Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Oor tande, beursies en Magersfontein ...


Theresa Potgieter - 2010-01-26

Ek het grootgeword op ’n plaas ongeveer 20 km van Winburg af. Winburg was egter ’n baie klein dorpie wat nie met ’n tandarts of ’n groot verskeidenheid winkels geseënd was nie. Daarteenoor was die Oos-Vrystaatse dorpie, Senekal, ongeveer 45 km in die teenoorgestelde rigting, heelwat groter en kon boonop spog met ’n Krieks (klerewinkel) en ’n tandarts. My ouers het dus ’n groot deel van hul besigheid daar gedoen.

Een so ’n dag staan my nog helder voor die gees. Ek was so 14 jaar oud en pas in die hoërskool. Dit was tyd vir ons halfjaarlikse tandartsbesoek. Dié dag het die tandarts, wat meestal hoog beskonke was, ’n redelik nugter dag beleef en besluit dat my verstandtande vasgekeer word onder ’n vellaag wat daaroor gegroei het. Volgens hom was dit nie ’n groot probleem nie en sou hy dit sommer daar en dan in sy spreekkamer regstel. Geen nodigheid vir hospitale of narkose nie. Dit was ook nie lank nie, toe sit ek in die stoel met my mond wyd oopgesper deur die een of ander instrument en hy aan die werskaf langs my met ’n klomp ander instrumente.

Op daardie stadium was ek nog dood bang vir inspuitings en baie verlig toe ek besef hy gaan nie verdowing toedien nie. My verligting was egter van korte duur, want die volgende oomblik skeur daar ’n verblindende pyn deur my mond toe hy met ’n skalpel aan die velletjie begin sny. Ek beduie met my hande dis seer, ek kreun, maak geluide en later loop die trane. Hy is egter so besig met die slagting dat ek, die lam ter slagting, nie raakgesien of gehoor word nie. My mond raak vol bloed en dit loop uit tot op die plastiekborslap wat op my bors lê. Nog later loop dit in strale teen die bippie af tot op my klere.

Aangelok deur die onaardse geluide wat uit die operasiekamer kom, betree my ma die vertrek, net betyds om te sien hoe ek ’n hoop van die bloed in my mond uitproes. Sy dink onmiddellik hy't my keel raak- of afgesny en gryp die arme man aan die kraag en sleep hom van my weg. Toe sy sien ek lewe darem nog, los sy hom en hy plons soos ’n sak aartappels op die grond neer. Redding, uiteindelik! Hy probeer nog verduidelik dat dit normaal is dat die wond so sal bloei, toe is sy al met my aan die arm by die deur uit. Buite bondel sy my, steeds met bloed wat uit my mond stroom, in die kar en gee my pa opdrag om so vinnig as moontlik van die perdedokter af weg te kom.

Aan die anderkant van die kerkplein, op die hoek, was die kafee waar ons altyd middagetes geëet het. Ek onthou nou nog die mixed grill en die "Banana Boy ice sucker" vir nagereg. Die blou Mercedes 280SE het vanself die pad soontoe geken! Hierdie keer in ’n poging tot lewensredding! My ouers het die eienaars geken en hul hulp is ingeroep om my weer op die been en respektabel te kry.

Voor jy kon sê "mes" was ek uit die bebloede klere en in een van die tante se rokke wat sy as ’n noodgeval in hul privaat badkamertjie aangehou het. Ek het gelyk soos ’n voëlverskrikker uit die oude doos. Daarna is ek vertroos met ’n Banana Boy as ’n bloedingstopper en die suiker daarin as kalmeermiddel teen die skok. My ouers het tee met baie melk en suiker gekry. Op daardie stadium het ek al lankal besef dat die bloeding gestop het. Dit was ook nie eintlik meer seer nie. Ek het my egter so verstom aan die grootmense se manewales en het dit wys geag om liewer stil te bly.

Die laaste draai wat my wa wou ry voor die terugtog huis toe aangepak moes word, was die boekwinkel, nie te ver van die tandarts se spreekkamer af nie. My pa het gedink dis veilig (vir die tandarts), want teen daardie tyd het Ma se bui al redelik gesak. Of so het hy gedink ...

Ma is die boekwinkel in en ek agterna met oumensrok en al. Van kleins af het enige boekwinkel vir my ’n besonderse bekoring ingehou en het ek nooit die kans verby laat gaan om binne te gaan rondsnuffel nie.

Nou moet ek ter agtergrond noem dat ek op daardie stadium ’n Afrikaanse onderwyseres gehad het wat vreeslik lief was vir die letterkunde en als in haar vermoë gedoen het om daardie liefde ook by haar st 6-klas aan te wakker. Ek het haar aanbid en elke woord wat sy gesê het, opgeslurp en in my brein skandeer.

