Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Die Jan Rabie en Marjorie Wallace-beurs


Jason Lloyd - 2009-12-18

Ek vermoed 'n tipe houding (reg of verkeerd?) by die gevestigde en bejaarde skrywer André P Brink (75) dat hy nie – soos sommige mense versoek het – die Jan Rabie en Marjorie Wallace-beurs gaan teruggee nie omdat hy waarskynlik iewers in sy agterkop dink die beurs is eintlik maar wit geld wat deur twee wit kunstenaars agtergelaat is.

Jare gelede het die filosoof en digter Adam Small so 'n houding in 'n ander konteks as 'n “wit houding” beskryf.

Dié beurs – ter waarde van R350 000 – wat gefinansier word uit die twee kunstenaars se boedels, word geadministreer deur die Departement Afrikaans-Nederlands van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). Rabie en Wallace het hulle veral bemoei met bruin Afrikaans en daarom is dit net reg dat die toekenning van dié beurs se voorwaardes gelees moet word binne die konteks van veral Rabie se taalpolitieke nalatenskap.

So is daar, toe die beurs bekend gemaak is, algemeen aanvaar dat veral jong, ongepubliseerde, opkomende Afrikaanse skrywers wat die geld broodnodig het, wat “Afrikaanse skryfkuns van 'n nie-akademiese aard” beoefen, die prys sou kry. Belangriker nog, die beurs moet die wenner (soos die reglement dit uitspel) “vry van die bekommernisse om 'n inkomste te genereer” laat.

Die verbasing en teleurstelling, veral by bruin kunstenaars, joernaliste, digters, skrywers en ander openbare figure, was groot toe Brink – wat vir meer as 50 jaar 'n gevestigde skrywer en vermoedelik finansieel baie sterk is – dié beurs ontvang het.

Die adjunkredakteur van Die Burger, Zelda Jongbloed, het die reaksie van ontevredenes so boeiend in haar rubriek opgesom dat daar niks meer oor dié skandalige toekenning gesê hoef te word nie. Gevolglik het sy 'n beroep op Brink gedoen om die beurs aan die beurskomitee terug te gee. Iets wat na alle waarskynlik nie gaan gebeur nie.

Jongbloed se vreeslose joernalistiek is ’n effens rare verskynsel in die Afrikaanse joernalistiek, veral omdat baie Afrikaanses Brink as 'n “god” en 'n heilige koei beskou. Die Afrikaanse joernalistiek is hoeka besaai met huigelary, politieke korrektheid en intellektuele oneerlikheid. Met haar "kaalkop-die-waarheid-vertel” rubriek het Zongbloed die Afrikaanse joernalistieke en literêre wêreld se kop onderstebo gedraai omdat sy veral opgestaan en baklei het vir die oorspronklike sprekers van Afrikaans, iets wat selde gebeur omdat baie van ons te bang is om as bruin nasionaliste gebrandmerk te word.

In haar rubriek het Jongbloed egter nie die aandeel van die bruin hoof van die Departement Afrikaans-Nederlands aan die UWK in bogenoemde polemiek bespreek of aangespreek nie. Miskien is dit veilig om te vra of prof Steward van Wyk se aandeel simptomaties is van die sentiment dat bruines hul eie grootste vyand is. Dat bruines se marginaliteit 'n direkte oorsaak is van hulle onderlinge verdeeldheid. Dat hulle opportunisties is en mekaar gereeld in die rug steek. Juis daarom word bruines nie gesien as outonome mense nie. Dat sommige bruin intelligentsia “leen-deelnemers” is aan die vrugte van ander groepe se arbeid en kwansuis niks vir hulself kan of wil doen nie. Daar word gesê dat dit grootliks gebeur ten koste van "gewone" bruines – in hierdie geval 'n jong opkomende skrywer met 'n gebrek aan geld. Dat bruines altyd by ander groepe leen; dit sny regdeur die taal, beskawing en die ekonomiese status van ander.

Die historikus dr Cornelius Thomas het twee jaar gelede by 'n gedenklesing vir die ontslape bruin anti-apartheidsaktivis George Botha in die Baai gesê: "A people without a body of literature generated by themselves is historically of no consequence." 

Eenvoudig gestel: Wat doen bruines om die swart Afrikaanse literatuur los van die reeds gevestigde Afrikaner-literatuur binne die breë Afrikaanse letterkunde te ontwikkel en te vestig? Tot watter mate dra UWK by om Kaaps – wat, soos Small dit in die voorwoord van Kitaar My Kruis gestel het, “’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die wat dit praat, dra: hulle volle lewe met alles wat daarin is” – te ontwikkel? Tot watter mate is bruines – in besonder die bruin intelligentsia wat gekoöpteerde lede is van veral histories Afrikaner-instellings se direksies – bereid om hul hand diep in die sak te steek om sodoende swart/bruin Afrikaanse skryfwerk te bevorder? En tot watter mate is hulle betrokke by die uitbou van die politieke, kulturele en literêre leefwêreld van bruin Afrikaanses?

Gestel wit Afrikaanse skrywers stel bogenoemde vrae aan bruines. Die antwoorde sal 'n warboel van  'n klompie nee's wees. Ek vermoed daar sal baie min ja's wees, indien enige. So waar is die bruin geld om swart/bruin Afrikaanse skryfwerk te bevorder? En miskien sal dit seker erg polities inkorrek wees om te sê dat die Rabie-Wallace-beurs eintlik maar wit geld is wat bedoel is om bruin armoede aan te spreek.

Teen dié agtergrond vermoed ek dat 'n hele klompie wit Afrikaanse skrywers in hul binnekamers en om braaivleisvure wonder waarom die bruines hulle skel oor geld wat eintlik hulle s’n is? En reeds daarom het Brink en kie seker 'n houding ontwikkel, want ek vermoed hulle dink die beursgeld is hulle s’n. Kan bruines wittes blameer as hulle so redeneer? En kan bruines in dié verband ernstig opgeneem word? Dit is 'n ope vrae vir enigiemand om te beantwoord.

My punt is: Sommige bruines moet verdomp ophou om knorpotte en bedelaars te wees. Kom ons skep en bou ons eie kultuur en literatuur. Indien dit nie gebeur nie sal bruines altyd politieke, sosiale, ekonomiese en kulturele randfigure in hul eie geboorteland bly. Onthou, as jy vinger wys, wys drie vingers terug na jou toe.