Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Die hemp


Hannes Steyn - 2010-01-08

“Jissie ou Gerrit, dankie man. Ek is seker hulle sal dit waardeer,” gesels Barend terwyl hy hurkend ’n hoop ou klere en skoene in ’n swart rommelsak terugprop. “Ek sien dis als mansgoeters … maar hier is darem ’n T-shirt en ’n trui wat vir Rindie … tannie Marinda … behoort te pas.” Hy steun en versit hom effens, want sy vyftig-plus-knieë pyn met paaiemente. “Moet sê, dit lyk nie eintlik na jou styl nie. Waar kom dit vandaan? Van die kerk of … wat?” Hy weet eintlik, maar kan dit nie oor sy hart kry om dit te sê nie.

Gerrit skommel sy karsleutel ongemaklik rond en sy oë verdof as hy saggies mompel. “My … dit was my pa s’n.” Dan meer haastig: “Ek hoop die tekkies sal Oom se broer pas. Ek sal moet gaan. Moet nog vir Gertjie by die na-skool gaan optel. Hulle raak nogal kwaai as ons laat kom.”

Barend kom steunend orent terwyl hy soek vir vasvat. Gerrit tree outomaties na vore. Hulle hande sluit en met die opkom, voor hy hom kan keer, trek die ou man sy kollega nader in ’n gerusstellende drukkie. “Net so … sjarmant soos daai pa van jou … gewees,” fluister hy en tree lomp agteruit.

Dis te veel vir die jongman. Sonder ’n woord swaai hy om, spring in sy motor en ry die hek uit met sy oë vasgenael op die truspieël.

Lank nadat hy die hek toegemaak het, staan Barend Potgieter die pad en afstaar. Arme seun, dink hy terwyl hy ’n denkbeeldige roesplekkie van die hekpaal met sy nael probeer afkrap; om jou pa darem onder sulke omstandighede te moes verloor. So ongelooflik onregverdig. Voor ’n kaperkoeël; hy van alle mense! Honderde kilo's van sy huis af. Wat op aarde het hy tog in Pietermaritzburg, van alle plekke, gaan soek?

Hy skud sy kop en sien uit die hoek van sy oog hoe sy buurvrou met mening aangeskuifel kom. Hy meet die afstand voordeur toe en besef gekrenk dat hy die wedloop gaan verloor. “Môre, Monica,” groet hy beleefd en mik in die rigting van die sak.

“Wag … wat vir ’n haastigheid is dit met jou so vroegaand? Die rubbish-trok kom mos eers Donderdag,” babbel sy terwyl sy teen die steenmuur staan kry. “Vir wat het daai Viljoen-seun so haastig hier weggetrek? Het julle ’n uitval gehad? Was dit oor die myn? Het julle oor sy … van sy pa gepraat?” Sy leun ekstra ver oor die muur toe sy merk hoe sy blik haar cleavage vang.

Barend loer skuldig in die rigting van haar motorhuis en merk dat Steve nog nie tuis is nie. Hy dwing homself om oogkontak te hou. “Nee, niks verkeerd nie; hy het net ou klere vir my … arm … vir my behoeftige broer in Blyvoor gebring,” verduidelik hy en mik om die sak op te tel.

“Ou klere? Vir jou ar … jou broer? Ek het nie eens geweet jy het ’n broer daar nie. Elize het nooit van hom gepraat nie. Is hy ook op die myn?” Sy wikkel haar arms in ’n vouposisie tussen haar lyf en die muur in en haar borste het geen ander keuse as om verder uit te peul nie.

“Nie geweet nie?” vra hy bytend. “Jy speel seker, Monica. Ek het gedog hier op Carletonville weet almal alles! Het jy vergeet van die stories toe … toe my vrou my ge- … toe sy getrek het?” Die woede vlam in hom op en hy begin half bewe. “Dit maak my nog steeds die moe- … die duiwel in.”

“Wag, wag Barend, moenie opgewerk raak nie, asseblief, ek het niks daarmee te doen gehad nie,” skerm sy veels te vinnig om hom te oortuig. Sy het haarself reeds telkemale gekwalifiseer as nuusdraer nommer een van die kontrei.

“Wat ook al,” probeer hy die geselskap kortknip. “Die son trek water en ek wil nog die gras natlei … netnou as dit bietjie koeler is.” Hy loer betekenisvol in die rigting van haar kamervenster en sy kug erkentlik. Hy is geruime tyd al bewus van haar voorliefde om saans agter die kantgordyn te verklee. En die feit dat sy weet dat hy weet pla haar oënskynlik glad nie. “Sê groete vir Steve,” probeer hy hom verontskuldig en loop vinnig huis toe.

Die sweterige bedompigheid wat hom met die intrapslag tref, laat hom vir Elize in sy binneste verwens. Sy oë dwaal deur die sitkamer en gang. Alles is so bleek en onpersoonlik, so … so … vrouloos!

Hy lig die sak moeiteloos op die kombuistafel, mik vir die yskas, maar besluit daarteen en trek eerder ’n stoel nader.

