Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Annie Klopper: Rockjagter

Zinkplaat se Mooi besoedeling vang doelgerigte digters in ballades vas


Annie Klopper - 2010-01-26

 

Foto: Mark Reitz
 
Soos ons nou al die Stellenbosse rockgroep Zinkplaat ken, is dié groep se musiek nie oorhaastig om ’n goeie indruk te maak nie, maar klink die band eerder soos ’n groep vriende wat, rustig en fyn ingestel op mekaar, ’n klank slyp tydens jam sessions. En dit sonder om een keer skeef te trap – ook op hul jongste album Mooi besoedeling.

 

’n Mens het hier te make met “’n doelgerigte digter in ballades vasgevang”, soos daar in die titelsnit gesing word. Die poëtiese trefkrag skemer veral sterk deur in snit 5, “’n Dag in die wingerd”, wanneer ’n interteks met ’n gedig van DJ Opperman, “Vuurbees” (uit Dolosse 1964), duidelik is. Opperman het eerste geskryf dat die buffel “geen vrae oor môre vra –/ die buffel ken geen metafisika.” Zinkplaat voer ’n gesprek met die voorvader-digter met die effense ommeswaai van Opperman se sinsnedes tot die woorde “die buffel ken geen metafisika nie/ sal geen vrae oor môre vra nie.”

Buiten laasgenoemde intertekstuele gesprek voer die musiek gesprekke met die wêreld op ’n kosmiese frekwensie. Sedert hulle eerste vrystelling, Karoo poison, het die groep gegroei van kaalvoet laaities tot geslepe musiekmeesters – steeds met die aardse kaalvoetklank, maar geskoei in ondervinding en klaarblyklike wye en kleurryke invloede.

Die vier B’s (Bertie, Beer, Basson en Beitel) van Zinkplaat bring elk iets uniek na die partytjie toe. Bertie Coetzee bewys – soos Bob Dylan – dat ’n mens nie soos ’n nagtegaal hoef te sing om die mic te kan opneem nie. Dis daardie onaangeplakte, eerlike stem wat sy sang so spesiaal maak – en hoe dit jou laat verlang na vreedsame aande op stoepe waar jy nooit was nie. Beer Adriaanse ís ’n ritme – hy hóú dit nie bloot op die tromme nie. Dis daarom dat dit op die verhoog nooit lyk asof hy die tromstokkies vashou nie, maar eerder asof hy net moet keer dat hulle in hul oënskynlike veerligtheid nie die magnetiese konneksie met sy hande verloor nie. Basson Laubscher op lead kitaar is een van die vaardigste kitaarspelers wat ons land al opgelewer het. Hy weet hoe om geduldig klanke uit sy kitaar se nek te wurg sonder om die gô uit die liedjie te ruk. Sy sterk, sensuele blues-geïnspireerde kitaar leads los op in die liedjies soos suiker in warm koffie. Net soos Beitel van der Merwe se bobaas baskitaarklanke is dit slim, afgerond, onoordrewe en onmiskenbaar Zinkplaat.

Zinkplaat probeer nog nooit om iets anders as Zinkplaat te wees nie, en dis ook nie anders op Mooi besoedeling nie, selfs al laat die liefdesballade “Besluitneming” in sy gestroopte skoonheid jou per toeval aan ’n emo-agtige band soos Dashboard Confessional dink. Dis nou as jy jou kan verbeel dat hierdie Amerikaners kan sing oor iemand wat verveeld was in haar ekstra-wiskunde-klas, iemand wat heeljaar kos vir mense moes ronddra en woorde netjies as volg kan rangskik:

woorde gelees was nog nooit woorde gehoor nie, veral as jy kon sien
ons was te sag vir die kake van hierdie masjien
my rigting en jou ritme bots
kom ons hoop dis tydelik.

My gunstelingsnit is die reeds vermelde “Dag in die wingerd”, waarskynlik een van die mees oorspronklike Afrikaanse liedjies wat die afgelope jaar verskyn het. Die vokale vermenging in hierdie liedjie versterk die gevoel dat jy luister na ’n groep goeie vriende wat mekaar se musikale geite ken en verstaan. Dis maanskyn, sterre, soel somerlug en vlamme:

ek voel vere, appels en pere en gate in my klere
ek praat met die here en almal gaan tekere maar ek is tevrede
[...]
ek is pannekoekplat
vandat die hemel op my kop geval het
’n heel bevredigende einde as daar ooit een was.

Die somer straal ook uit “Kleiner as berge” – wat tans die voortou neem as dit kom by liedjies wat die gehoor sal saamsing. Dis bittersoet: vrede versus onvrede; goed teenoor sleg. Die mens het sy foute en jy kan bewus wees daarvan sonder om alles te probeer verander, en in laasgenoemde besef lê die vrede:

dieselfde mense in dieselfde plek
dieselfde foute totdat hulle vrek
en ons kan niks daaraan doen nie
en jy kan niks daaraan doen nie want jy hoef nie
so kom ons volg mekaar deur die dorings en die takke tot ’n nuwe jaar van bloed en dank vir ’n bietjie, net ’n bietjie wat sin maak
op die heuwels waar ons bymekaarkom
op die heuwels waar ons bymekaarkom.

“Moeilikheid” met sy apokaliptiese ondertone wonder hoe klink “die klankbaan van die einde”:

jou proefkonynprofeet het jou profyt opgevreet
daar’s rook op die horison en dit lyk of iets ons kant toe kom
die ergste van dit als is jy’t dit heeltyd geweet
[...]
daar’s ’n bom in die uurglas
daar’s rook op die horison
daar’s gif in jou bierglas
daar’s rook op die horison
is dit die klankbaan van die einde?

Die album sluit af met ’n sonsondergang. Hierdie titelsnit herhaal die tema van die vermenging van goed en sleg wat nie slegs soos ’n garingdraad loop in hierdie album nie, maar ook as deurlopende tema op Zinkplaat se vorige album, Musiek uit die geraas, slim geïnkorporeer is. Daar word gesoek na die balans of vermenging tussen wat die jing en die jang kan wees – goed/sleg, lig/donker, lewe/dood. In elke goed is sleg vasgevang en omgekeerd. (Breytenbach het gepraat van lewendood.) Die titel, “Mooi besoedeling”, speel in op hoe iets sleg soos besoedeling iets pragtig kan skep, soos ’n rooi sonsondergang:

dit was nooit tussen my en jou nie
daar is geen bewyse wat ek voor jou kan hou nie
net die sonsondergang vanaand
so mooi, so mooi besoedel
net ’n boedel oorgegee en goeie bedoelings van ’n wang afgevee
met gemengde gevoelens.

Die afwisseling tussen liedjies is glad, maar nooit glip die album in ’n eentonige gedruis in nie. Eerder skep dit ’n volronde entiteit wat gemaklik van begin tot einde vloei. Fyn afwerking getuig van baie voorbereiding, beplanning en lang ure in die studio. Steeds is die klank nie té verpak nie, maar behou dit iets van Zinkplaat op die verhoog. Dis ’n album vir die langpad, maar vat die kortpad huis toe.

Die album-ontwerp van Zinkplaat se Mooi besoedeling is uniek. Die oorheersende silwer voorplat kan met ’n meegaande Zinkplaat-plektrum afgeskraap word om ’n psigedeliese, kleurryke ontwerp te ontbloot.