Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Pynlike, soms onwillige herinneringe aan ’n rock ’n roll-toer: ’n Resensie van Koos Kombuis se Die tyd van die Kombi’s


Desmond Painter - 2010-01-19

Titel: Die tyd van die kombi's
Skrywer: Koos Kombuis
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798150996
Prys: R185

Klik hier en koop Die tyd van die kombi’s nou van Kalahari.net!


Voëlvry was, in sekere opsigte, meer as net ’n rock-toer; dit was ’n maatskaplike beweging. Maar ’n mens sou ook te ver kon gaan. Jy sou in so ’n mate kon fokus op Voëlvry as ’n maatskaplike en politieke fenomeen dat jy uit die oog kan verloor dat dit, op die ou end, tog ook net ’n rock ’n roll-toer was. Dat dit, soos alle legendariese rock-toere, eerstens om die persoonlikhede, die vergrype, en bowenal die musiek, van ’n groep kreatiewe mense gegaan het.

Vir diegene wat in die geskiedenis van die Afrikaners belangstel, en in die politieke opwellinge en omwentelinge van die tagtigerjare, mag dit dalk beteken dat Voëlvry’n minder beduidende episode was as wat soms aangevoer word, en dat Kombuis se boek oor die onderwerp weinig analitiese waarde het. En hulle is reg. Voëlvry was nie die sleutel wat Suid-Afrika, of selfs maar net die Afrikaners, bevry het nie. Koos Kombuis se herinneringe aan daardie tyd kan ook nie gelees word as ’n poging tot ’n antropologiese of sosiologiese analise van die rol wat Afrikaanse protesmusiek gespeel of nié gespeel het nie.

Rock-toere gaan op die ou end maar altyd eerstens oor seks, dwelms en baie musiek; oor vriendskappe, kameraderie en verraad; oor die opwinding van die helder ligte en die verveling van die langpad. Dit is hierdie dinge – dikwels deur aanhangers verromantiseer – wat sommiges onder ons motiveer om rock-tydskrifte soos Uncut en Rolling Stone te lees, en boeke en DVD’s te koop wat die groot, deurslaggewende rock-toere dokumenteer. Dit gaan vir ons op die ou end nie om beter begrip van die wêreld daar buite nie, maar om nader te kom aan die musiek en die mense wat daardie musiek gemaak het.

En dit is presies die soort boek wat Koos Kombuis geskryf het: ’n persoonlike terugblik, ’n onthutsende, by tye ontroerende, dikwels baie snaakse reeks herinneringe aan ’n legendariese musiektoer.

Om ’n volwaardige boek uit hierdie (soms pynlike, soms selfs onwillige) herinneringe te maak, word Kombuis egter gedwing om by tye ver draaie rondom Voëlvry en die musiek te loop. Om die waarheid te sê, direkte aandag aan Voëlvry (en aan die kabaret Piekniek by Dingaan wat dit voorafgegaan het) beslaan waarskynlik nie veel meer as die helfte van die boek nie. Die res bestaan uit ander persoonlike herinneringe en Koos Kombuis se gewone aweregse, satiriese kyk op die hedendaagse politieke en kulturele landskap van Suid-Afrika. In hierdie opsigte toon die boek ooreenkomste met Kombuis se outobiografiese Seks & drugs & boeremusiek (2000) en die persoonlike, kulturele en politieke refleksies van Die dieper dors (2006). Dit kan gesien word as die derde in ’n outobiografiese reeks, waarvan die eerste steeds die mees geslaagde is.

Een van die tekortkominge (vir my) van Die tyd van die Kombi’s is dat dit as’t ware huiwer tussen twee genres: ’n volwaardige outobiografiese vertelling aan die een kant, en ’n deeglike dokumentasie van ’n rock ’n roll-toer aan die ander kant. Die uitgewers en leserspubliek wou ’n boek oor Voëlvry hê; wat Kombuis kon (of wou) gee, was ’n baie persoonlike boek oor ’n tydperk uit sy lewe, waarin Voëlvry ’n deurslaggewende, en by tye selfs destruktiewe, rol gespeel het. Op die ou end slaag die boek egter nie volledig as óf outobiografie óf rock ’n roll-dokumentêr nie.

Wat eersgenoemde betref: Kombuis het die mees relevante aspekte van sy persoonlike geskiedenis voldoende gedek in die veel meer geslaagde Seks & drugs & boeremusiek. Nie dat sy persoonlike herinneringe aan die toer en sy medemusikante nie soms ontroerend is nie. Inteendeel. Daar was net nie genoeg hiervan om ’n hele boek te regverdig nie. Ongeveer ’n derde van die boek werk uitstekend as ’n aanvulling tot daardie vroeër, meer gefokusde outobiografiese teks. Om dit egter as ’n onafhanklike boek te laat slaag, sou hierdie hoogs persoonlike refleksies aangevul moes gewees het met beter dokumentêre materiaal oor die Voëlvry-era.

Dit skyn egter asof Kombuis in ’n mate steeds onwillig is om Voëlvry in te veel besonderhede te onthou. ’n Mens kry die indruk dat hy hierdie herinneringe (no pun intended) onder protes geskryf het. Dit is natuurlik sy goeie reg om te wil vergeet; ons het almal dinge wat ons eerder nie te helder wil onthou nie. Vanuit die perspektief van ’n leser wat eerstens geïnteresseerd is in die musiek, eerder as in ’n volgende uitgawe van Koos Kombuis se outobiografie, is dit egter by tye frustrerend. Die boek slaag wel daarin om ’n onthutsende beeld te skep van Kombuis se belewenis van die toer en die jare daarna, maar is suinig (en soms teenstrydig) wat betref besonderhede oor datums, venues, musikante en opnamesessies – juis die soort nuttelose inligting waarop rock-aanhangers teer, en wat van die boek benewens ’n outobiografiese teks ook ’n dokumentêr met meer skop sou gemaak het. Ek sou byvoorbeeld meer wou lees oor die opnames wat tot Kombuis se klassieke album Niemandsland gelei het. In die boek verwys hy egter slegs baie kortliks daarna, en sê dat hy “dink” Kerkorrel het op een of twee liedjies klavier gespeel ...

Indien Kombuis nie lus was om hierdie soort besonderhede self na te vors nie, en eerder op sy binnelewe tydens daardie jare wou fokus, goed en wel. Ek dink egter dit sou ’n beter boek gewees het indien die uitgewers dan iemand anders gekry het om hierdie soort navorsing te doen en om die teks daarmee aan te vul. Dit sou sin gemaak het om Kombuis te beperk tot sy herinneringe van Piekniek by Dingaan en die Voëlvrytoer en dit in ’n ander, meer visuele formaat aan te bied, naas foto’s en feite – wat dan selfs deur iemand anders voorberei en geskryf kon gewees het. So ’n boek (dalk in “koffietafel”-formaat) sou die toer gedetailleerd kon gedokumenteer het, met die verdere bonus van ’n persoonlike narratief deur Koos Kombuis.

Ten spyte van hierdie kritiek het ek Die tyd van die Kombi’s tog geniet. Dit was waarskynlik vir Kombuis ’n belangrike boek om te skryf – ’n terapeutiese bestekopname van wat dikwels (vir hom) hartseer en desperate tye was. Ook sy perspektiewe op die ander twee musiekreuse van daardie tyd, James Philips (Bernoldus Niemand) en Johannes Kerkorrel, is sensitief en by tye aangrypend. Dit is hierdie intieme blik-van-binne wat die boek die moeite werd maak om te lees.