Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Annie Klopper: Rockjagter

Fokofpolisiekar, Indie en Elektro: Kies jou klankbaan


Annie Klopper - 2010-01-19

Wie sal ooit die episode van Ally McBeal vergeet waar die hoofkarakter op soek is na haar eie persoonlike temalied? Soos Ally, het ons almal klankbane tot ons lewens, maar dit gebeur bitter weinig dat daar net ’n enkele temaliedjie op hierdie klankbaan is. Dis seisoenale kompilasies – daardie pak CD’s wat in jou kar gelê het in die somer van 2005 of die mix-CD wat jy vir jou 30ste verjaarsdagpartytjie gemaak het.

Hierdie seisoen is daar drie CD’s wat tans die klankbaan tot my lewe is – almal kompilasies en almal trots Suid-Afrikaans.

Forgive Them For They Know Not What They Do – Fokofpolisiekar

’n Fokofpolisiekar-album met ’n Engelse titel? Voordat jy dink die eerste kommersieel suksesvolle Afrikaanse punk band het “uitverkoop” en ’n Engelse album vrygestel, kyk weer. Forgive Them For They Know Not What They Do is die titel van ’n dokumentêre film oor Fokofpolisiekar wat verlede jaar die lig gesien het. Die gelyknamige CD bevat 18 liedjies wat in die film gespeel word. Dit is ’n redelik getroue refleksie van die groep se repertoire tot dusver, aangesien die grootste Fokofpolisiekar-treffers daarop opgeneem is, soos “Hemel op die platteland”, “Tevrede?”, “Die illusie van veiligheid”, “Brand Suid-Afrika”, “Ek skyn (heilig)” en “Antibiotika”.

Om egter werklik ’n goeie idee te kry van Fokof se musikale ontwikkeling tot dusver, sal jy al ses CD’s (dit sluit vollengte-albums en kortspelers in) wat die groep al vrygestel het voor hierdie een, moet aanskaf. Daar is ’n redelik groot sprong van die punkgeöriënteerde debuut As jy met vuur speel sal jy brand (2003) tot die akoestiese klank van Monoloog in Stereo (2005), die volwasse, melodieuse rock van die SAMA-bekroonde Swanesang (2006) en die mees onlangse uitbarsting genaamd Antibiotika (2008). Maar in hierdie ontwikkeling lê verskeidenheid en daarom luister Forgive Them For They Know Not What They Do lekker. Dit word aanbeveel vir geharde fans, sowel as nuuskieriges wat nog nie bekend is met Fokofpolisiekar nie.

South African Indie Volume One – Verskeie kunstenaars

As jy verlede jaar gereeld na die musiekkanaal MK gekyk het, na ons kampusradiostasies geluister het, en dikwels plaaslike musiekfeeste en gigs besoek het en jy soek ’n goeie opsomming van hierdie ondervindings, koop South African Indie Volume One.

Die term indie is afgelei van independent music en word gebruik om groepe of kunstenaars se onafhanklikheid van kommersiële platemaatskappye oftewel major labels te beskryf. Indie-kunstenaars het dikwels ’n selfdoen-benadering tot die vrystelling en verspreiding van hul musiek. Die fokus lê ook tradisioneel op die produksie van die musiek, eerder as op die kommersiële lewensvatbaarheid daarvan. Die term het egter al ontwikkel om na ’n wye genre van musiek te verwys en evolueer steeds met betrekking tot wat presies hierdie genre nou juis is. Dikwels word gepraat van indie rock om te verwys na die musiekstyl wat die eerste keer met die indie-produksiestyl geassosieer is, maar heelwat subgenres het al hieruit ontwikkel – te veel om op te noem.

Die debat oor wat presies indie is en wat nie, is soms onnodig heftig onder aanhangers, maar vir alle praktiese doeleindes is daar ’n definitiewe stroming in Suid-Afrikaanse musiek wat as indie geklassifiseer kan word – veral indien dit in vergelyking geplaas word langs die groot verkopers soos byvoorbeeld Kurt Darren en Die Campbells.

En nou kan jy, deur na South African Indie Volume One te luister, ook uitvind wie tans tot dié stroming behoort. Dit sluit onder meer in Ashtray Electric, Zinkplaat, Die Heuwels Fantasties, Pretty Blue Guns, Winterstasie, Wrestlerish, Jax Panik, Jack Parow, The Cavalier, Taxi Violence, en Desmond & The Tutus in.

