Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Zombies kom met ’n whakka doef doef: Die Radio Kalahari Orkes in Heuningland


Leon-Ben Lamprecht - 2010-01-13

So die Radio Kalahari Orkes is terug.

Maar dit beteken nie vir ons almal ewe veel nie. Ek weet byvoorbeeld hulle het twee ander albums die lig laat sien: Stoomradio en Nagloper. Helaas het ek dit nooit geluister nie. Nie dat ek nie wou nie; dit het net so half nie gebeur nie. Jy weet, seker soos mens jouself beloof jy gaan ophou draf of begin rook. Ag, ek bedoel andersom – maar ek’s seker jy verstaan wat ek probeer sê.

Dus, met die uitsondering van “Kaptein” op Stoomradio wat ek op MK (destyds nog MK89) raakgeluister het, het ek redelik maagdelik die RKO se nuutste in my komper gesit.

Eerste indrukke, alvorens ek nog geluister het: Rian Malan skryf van die liedjies – vyf op sy eie en twee saam met Dan Roberts. Dis goed, dink ek (ek is ’n groot fan van Malan se “Alien Inboorling”). Hier is ook samewerkings met ’n paar ander kunstenaars: Valiant, Chris Chameleon, Manie Bodenstein, Jim Neversink en die skynbare it boy van hedendaagse musiek in Afrikaans, Jack Parow.

Dit als is egter mos net window-dressing, want die belangrikste vraag bly: Hoe klink dit?

Wel, liewe leser ...

Die album begin met die uitdieborsuitsaamsingsnit “Staan my by” met Chris Chameleon wat Malan, wel, bystaan. Dis ’n heerlike stukkie positive affirmation à la Right Said Fred se “Your my mate”.

As jy dus die dag voel soos ’n slaansak na jou baas jou by die werk bygekom het, gryp ’n glas wyn, jou beste tjommie/kollega, sit hom hard en sing kliphard saam met Malan se lekker soutie-aksent (en later Chameleon se trillende stem):

En jy besef terdeë
Jou laaste kans verdwyn
Want jou siel is moeg
En jou liggaam pyn
Dan kom ek vir jou haal
Dan kom ek vir jou sê
My vriend, o my vriend
Ons moet nooit gaan lê
...
Staan my by, my bra, staan my by, my bra.

Pragtig, is dit nie net nie?

Snit drie, “Blaas jou vuvuzela”, kondig homself aan met Jack Parow wat laat hoor: “Baby, voor ek jou oopmondsoen, sê my, kan jy braaibroodjies maak?” Dan volg braai as kwalik bedekte tema vir seks:

Baby swaai jou boud vanaand
Baby ek voel stout vanaand
Ek bring ’n harde hout vanaand
Baby ek wil ... braai.

Dis ook groot pret. Jack Parow oortref homself met sy reël, “Ek laat die steak lekker sizzle/ Baby, skink vir pappa nog ’n dubbel.” Dis so lekker ek luister hom sommer weer. En weer.

Die titelsnit vat jou na ’n utopiese bestemming genaamd, wel, Heuningland, waar “tollies sug van lekkerkry in die soet groen veld waar hulle in vrede wei”. Onthou dus, as dit swaar gaan (“die menigtes jaag heen en weer/ koninkryke val uitmekaar”), “Heuningland is altyd daar” – “maak jou oë toe, jy sal dit ook kan sien.” As jy mooi luister, hoor jy ook oom Manie se konsertina.

Die volgende vyf snitte behandel ’n paar interessante onderwerpe. “As die kar nog daar is” vertel van die realiteite van in Suid-Afrika by ’n bar gaan drink – jy kom dalk uit dan is jou kar gesteel (Frank Opperman sing saam).

In “Byleveld” word oor Mzansi se baasspeurder Piet Byleveld gesing. “Nou ja my naam skyn in die Beeld/ en hulle sê ek’s maar iedereen se held/ maar noem my maar net Piet Byleveld.”

“Son”, saam met Jim Neversink, besing die lof van daai wonderlike Suid-Afrikaanse poniekoerant Son:

Daai Son werp lig op nare onkruid
Jou politicians as varke uit
Verwyt filmsters oor stink attitude
Wys Joost se stripper heeltemal nude.

Christine Roberts verleen haar stem aan die spook in “Blink stêr”, ’n hartverskeurende ballade van ’n “straathoer” wat inkyk op die lewe van “Jingo mynbase en skatryk ou Jode” wat “in die Empire baljaar”.

Van hartseer na effens lighartig: in “Lobola” sit ’n (wit) man met 13 dogters en besluit om lobola vir hulle te vra:

Die bure sê sies, man, jy kannie so maak nie
Lobola’s vir Bantoes en jy’s glad nie swart nie
Maar ek’s ’n Afrikaan in ’n Afrikastaat
As jy ’n dogter wil hê gaan jy betaal, my maat.

Die album sluit af met die Mystic Boer wat saam sing op “Whakka Doef Doef” (hy sing ook vroeër op “Jolie Marie”). ’n Hoogtepunt van die album en ’n fitting einde, verklaar hulle “Haai-i-e mamma, die zombies kom/ met ’n whakka doef doef en ’n brom-brom-brom.”

Nouja, dis ’n lekker album en lekker om te luister. Gaan dit oor tien jaar as een van die grotes gereken word? Seker nie, maar hier is ’n paar befokte tjoens en dis beslis jou tyd werd.

Dis ook ’n rare album, een waarna ’n MK-tiener én sy pa om die braaivleisvuur kan luister en waarvan albei (ten minste gedeeltelik) behoort te hou. Gááf.