Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Poësie | Poetry

Laat ons soos ’n arend op Jesus se liefde sweef


Catharina Bouer - 2010-01-19

Ek het ’n lang pad geloop, soos elke ander mens wat
glo dat hy ’n Christen is. Ver op die horison het ’n helder
lig geskyn. Ek het geweet dat dit God is. Tog God was
soos ’n reënboog, so onbereikbaar en mooi.

Telkens het ek God se stem gehoor: "Gee jou lewe vir my.”
Ek kon dit nie verstaan nie, ek het mos reeds my lewe vir
Christus gegee, waarom dan tog die geroep. Ek doen mos goed
vir ander; ek gaan kerk toe. Wat is daar tog dan meer wat ek kan doen?

Ek het die versoek geïgnoreer, en voortgesukkel.Partymaal
het ek opgegee en ’n moeilike afdraaipaadjie geneem. Dit
was koel en rustig, maar daar was geen lig nie. Alles was
dood, maar ek het my blind gehou. Ek het God se stem weer
gehoor: "Gee jou hele lewe vir my!!" En is tot stilstand geskok:
"Waarheen is jy op pad, my kind?"

Ek het omgedraai en teruggehardloop verby al die ander wat
voortsukkel. Is dit so moeilik om U te dien?” het ek moedeloos
vir God gevra. Steeds liefdevol en geduldig vra God my: "Gee jou hele lewe vir my.”

Ek het op my knieë neergeval. “Heer, asseblief, neem my lewe, ek
kan nie meer nie." Skielik het ek die lewenslig bereik. Ek het op
Jesus  se liefde gesweef; soos op die vlerke van ’n arend.