Tussen die boeke op die rakke van die kleindorpse boekwinkel kom ek daardie middag af op ’n boek van Etienne Leroux. Ek het sy naam dadelik herken omdat die juffrou soms vir ons voorgelees het uit Sewe dae by die Silbersteins . Die boek was Magersfontein, o Magersfontein . Toe ek daardie boek in my hande hou, het ek vir die eerste keer in my lewe iets met my hele hart begeer. Oor die polemiek wat toe al rondom Magersfontein uitgebreek het, was ek salig onbewus. Met hart en siel het ek geweet dat ek daai boek eenvoudig moes hê.

My ma was al by die toonbank besig om te betaal toe ek met die boek by haar aankom en vra of ek dit kan kry. Sy't onmiddellik ingestem, maar toe sy wou betaal, ontdek sy daar is nie genoeg geld in haar beursie nie. As ek reg onthou, was die prys van die boek R13,75. Maar nie te bekommer nie. Sy stuur my gou uit om R20 te gaan vra by my pa waar hy in die motor voor die winkel sit en wag. Sy wou in elk geval nog ’n pak lugposkoeverte ook koop.

Ek is met ’n lied in my hart en ’n huppel in my stap uit om die R20 te gaan vra. Pa was glad nie ongeneë nie en het al sy wallet (soos hy sy beursie altyd genoem het) in sy hand gehad toe hy my terloops vra waarvoor dit is. Ewe onskuldig blaker ek uit oor die boek - die lugposkoeverte skoon vergete. Net daar, op ’n warm somersmiddag op Senekal, bars daar ’n donderstorm oor my kop los. "’n Boek!" skree hy vir my, "vir R13,75! Dit kos dan amper soveel soos ’n plaas! Sind die Leute dan ganz verrückt?" ("Is die mense dan heeltemal mal?"), tier hy voort. Vir ’n tweede keer daardie middag is ek in trane en storm terug boekwinkel toe na die veiligheid van my ma. Snikkend vertel ek haar wat gebeur het.

Nouja, my ma was nie ’n klein vrou nie. En sy was Duits én kwaai. Bitterlik kwaai. Terwyl ek vertel, sien ek oor haar gesig ook ’n storm losbars. My relaas was nog nie klaar nie, toe storm sy soos die regte oorlogsveteraan wat sy was, by die deur uit en stormloop daai blou Mercedes dat ek bang was hy kry dalk skade. Dit was tog vir my so ’n mooi kar! So 20 meter voor sy daar kom, begin sy al in Duits op my pa skel. So raas sy een stryk deur terwyl sy hom sonder omhaal van woorde vertel wat hy met sy heilige geld kan doen (nie oorvertelbaar nie) en of hy dink dat hy dit sal kan saamvat graf toe as hy die dag doodgaan. "Du verdamde [sy kon nooit "verdomp" sê nie], ellendige Schweinehund!" skree sy dat ek oortuig is die hele Senekal hoor. Teen dié tyd was sy al by die kar en my pa besig om uit te klim (waarskynlik om haar te probeer kalmeer - ek weet nie!). Met dié dat hy uit die kar klim, sien sy die beursie waar hy dit op die wit leersitplek langs hom neergesit het. Sy verander blitsvinnig van rigting, ruk die passasierskant se deur oop en so vinnig soos ’n rinkhals wat pik, skiet haar hand uit na die beursie, vat dit vas, en sy begin in dieselfde beweging terugstap winkel toe.

Tjoepstil ...

Dis seker nodeloos om te sê ek het my boek gekry en ’n paar ander boeke en skryfbehoeftes ook. Ons het daardie middag Pa se beursie leeggekoop. Ma het gesê dis die beste medisyne teen suinigheid.

Na die inkopies het Ma statig en waardig teruggeloop kar toe. Nogal vir my die agterdeur oopgemaak sodat ek met al my pakkies kon in, en toe self in die kar geklim. "Wir sind fertig," ("Ons is klaar") het sy doodluiters aangekondig, asof daar niks gebeur het nie. En Pa, hy het net so doodluiters die motor aangeskakel en begin ry. Niemand het ’n woord gerep oor die voorval nie, en sover ek weet, het geen haan ooit weer daarna gekraai nie.

Ek was in ’n wêreld van my eie en so gelukkig soos ’n vark net in Palestina kan wees. Ek het ’n stapel leesboeke (my eerste grootmensboeke) gehad! Hulle staan vandag nog sy aan sy in my boekrak.

En die tandarts? Hom het ek nooit weer gesien nie. My ma het gehoor van ’n goeie tandarts op Theunissen. Ons sou voortaan na hom toe gaan.

 

<< Terug na Vintage@LitNet <<