Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Besoek aan die distriksgeneesheer


Conrad Cockcroft - 2010-01-15

Dis vroeg in 1976. Per geleentheid om ’n braaivuur besluit ek en ’n goeie vriend dat hy die Lugmag en ek die Vloot vaarwel gaan toeroep. Redelik gatvol vir die kampe wat ons elke jaar ’n maand op ’n slag van ons families en werk af weghou, besluit ek en Johan Dippenaar om by die eertydse Suid-Afrikaanse Polisie aan te sluit as polisiereserviste. Hierdie stap beteken dat ons ons verbintenis met die Weermag opsê, aangesien reserviste Weermag-vrystelling ontvang. Nog ’n pluspunt is dat ons sommer net om die draai van die huis by Brixton se polisiestasie diens sal verrig.

Een aand nader die stasiebevelvoerder ons twee. “Het julle manne al julle mediese ondersoeke laat doen?”

“Nee Kaptein.”

“Wel, dan stel ek voor dat julle so gou as moontlik ’n afspraak maak by die distriksgeneesheer in die stad en julle ondersoeke agter die rug kry.”

“Goed Kaptein, ons maak so.”

Net die volgende dag skakel ek die distriksgeneesheer se kantoor, maar dit is blykbaar nie nodig vir afsprake nie, solank ons net nie oor die etensuur daar aankom nie.

Dis ’n tipiese staatsdiensgebou met lang, donker blokkiesvloer-gange en moerse hoë plafonne. Ai, dié geboue het ook hul eie unieke reuk gehad – lewend-dood!

Op die deur dui dit “Distriksgeneesheer” aan en ons weet dat ons in die regte gang beland het. Ons klop en wag ’n rukkie totdat die deur deur ’n baie aanvallige jong dame in ’n mini-verpleegsterspakkie beantwoord word. “Come in,” nooi sy ons ewe hartlik in.

Teen drie van die mure is daar lang houtbankies en dóér ver aan die oorkant is daar skrapse kantoorameublement, van die soort wat hulle in vervloë se dae in tronke vervaardig het om die inmates besig te hou en terselfdertyd ’n trade te leer. ’n Lessenaar op ’n fake Persiese mat, ’n boekrak met nie veel leesstof daarin nie, en ’n hout-kapstok rond die dekorprentjie af. Agter die lessenaar sit ’n vol man in ’n wit jas (waarom ’n wit jas, weet ek nie) besig om vorms in te vul.

Die skattie in die mini deel ons mee dat ons moet uittrek en net die Jockeys moet aanhou. Sy verkas nie en bly staan asof dit nou ’n goedkoop peep show is. Op ons ouderdom is ons nog maar effens skaam vir die skoner geslag en ons draai ons rûe op haar en strip maar stadig. Om die onvermydelike ’n wyle langer uit te rek, vou ons ook nog ons klere netjies en sorgvuldig op en pak dit op hopies toe ’n stem van agter ons bulder: “Who’s first?”

Johan reken dat omdat my van met ’n “C” begin en syne met ’n “D”, moet ek eerste vat wat ons kant toe kom.

Stadig skuifel ek, half naak en met my rug na die poppie gekeer, nader aan Brulpadda se lessenaar.

“Read the third row of the chart on the wall!”

Dônner, die kaart is daar dóér in die verte teen die muur geplak en die lig is ook maar swak, maar ek kom darem reg met die oogtoetse.

Nou word daar met my arm op die lessenaar bloeddruk en pols geneem. “Say aaahhh”, en die houtspatel word tot hier in my slukderm afgedruk. Al wat uitkom, is meer van ’n “uurrgghh” soos dit voel asof ek myself wil bekots.

So vorder ons deur elke individuele toets en word die resultate sorgvuldig op my vorms aangeteken.

Oor die dik halfraambril word ek skielik aangegluur: “Drop your underpants,” sê die dok en hang sy regterarm oor die punt van die houtlessenaar, hand na bo gerig. “Come closer, closer. Closer!” Naby genoeg vir hom om dit vir homself nou nie te ongemaklik te maak nie en ’n sustertjie wat die hele petalje gade slaan, slaan hy sy yskoue hand om my familiejuwele. “Cough … cough … cough!” Die bevinding word weer eens sorgvuldig aangeteken en ek wag half embarrassed vir verdere instruksies. Ek besef ook terdeë dat die oulike niggie in die mini nog steeds alles sorgvuldig dophou. Na wat soos ’n ewigheid gevoel het, bulder Brulpadda vir die soveelste keer. “Pull it up!” word my toegevoeg.

Ietwat verbaas loer ek oor my skouer om te sien waar die aanvallige vroulike assistent haar bevind. Dis seker maar deel van die ondersoek, alhoewel ek nie kan verstaan hoekom hulle nie só deeglik was met hul mediese ondersoeke in die Weermag nie. Ek kyk weer eens vir die distriksgeneesheer, wat druk besig is om vorms in te vul, en ek tel toe maar dit wat in my mik hang, aan die nek op. STD’s, vlooie, grootte, kleur? Dit maak nie sin nie!

Geïrriteerd kyk die ou man oor sy halfbril na my en deel my ontnugterend mee: “Your underpants!” Conrad, dink ek, jou poephol! En ek hoor hoe onderdruk die mooi meisie beswaarlik haar lag. Ek buk, gryp die Jockey en beur weer boontoe. Twee gedempte giggels klief deur die doodstil kantoor. Ek hoor ’n deur oopgaan en weer toeklap. Driftig swaai ek my om en maak ’n kraak na my enigste uitkoms en redding, my hopie klere.

Ek en die nurse vermy oogkontak, maar ek sien wel uit die hoek van my oog dat sy dit beswaarlik kan inhou. Ek, aan die anderkant, wou net die hasepad kies. Weg, vér weg uit die distriksgeneesheer se kantoor.

Dit het my jare geneem om oor die verleentheid te kom. Snaaks hoe embarrassed ’n mens kan raak in jou jonger jare, maar op my ouderdom vertel ek gewoonlik maar die storie om braaivleisvure vir dié wat bereid is om te luister. Ek gee ook nie meer om wat mense dink nie: ék weet wel dat ek my jonger jare geniet het!

 

<< Terug na Vintage@LitNet <<