Kosmaak, veral die gesonder tipe, raak al hoe minder ’n prioriteit, erken hy bitter toe hy voel hoe sy maag weerstand teen die tafel se rand bied. Sedert sy vrou hom ’n jaar of wat gelede net so gelos het, het hy mettertyd al hoe minder in sy eie gesondheid en sosiale lewe belang gestel.

Hy knoop die sak oop en begin die inhoud stadig, amper met eerbied, uitpak.

George Viljoen was ’n goeie mens; jy kan maar sê "almal se pel", dink hy half weemoedig terwyl hy ’n paar nommer 10-tekkies weeg en ruik. As die dorp se mees suksesvolle versekeringsmakelaar kon dit dan mos nooit anders nie, of hoe? Selfs hy wat Barend is, se voorstoep was redelik uitgetrap, lank nadat transaksies beklink was. Hy was fris, donker en aantreklik en het sy merk in die gemeenskap gemaak. Altyd vriendelik en behulpsaam, altyd joviaal. Selfs na sy vrou se skielike dood destyds was hy altyd positief en het vir Gerhard eiehandig grootgemaak. "Sonder ’n enkele vyand en kyk wat het met hom gebeur," fluister Barend hardop terwyl hy ’n wit langbroek oopvou en teen die skemerlig bekyk. Sy gedagtes dwaal na die half snedige, dog goedige opmerkings wat die ouens soms kwytgeraak het wanneer daar van die Sanlam-man gepraat word. Hy weifel ’n oomblik terwyl hy wonder watter "moffie-opmerking" sy konserwatiewe broer oor dié broek sou maak en plaas dit dan op die hopie.

Terwyl hy die kledingstukke een vir een ondersoek, besef hy dat dit reeds donker raak en dat hy die Monica-vertoning vanaand sal moet misloop.

Dan ryg hy die enigste trui uit die bondel en terwyl sy vingers versigtig oor die duursame wol streel, flits sy gedagtes na Elize. Hulle het aanvanklik ’n goeie huwelik gehad, ongeag die groot ouderdomsverskil. Sy was wel redelik bitter toe hulle uitvind dat dit kinderloos gaan wees, maar aanvaarding het mettertyd ingetree. Soos die tyd aangestap het, het dinge egter begin uitrafel. Die laaste jaar of wat voor sy geloop het, was die ergste. Daar was geen bakleiery nie, geen verwyte nie. Niks. Net stilstuipe. Hulle het niks meer oorgehad wat hulle met mekaar kon deel nie. Sy het glad nie in die mynopset belang gestel nie en hy het geweet dat sy grensloos geïrriteerd raak as die onderwerp opkom. Sy was nog steeds die effektiewe huisvrou. Daar was daagliks smaaklike toebroodjies in sy kosblik en ’n bord kos het saans op hom gewag. Sy klere was altyd gewillig agter hom opgetel, gewas en gestryk.

Maar dis waar dit gestop het, herinner hy homself en stoot die stoel agteruit. Hy vroetel in die kas vir die halwe pakkie Lemon Creams, haal ’n bier uit die yskas en loop stadig terug tafel toe. Hy kliek die bier oop en versit die hopie klere om plek te maak vir die volgende sarsie. Hy merk dat sy vingernaels vuil en onversorgd teen die wit langbroek uitkryt. Die kontras is so intens dat hy half duiselig in die stoel neerplons. Hy sit vir ’n oomblik na sy hande en staar voor hy opspring. Hy ignoreer die stoel wat kletterend agter hom omval en haas hom na die opwasbak. Daar spuit hy sy hande vol skottelgoedseep, skuur sy hande skoon met die skottelgoedborsel en loop ingedagte terug.

Sy oog vang ’n bont hemp en toe hy dit nadertrek, merk hy die kort moue. Hy is onmiddellik geïnteresseerd, aangesien George Viljoen gekenmerk was, selfs by die myn se klub, aan sy voorkeur vir netjiese langmouhemde. Hy stryk die halfgekreukelde hemp versigtig oop en hou van die gevoel onder sy vingers. “Hierdie een gaan ek vir my hou,” roep hy hardop uit; “ek is seker Gerhard sal nie omgee as ek dit werk toe dra nie.”

Dan voel hy iets hards in die hempsak en steek sy vingers daarin. Dis ’n koevertjie met ’n Durban-stempel op die seël. Vir ’n oomblik weifel hy. Arme George is mos in Natal gekaap? Die konnotasie laat hom onmiddellik afsien van sy voorneme en hy smyt die hemp op die hoop. Hy frommel die koevert en mik om dit te gooi in die rigting van die plastieksak in die hoek wat as asblik dien. Maar dan merk hy die enkelblaadjie wat half uitsteek. Die handskrif lyk bekend. Te bekend. Met bewende hande stryk hy die kreukels uit, sit sy leesbril op en lees:

My skat
Ek mis jou verskriklik.
Kom na my toe.
Barend sal verstaan.
Ons is lankal al nie
meer lief vir mekaar nie.
E