Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Die blou-oog-man in my familiefoto’s


Reney Warrington - 2010-01-26

Hy lê, in die hospitaalbed, met die laken opgetrek tot onder sy ken. En dit oor ek gespot het om hom te kielie tot hy hoes. Hy het longontsteking, maar hy kan nie hoes nie. Ook nie praat of skryf of loop nie. Hy is 67 jaar oud.

Hy eet sy nougat happie vir happie en weier om dit te deel met my of die vreemdeling aan die oorkant van die bed. Ek en sy maak nie oogkontak nie, ons praat net met die pasiënt, die een wat nie kan praat nie, ek aan sy regterkant, sy aan sy linkerkant.

Ons maak beurte om grappies te maak. Simpel grappies. Oor hy skielik, vanoggend in die hospitaal, met ʼn strooitjie water drink. Iets wat hy andersins weier. Die nurse het hom weggegee.

En oor hy elke Januarie in die hospitaal opeindig. Wat doen jy vir Kersfees? vra die nurse en knyp sy wang. Ons almal lag. Asof alles oukei is.

Hoe lank moet hy in intensief wees? vra ek die vreemdeling. Sy weet nie.

Sy sê vir die blou-oog-man sy gaan nie vanmiddag kom kuier nie. Sy het belangrike dinge om te doen. Sy gaan onder andere slaap inhaal aangesien sy die vorige aand in dié hospitaal se ongevalle deurgebring het. Sy knipoog vir hom saam met die kamstige beskuldiging. Hy glimlag en sê, ja. Een van die twee woorde wat hy sonder baie moeite kan sê.

Dit is my beurt. Ek probeer die bestaande grappie wat al ʼn lang pad saam met ons stap: Ek gaan ook nie vanmiddag kom nie. Ek het jou mos nou een keer gesien, spot ek, ek sien jou weer oor ses maande. Hy lag, soos hy gewoonlik lag as ek die grappie maak, maar hy steek dié slag sy hand uit om myne te druk. Moet ek nie weer ses maande wag nie? waag ek. Nee, skud hy sy kop, en verander sy antwoord vir die eerste keer in die vyf jaar sedert sy beroerte.

Oukei, sê ek vir hom.

Besoektyd is om en ons groet. Die vreemdeling stap eerste weg van die bed af, maar hou intensief se deur vir my oop toe ek aangestap kom. Vreemd, dink ek. Sy huiwer ook voor die bordjie met die besoektye op. Hmm, moet ek loop, of wag? Wíl ek wag? Wil sy hê ek moet? Ek druk #2 op my speed dial en terwyl ek wag vir my vrou om te antwoord, besef ek niks wat ek en die vreemdeling vanoggend vir mekaar sê, sal kan wegvat wat tussen ons gebeur het nie. Ek loop dus.

En soos ek deur die gange dwaal, by die sirkeltrappe afklim en by die ingangsportaal van die kliniek uitstap, hoor ek my suster se voetstappe heelpad agter my.