Ek besit die meeste albums waaruit hierdie kompilasie saamgestel is en kan met oortuiging sê dat die room van plaaslike indie afgeskep is om 17 sterk liedjies uit ’n wye en kleurvolle spektrum saam te voeg. Wat my interesseer, is hoe groot die verskeidenheid die afgelope paar jaar geraak het. Daar is geen manier hoe Zinkplaat se kaalvoet blues rock op musikale vlak vergelyk kan word met byvoorbeeld Jax Panik se elektroniese buzz nie, maar tog deel hulle aanhangers – soos ek. Wat wel op die kompilasie ontbreek, is vroue. Waar is byvoorbeeld Dear Reader en Laurie Levine? Maar miskien is die afwesigheid van vroue ’n goeie refleksie van die algemene tekort aan vroulike kunstenaars op die plaaslike niehoofstroom-musiektoneel.

Nou kan ons begin debatteer oor hoe indie Fokofpolisiekar en aKING (wat op die kompilasie opgeneem is) werklik is, aangesien hulle so suksesvol is in onderskeidelik die Afrikaanse en Engelse rocktoneel, maar laat ons nie hare kloof nie – en weer eens ons vergelyking tref met die CD-verkope en vibe van mense soos Kurt Darren. Miskien is ’n toetsvraag ter bepaling van Suid-Afrikaanse indie selfs in orde. Soos byvoorbeeld: Het hierdie kunstenaar/groep al ooit by Huisgenoot Skouspel opgetree? Indien “nee”, is dit heel moontlik óf indie óf bloot onpopulêr. (Dié toets is egter nog nie foolproof nie, want dit kan ook dan beteken dis kwaito, hip-hop, rap of Ghoempie, die singende blou monstertjie.)

Wat indie ook al beteken in die Suid-Afrikaanse konteks, South African Indie Volume One is ’n “mix tape” soos nooit tevore hier bekend gestel nie. Dit bevat heelwat bands wat blootstelling verdien en nou dopgehou moet word. My voorspelling is dat hierdie jaar veral ’n grote gaan wees vir Van Coke Kartel en die tans nog minder bekende Wrestlerish.

Vredefest Elektro – Verskeie kunstenaars

So gepraat van kunstenaars wat blootstelling verdien, die vars kompilasie Vredefest Elektro wemel van hulle. Hierdie kompilasie bevat nie slegs goeie musiek nie, maar is boonop vir ’n goeie doel uitgereik.

Wyle Herman Pretorius was die populêre aanbieder van Amp, ’n musiekprogram op MK. Hy het ’n groot bydra gelewer tot die bevordering en promosie van die plaaslike live musiektoneel. As ’n bloedbroer van die Bellville rocktoneel het hy op skool saam met Francois van Coke en Wynand Myburg (Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel) in ’n band gespeel. In Augustus verlede jaar is hy oorlede aan kanker, kort voor sy dertigste verjaarsdag. Een van sy gunsteling-sêgoed was “vrede” en vandaar is die Vrede Foundation na hom vernoem. Laasgenoemde is ’n niewinsgewende organisasie wat begin is as gevolg van Herman se storie om bewustheid van kanker by jongmense te kweek en fondse in te samel om jongmense met kanker finansieel by te staan indien hulle nie ’n mediese fonds het nie. Gereelde Vredefests word gehou ter fondsinsameling vir hierdie organisasie en so ook gaan die opbrengs van Vredefest Elektro daaraan.

Die idee van die kompilasie het gekom toe Herman vir Hunter Kennedy en Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties ’n remix gespeel het wat hy van hulle liedjie “Hyg Duiwel” gemaak het, kort voor sy dood. Hierdie einste liedjie is die eerste snit op Vredefest Elektro.

Die ander kunstenaars op die album is Playdoe, Gazelle, Jack Parow, Haezer, Die Antwoord, Kidofdoom, Flash Republic, Jax Panik, Lark, Yesterday’s Pupil, Cut Out Collective, Johnny Neon, New Holland (deur AM Stereo ge-remix). Ek is veral opgewonde oor die indringende trefkrag van Haezer, die digitale vonke van Cut Out Collective, die gekunstelde smeltkroes van Yesterday’s Pupil en die sensoriese gezoem van Johnny Neon. En met “Die verlore seun” is Gazelle is in ’n kreatiewe liga van sy eie: “Sorry Pappa ek moes die plaas verlaat/ want ek mis die disko-ligte te veel.”

Elektro en rap lui tans ’n nuwe era vir Suid-Afrikaanse musiek in en die teenwoordigheid van genoeg goeie elektrokunstenaars om ’n sterk kompilasie soos Vredefest Elektro saam te stel, spreek van ’n gesonde verskeidenheid op die toneel. Verskeidenheid is natuurlik, soos in die natuur, nodig vir die voortbestaan van enige sisteem. Besoek www.vredefoundation.com vir meer inligting.