Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Artikels | Articles

Top tien flieks vir 2006


Suzette Kotzé-Myburgh - 2007-01-09

  1. Junebug
  2. Capote
  3. Keeping Mum
  4. Spring, Summer, Fall, Winter . . . and Spring
  5. Water
  6. Brokeback Mountain
  7. The devil wears Prada
  8. March of the penguins
  9. A Prairie home-companion
  10. A good woman
 
Om dit sagkens te stel: 2006 was nou nie ’n wafferse fliekjaar nie. Net die eerste twee films op my lys kan ek werklik as swaargewigte beskryf; die res was kykenswaardig, maar nie só dat hulle ’n ernstige leemte in jou geesteslewe sou laat as jy hulle sou misloop nie. Dus, met ’n effense gebrek aan entoesiasme:
 
  1. Junebug. Die gehalte van hierdie klein, onafhanklike film vergoed darem in ’n groot mate vir die res van die jaar se aanbod. Junebug is in alle opsigte uitsonderlik, só uitsonderlik dat dit moeilik is om ’n beskrywing of kategorisering daaraan te heg. Dis ’n fliek wat ek baie lank sal onthou.

  2. Capote. Soos 2005 het 2006 ook ’n goeie biofilm opgelewer, oor die komplekse, selfgesentreerde Amerikaanse skrywer Truman Capote. Philip Seymour Hoffman se spel is ’n kragtoer.

  3. Keeping Mum. Waarom hierdie skitterende swart komedie net ’n kort draaitjie by die Labia gemaak het en heeltemal oor die hoof gesien is deur die hoofstroomverspreiders, gaan my verstand te bowe. Maggie Smith, Kristin Scott Thomas, Rowan Atkinson en Patrick Swayze lewer sprankelende samespel in ’n fliek wat die Britte se reputasie as humormeesters bevestig. Hoog aan te beveel – kry dit by die videowinkel.

  4. Spring, summer, fall, winter . . . and spring. Hierdie langsame lewensverhaal – eintlik lewensiklus – van ’n Boeddhistiese monnik lewer van die mooiste en onthoubaarste fliektonele van die jaar. Nie uitstaande in alle opsigte nie, maar die goedgeïntegreerde, ryk simboliek vergoed vir die swak plekke.

  5. Water. Die laaste aflewering in regisseur Deepa Mehta se trilogie, voorafgegaan deur Fire en Earth. Indië se eeue oue godsdienstige tradisies (wat te dikwels in die Weste as net goed en wonderlik beskou word) word skerp bevraagteken, in hierdie geval die skreiende misbruik van weduwees.

  6. Brokeback Mountain. Ná al die oproer het ek ietwat meer verwag van hierdie film, maar Heath Ledger en Jake Gyllenhaal se vertolking van twee cowboys wat nie vry voel om hul liefde vir mekaar uit te leef nie, is aangrypend.

  7. The devil wears Prada. Die eerste keer dat ’n sogenaamde chick flick my toplys haal, grootliks te danke aan die twee hoofspelers, Meryl Streep en Anne Hathaway. ’n Fassinerende studie in een van die invloedrykste bedrywe van ons tyd, wat heelwat stof tot nadenke gee oor die heersende selebriteitskultuur.

  8. March of the penguins. 2006 het ’n paar kykbare dokumentêre opgelewer, onder meer ook Grizzly Man en Heaven’s Herds (Conversations on a Sunday Afternoon is nog op my moet-daarby-uitkom-lys, so ook An Inconvenient Truth). Hierdie fliek oor die lewensloop van die keiserpikkewyne is ’n indrukwekkende stuk werk, hoewel ek die kommentaar in twee stemme bietjie soetlik gevind het.

  9. A Prairie home-companion. Nie een van Robert Altman se bestes nie, maar in sy sterfjaar is ’n huldiging van dié groot regisseur paslik. Dit stem ’n mens weemoedig om te dink dat jy nie weer in ’n fliekteater sal sit en grinnik vir een van daardie tipiese Altman-aweregshede nie.

  10. A good woman. Daar is ’n besliste plek in ’n mens se lewe vir ’n Vrydagaand-ontspanningsfliek, en hierdie een vul dit perfek. Oscar Wilde se pittige dialoog is ’n plesier, Scarlett Johansson is so bekoorlik soos altyd, en Helen Hunt wys weer eens waarom daar ’n goue Oscar-beeldjie in haar huis staan.