Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Die betekenis van begrafnisse


Jason Lloyd - 2010-01-06

Ek sou graag oor Julius Malema se skokkende uitlating dat prof Jonathan Jansen “een van ons” – bedoelende swart – is, wou skryf. Daarmee het Malema klaarblyklik gesê dat dit in die haak was om die Reitz-vier te “vergewe” omdat Jansen “een van ons” is. Indien Jansen wit was, sou hy miskien ’n rassis gewees het. Ek kan ook praat oor die aaklige klug by Eskom, maar dit liefs daar gelaat.

Die afgelope naweek het ek my by ’n begrafnis bevind. Daar was familie en kennisse wat ek lanklaas gesien het. Ek het nog altyd begrafnisse verafsku, maar hoe gemaak as dit ’n vriend(in) of familielid is? Jy gaan met die hoop dat dit sal verbyflits. So betoon jy jou laaste respek met die gedagte dat die meeste begrafnisse oordrewe leuens oor die dooie verkondig. Net die goeie, niks slegs nie. Maar ek wil ook nie daaroor skryf nie.

Begrafnisse is vir my wel ’n aardige denkbeeld tot die bevordering van familiebande. Begrafnisse het met die aanvang van die moderne era in ’n soort familie-reünie ontaard. Mense reis oor die lengte en breedte van lande, selfs die wêreld, om van ’n geliefde afskeid te neem. So bring die dood familie bymekaar. Die dooie betaal dus duur om sy familie te herenig. Aan die ander kant, niemand van ons is dié “bitter beker” kwytgeskeld nie. Ons bly aangeheg tot die prys wat ons moet betaal. Net die dood self kan ons van dié lyding red, maar nie voor ons self deur die “poorte” van die dood is nie. 

Miskien sou dit veilig wees om te sê dat die wêreldorde ná die Koue Oorlog nie meer so gepolariseerd is nie. Die wêreld het ook baie kleiner geword vanweë die globalisering van die wêreldekonomie en die kommunikasie- en tegnologiese revolusies.

Ironies genoeg het bogenoemde veranderings ’n nuwe wêreld met gulde geleenthede vir toegang tot kennis en inligting daargestel en terselfdertyd mense uitmekaar gedryf. Die politici noem dit “unintended consequences”. Mense raak toenemend op hulself aangewese en familiebande vervaag. Gevolglik het begrafnisse ontaard in familiebyeenkomste, ’n nuwe kunsmatige verskynsel wat deur die dood geadministreer word en nie spontaan voorkom nie.

Daarom het ek aan ’n neef voorgestel dat ons dié vakansie ‘ietsie’ moet braai om verlore tyd in te haal. My oom sal hom vroeg in Januarie 2010 by ’n kerkkonferensie in my (aangenome) tuiste, King William’s Town, bevind. Hoewel ek dan nog met verlof is, gaan ons saamkuier.

Nou is my dagboek besaai met familiekuiertjies. Maar ek gaan nie politiek praat nie – altans nie oor Malema, Jansen of Jacob Maroga nie.