Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Oogensiklopedie gee nie sommer sy geheime prys nie


Joan Hambidge - 2010-01-18

Titel: Oogensiklopedie
Digter: Gilbert Gibson
ISBN: 978 0 624 04831 2
Uitgewer: Tafelberg, 2009
Bladsye: 135

Klik hier en koop Oogensiklopedie nou van Kalahari.net!

 

I

Gilbert Gibson het vanaf sy debuut met Boomplaats (2005) die aandag getrek as ’n opwindende digter wat op ’n slim wyse met intertekste werk. Toe kom die tweede bundel, Kaplyn (2007) en hy maak van die intertekstuele spel iets verregaande en uitdagend. Hy verskaf vooraf woorde – nee, eintlik spore – waarmee die leser die bundel moet benader. Daar is selfs ’n woordelys agterin om vreemd-klinkende en mediese woorde te help verklaar in die leesaksie wat ’n kaplyn is. (En ’n kaplyn is ’n boomgesleepte skoon stuk grond tussen twee vegtende lande, spesifiek met die bedoeling om spore wat op die kaplyn kruis, op patrollie raak te sien.)

Die jongste bundel heet Oogensiklopedie. Ons vind weer ’n woordelys wat begrippe verduidelik. Griffin lei ons na Ondaatje, die seun van Michael (wat op die voorblad verkeerd gespel word).

Die verduidelikings/endnote help dus die leser om die gedig oop te maak en as’t ware vanuit die digter se bedoeling te lees. Ons het dus die inhoudsopgawe – op die voorblad soos by Loftus Marais se Staan in die algemeen nader aan vensters – en dan die gedigte met die verklarings (aangegee as “woorde”). Die oog as I /eye is alreeds ’n gelade simbool. ’n Mens dink hier (onder andere) aan Luis Bunuel en Salvador Dali se Un chien Andalou, waar die kyker sien hoe ’n oog deurgesny word. Hierdie surrealistiese kultusfilm is vir my ’n persoonlike kode by die lees van hierdie bundel waar die leser as’t ware van gedig na nawoord blaai, net soos in die film bekend om sy opheffing van ’n kontinue ervaring.

Gibson stel dus bepaalde eise aan die leser, omdat sy gedigte nie volgens konvensies werk nie. “another roadside attraction” aktiveer onder andere Tom Robbins se kultusroman uit 1971. Dit is ’n roman bekend om die nonliniêre progressie en in die gedig word die leser gekonfronteer met ’n bloedige einde: ’n gesin word uitgewis en “ingelyf” by ’n vervoerwa weens ’n kind wat ’n balletjie gooi. Die pa se aandag word afgetrek: hy het sy oë neergeslaan.

Al die geledinge rondom die oog word in hierdie bundel in ’n komplekse simboolstruktuur geaktiveer: sikloop, katarak, sien/kyk, sluiter, versluier, blik, wenkbroue, wimpers, oogknip, oogvog, pupil, sig, blind (onder andere is daar ’n gedig oor Borges).

Dit is ’n digterskap waarin daar dikwels oor die rol van die digkuns besin word:

Die woord met lug ’n droom besleg
wat die donker van winter
nes ’n voortdurende gedig
die beste vir later verberg.
(89, “sikloop”, ii)

Hierom dan ’n woord in die kantlyn wat die leser moet neem na ’n direkte verwysing of assosiasies oopmaak in die gemoed. Derrida se en marge kom dikwels hier ter sprake (skrywe) en die spel met tekens, nawoorde, die bewuswees van die woord se signifikasie, betrek Derrida se Of Grammatology. Tekens, woorde, betekenisse. En wat uiteindelik nie opgevang kan word nie. Die digter wat wag op ’n droom (“seiko seahorse”, 81, op ’n gedig, op “closure”/sluiting.

