winkels. Daar is so baie om te doen, van uitstallings tot comedy clubs en live music, so ek probeer maar net om dit alles in te neem. Ek spandeer baie tyd in Brooklyn, aangesien die meeste van my vriende daar woon. Rooftop parties is bo-aan die lys!

Hoekom het jy Suid-Afrika verlaat? Beplan jy om terug te kom?

My ouers het geëmigreer toe ek dertien jaar oud was en woon op die oomblik in Atlanta. Ek het na skool teruggetrek en op Stellenbosch gaan swot. Dit was nog altyd my droom om in New York te woon, so na universiteit het ek besluit om die groot stad aan te durf – ook om nader aan my ouers te wees. Ek dink gewoonlik nie verder as oormôre nie, so ek het geen idee of ek weer sal terug trek nie.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

My vriende, my klein boetie op Stellenbosch, die see ... én Bulgaarse jogurt. Ek was baie verbaas om te sien hulle het dit nie hier nie.

Wat van Suid-Afrika laat jou lag en wat laat jou huil?

Johan Stemmet en Mense en hul dinge laat my giggel.

Die aantal kere wat hulle by my Golfie ingebreek het toe ek nog daar gewoon het, het my laat huil.

Hoe reageer mense as hulle uitvind jy is Suid-Afrikaans?

Ek vind die meeste mense goed ingelig en gewoond aan buitelanders. Deesdae kry ek egter dieselfde vrae elke keer: Wat het jy gedink van Invictus en gaan jy terug vir die Wêreldbeker?

Jy kan ’n Afrikaanse sanger of band nooi om daar op te tree; wie kies jy?

Arbor. Is hulle nog saam? Indien nie, is ’n reünietoer in orde.

Wat is jou gunsteling-kossoort of -produk wat jy daar kan kry wat nie hier beskikbaar is nie?

Is Edamame beskikbaar in Suid Afrika? Dis my gunsteling-kos; ek is heeltemal verslaaf.

Sou jy Suid-Afrikaners aanmoedig om daar vakansie te hou?

Beslis! New York is ’n belewenis!

Wat is die hoogtepunt van jou verblyf in die buiteland?

Ek was onlangs by ’n Pixies-konsert. Dit was definitief ’n hoogtepunt.

Hoe verskil die werkkultuur in New York van dié in Suid-Afrika?

Aangesien dit een van die duurste stede is om in te woon, is daar ’n algemene hardwerkende atmosfeer. Die meeste New Yorkers werk vreeslike lang ure en is maar net te bly om dit te kan doen, aangesien daar altyd kompetisie is. Ek begin gewoonlik eers 9 vm, maar loop selde voor 8 of 9 nm.

Enige interessante tendense waarvan jy ons wil vertel?

Die meeste Amerikaners het nie elektriese ketels nie en maak tee op die stoof. Who knew?!

Jy is gestrand op ’n eiland. Jy het drie Suid-Afrikaanse items van die sinkende skip gered. Wat het jy gekies?

As ek gestrand is op ’n eiland, is dit waarskynlik klaar te laat vir my, so ek sal my laaste paar dae wil geniet. ’n Dipped Flake, ’n kombers en back-to-back episodes van Ballade vir ’n Enkeling.




<< Terug na die Jong expats-blad <<