Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Hygliteratuur | Erotic literature > Gay > Fiksie | Fiction

Simfonie van die koeie


delcecio - 2010-01-11

Hierdie blad bevat erotiese literatuur. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.

 

Aanvanklik was dit net ’n gewone Saterdagmiddag. Pa is besig by die store om die laaste laatmiddag-werkies te doen, ek en Ma in die kombuis; dit is drukkend warm, irriterende vlieë word met afdrooglappe van die kos af gewaai. Ons praat oor weke, dae en goed wat nog gaan kom. Ek waardeer hierdie geselsies so uit my maag, as Ma praat oor die goed van Pa en ek afpak oor Potch. Die fan waai warm lug deurmekaar.

Gisteraand was daar genade. Die reën het in donker wolke oor die groen-geel veld aangewaai, donderblitse het die tempo van die nag aangekondig en die reuse-bloekoms het met hulle windverwaaide takke die reën nader verwelkom. Daar was soete afwagting in die lug. Buite op die grasperk het ons na-dag-doppe gedrink en oor die dag gepraat. Die lug was donderblou, dit het gletsgroen teen Ma se goedversorgde tuin afgesteek.

Alles was rustig. By die rooi skuifhek het pienk-blommetjie-grondbedekkers die kant van die tuin afgespit; meer regs, in die rigting van die klipwaterval, was kleurvolle petunias, en bo oor ons koppe het die beneste doringboom oor die aankomende reën gesing.

Later die aand het die woede van die storm sy trane oor die aarde laat huil, sy vuis in die lig het wit strale in die hemel gegooi, en ons het soos bang straatkinders in die huis geskuil.

Die hitte is terug en dit was Ma wat vroegdag voorgestel het dat ons resepte uitprobeer. Voormiddag was die naderende hitte ’n belofte van ’n swaar dag wat wag.

Die honde se geblaf laat my en Ma tegelykertyd opkyk. My hart ruk: voor die rooi-roes-hek is Albert se kar. Ek onthou nie dat hy hierheen sou kom nie en ’n oproep sou help om my verbasing te verbloem. My gesig word amper dadelik glimlag. Ma stel voor dat ek hom by die hek ontmoet. Ek kyk nie wat ek aan het nie; Albert ken my goed genoeg, nog beter sonder klere. Ek is verbaas. Ek is nog verlief. Hy's in ’n ander verhouding. Hy's die skelm van die dag.

“Potch maak my mal,” sê hy voordat hy nog by die kar uitgeklim het.

“Hier gaan altyd iets aan,” sê-smeek ek vir hom terug.

Hy klim uit, sy blonde hare in verskillende rigtings; sy sonbril verskans nog sy naderende intensies.

“Sal jou ma-hulle nie omgee as ek sommer net hier aankom nie?”

“Jy weet mos hoe is dit met hulle: as jy later net saam met Pa ’n dop drink, verskoon hulle jou van alles.”

Sy skouers in ons omhelsing is sterk, sy vingers dringend.

Op pad voordeur toe volg hy sy plaasritueel. Hy maak ’n opmerking oor Ma se mooi tuin, noem die verskillende blommetjies op hulle regte name en verseker my hoe hy die rustigheid van ons plaas waardeer.

Ma groet altyd bly as hy kom kuier. Sy loop haastig RSG toe en maak die musiek stil. Sy vra of hy iets wil drink, hoor hoe dit met Dina gaan, verneem na Penny, sit die ketel aan, sit die ketel af. Gooi ’n dop.

Pa kom in, altyd ’n verskoning vir sy vuil hande, die honde by die deur en die spoed van die kar.

Na die ontmoetings en hiert-jou van al die nuus op die dorp, beweeg ons koelte toe. My kop smee planne om hom hier te hou. “Kom ons gaan loop ’n ent.” Albert stem in.

Baie dinge het intussen gebeur. Ons loop af spruit toe, gesels oor mis en verlang. Die hitte brand deur my hemp. Albert trek syne eerste uit, en uit die hoek van my oog kan ek nie sy gespierde bolyf los nie, ek kyk vinnige steel-opwegings in sy rigting. In een sekond raak die haartjies rondom sy tepels weer myne, ek sien die dun lynhaartjies rondom sy naeltjie en verbeel die ander wat nog wegkruip in sy broek.

Ek trek my hemp uit; ek weet hy kyk, droom oor oggende in sy koue bed as hy met sy vingers oor my harige bors speel, ons warm lywe nog onder ’n kombers, ons oggendsoene nog diep van die slaap.

“Waarheen gaan ons?” vra hy onnodig.

“Vir ’n modderbad,” beantwoord ek sy vermoede.

Die vlei is nog modderig van gister se reën; ons voete loop enkelhoogte in die klei, naaldekokers rinkink op die uitstaan-moerasplante, steekvlieë laat ons swets. Ek moet die modderritueel verduidelik.

Ek weet hoekom hy hier is. Ek trek my klere uit. Die vlei is goed beskut van enige iemand wat ons wou dophou. Hy doen dieselfde. Rondom die spruit staan ’n paar vetword-koeie; hulle hou ons dop en kou-deurdink die storie wat voor hulle afspeel.

“Sal hier nie iemand verbykom nie?” Klein bietjie paniek in Albert se stem.

Sy klere is klaar uit; hy vat aan homself om sy geslag groter te laat lyk. Hy stap nader om my te volg in die modderige klei. Ek smeer die klei oor my hele lyf; hy volg.

“Nou lê jy in die son en bak, later was ons dit af in die water.” Ek gaan lê op die wal, kyk na Albert wat stadig van kleur verander, sy gespierde rug wat bukkend modderklei aan sy bene smeer, sy mooi gesig net so gelaat.

Hy kom lê langs my. Skielik word die omliggende veld ’n simfoniekonsert, die ligte wind waai klavierduette in my oor van opwinding wat hard en sag in my lyf filtreer. Veraf klanke word die strykers wat hulle note soos hardhandige spelers op die maat ’n tjellis in ons omhelsing dwing. My asem snak ’n Wes-Transvaalse hitte as die trompetgeskal teen my rug afvryf en jou ligte oë soos tromme oor my lippe speel. Jou lyflike eenvoud verbaas my nog ’n keer as ek met ’n hartlike applous ’n staande ovasie verwag.

Ek staan in die spruit met die water net onder my boude; ons was die res van die kleimodder af; daar is glimlagte op ons gesigte; ons lag vir koeie wat verward nog rondstaan. Toe ek afkyk, is daar bloed aan my vingers.

*

Jy lei my in die donker in, daar slaan stof in ons neuse op, verby Pa se kunsmishope, verby die trok met die beestralies op, tot heel agter in die skemer stoor. Jou hande is rats en jags, jy soen my vol op die mond, nek, lyf. Die haastigheid in jou broek word vinnig uitgehaal en natgespoeg, jou lyf op auto-pilot. Jou oë kyk verby myne, jy laat lê my oor die voorste trekkerwiel en dryf jou lus met harde stote en asemteue in my lyf in. Ek ril van ekstase.

*

Ons was die laaste klei in die dam naby ons huis af, die hitte dreigend om ’n verbode geheim te verklap. Jy kom nader en ek dryf-swem met my leë lyf teen joune, my liggaam wil nie sy kans verbeur nie, joune soos altyd reg om ’n kans te vat. Die koue water is orals, jy sukkel om jou in my in te kry, druk my teen die randsteengeboude damwal vas, jy beur jouself in. "Die begin is mos maar altyd seer," fluister jy in my oor.