Die gedigte beweeg tussen hoogs emosionele verse en gedigte wat intellektueel in beheer is. ’n Gedig wat ’n mens altyd sal bybly is die vierde gedig uit “sikloop”:

’n man met ’n katarak aan die een kant
loop in die tuin              sy naam is samuel,

maar hy lyk soos simon die houthakker
sy vlaktepredikasie is oor leaves of grass

soos die toesegging van ’n plaasskool
lê sy voete die dubbele standaarde neer

sy oog loer omkors met sout
die wang ’n goedhartige

in die tuin is azaleas versigtig versprei
nes diasporas van afrikaners in ’n ander land

hy reis tot waar die beddings verval tot wit
die sterjasmyn tot waar die struike

tot niks verdwyn, en die faulkners nog woon
in die moeë middel van die mississippi:

op vrydae sit Samuel die swart
sakke uit.

 

II

“Ek onthou jou dus behendig/ gephotoshop teen die dood” (124) is van die ongelooflike beelde wat die digter gebruik. ’n Baie sterk motief in hierdie bundel is die talle verwysings na die religieuse. In die slotgedig, “wat die mens” (130), word daar duidelik ingespeel op die Bybelse gegewe, maar dit word hier verdraai na die moderne mens met al sy ellendes en angste. Dit is asof die digter in hierdie bundel besig is met ’n bestekopname van sy jeug en as’t ware sy lewensfilosofie van nou probeer bepaal teen dit waarmee hy groot geword het.

Die digter gebruik intertekste en gedigte soos “daguerreotipe” of “strabisme” (wat letterlik “skeelheid” beteken) aktiveer tekste wat agter tekste skuilhou. “Sewe dubbelsinnighede” betrek weer Willliam Empson se bekende studie oor die digkuns. Dalk ’n gevaarpunt vir die digterskap: die verduidelikings is dikwels onnodig, omdat ingeligte lesers tog weet wat dit bedui. Of wil die digter ons juis bewus maak van sy notas en die prosesse róndom die skryf van ’n gedig? Soos “kenosis” (letterlike leegmaking) uiteraard weer Harold Bloom se sieninge oor die digterskap (A map of misreading, 1975) aktiveer en sy sieninge oor die Kabbalisme in ’n gedig indra.

Vir Gibson behels dit die wegdoen of afstand doen van die eie ek by die skryf van ’n gedig – die “ek” wat skuilhou tussen dit wat gelees en gesien is. Die sleutels gee sy unieke aard weer: hoe eiesinnig hy ’n gedig skryf en konstrueer. Die leser word dus attent gemaak op hierdie proses waar die gedig dikwels hortend tot stilstand kom of reëls afgebreek word. Dikwels is daar ’n e e cummings-aanslag met doelbewuste dubbelsinnighede soos in “nuttig” (72), waar die boor-metafoor gebruik word en Coleridge in die digter se geheue geaktiveer word. Die internetgedig “://_ mezangelle” (64) illustreer dit by uitstek. Die taal van die hart (en hard) is so geheim(sinnig) soos superstringteorie.

Ander kere is die Auden-verwysing onnodig en amper ’n onderskatting van die leser se kennis, soos in “lafras cuyper kannonier” (57); ander kere help dit vir die ondersoek en uitpluis. Op ’n keer of wat is die spel uitgedink en eenmalig: “ideografie” (52) soos in Leon Strydom se LS – ’n heil-die-leser waarin die leser met voetnote en endnote help saamskryf.

Soms dink ’n mens slim vang sy baas (“inste erts”, 53) waar die gedig nie uit die verf kom nie en bloot by intellektuele stellings bly. Maar ’n hand vol verse is wel sterk en gryp ’n mens aan die hart, soos “defeat” (25).

Oogensiklopedie is nie ’n maklike bundel nie. Dit gee nie sommer sy geheime prys nie en die talle kruisverwysings maak van die bundel ’n besonder ryk tapisserie.

Dit is ’n besonderse digterskap hierdie en tereg bekroon met die Protea-prys.

  • Die resensie is oorspronklik op versoek van FineMusicRadio geskryf.