Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > Artikels | Features

Annareth Bolton se tien top Stellenbosse wyntoerisme-ervarings van 2009


Annareth Bolton - 2009-12-17

 



Ná ’n besondere lang en koue winter is die meeste van ons slaggereed om ons plaaslike wynplase en restaurante te besoek vir lekker kos, wyn en goeie geselskap. Hier is ’n paar nuwe en interessante plekke in en om Stellenbosch.


 

1. Waterkloof-wynlandgoed se glansryke nuwe restaurant, ’n moderne dog onopgesmukte eetplek, met sy indrukwekkende ligging teen die hange van die Schapenberg aan die buitewyke van die Helderberg voer letterlik die kwaliteit en gewildheid van ’n wynland-eetervaring na nuwe hoogtes. Waterkloof se Boergondiese sjef, Grégory Czarnecki, is ’n kookwater-koskenner aangevuur deur ’n dekade se ondervinding in van die gesogste Michelin ster-restaurante in Frankryk. ’n Gesofistikeerde spyskaart van eerlike, klassieke fynproewergeregte met ’n moderne Franse aanslag word voorgesit met ’n asemrowende, onbelemmerde arendsblik oor die plaas.

 


2. Die Restaurant by Clos Malverne het in November oopgemaak en ek kan definitief ’n besoek aan die Pritchard-familie aanbeveel. Die kos is uitstekend en waarde vir geld met wyn wat per glas en teen kelderpryse verkoop word. Gaan kuier gerus vir die sjef Nadia Louw terwyl jy die pragtige uitsig oor die Devonvallei geniet. En bly sommer vir ’n bederfsessie by die nuwe spa bo die proelokaal. Hemels!

 


3. Die alombekende sjef George Jardine en plaaslike wynmakers Gary en Kathy Jordan het koppe bymekaar gesit om ’n wonderlike nuwe restaurant op Jordan-wynlandgoed te skep in die Stellenbosch Kloof. The Restaurant at Jordan sit langs die proelokaal in wat vroeër ’n tabakstoor was. Die dek kyk uit oor die dam en die vallei, en met ’n glasie Jordan raak die middag dalk langer as wat jy beplan het! 

 


4. Die Huis van JC le Roux het te vore gekom met ’n splinternuwe proesensasie – ’n vonkelwyn-en-sorbet proe. Hul Méthode Cap Classique word bedien met vrugtesorbet, wat veral aftrek kry op pragtige somerdae. Die proe van drie vonkelwyne met sorbets is R30 per persoon en word voorberei deur Seasons Restaurant op die perseel. Lekker!

 


5. Villiera-wynlandgoed het onlangs ’n wildbewaringsgebied van 175 hektaar met onder meer steenbokke, duikers, springbokke, rooihartebeeste, sebras, bontebokke, elande, grysbokkies, gemsbokke asook bosvarke, jakkalse, ystervarke en wildekatte geopen. Besoekers kan uitsien na ’n heerlike vonkelwynproe gevolg deur ’n twee uur-lange wildkykrit waartydens hulle ook ’n ryk voëllewe van fisante, bloukraanvoëls, tarentale, uile en die sowat 1 000 kwakereende wat vir plaagbeheer gebruik word, kan sien. Ek en my gesin het dit geweldig baie geniet – veral die wit springbokkies!

 


6. Vanaf 16 Desember het Warwick Wynlandgoed ’n splinternuwe wyntoerisme-ervaring: pieknieks in hul oorgedoende tuin. Die piekniekspyskaart is opgestel deur die bekende sjef Bruce Robertson. Kuier onder die bome op die patio of in een van die nuwe, luukse piekniekhoeke. Vir die meer avontuurlustiges is daar die Big Five Wine Safari, ’n begeleide toer deur die wingerd om die vyf bekendste kultivars te besigtig. Die toer eindig in die nuwe Warwick Penthouse met ’n lieflike uitsig oor die omliggende wynland. Al die aktiwiteite is kindervriendelik, wat beteken dat jy en manlief rustig kan kuier!

 


7. Die Mooiplaas Langtafel is ’n unieke ervaring, wat ek beslis kan aanbeveel. Die Roos-gesin dek ongeveer elke twee maande ’n lang tafel in hul familiewoning met heilsame kos, eerlike wyn en wonderlike, persoonlike aandag en geselskap. Jy mag dalk daar aankom as ’n gas, maar jy sal die plaas as ’n familievriend verlaat. Maak seker dat jy bespreek vir die volgende geleentheid!





8. Die Polkadraai-donkiewandeling is ’n groot gunsteling, veral ná ’n kuier by al die restaurante! Die roete is ongeveer 4 km lank en begin by Bein-kelder. Twee donkies, Glory en Poppy, dra die wyn, eetgoed en piekniekkomberse terwyl jy saam met die wynmaker deur die wingerd stap. Geniet die asemrowende uitsig oor Kaapstad, Kaappunt, Hangklip, Valsbaai en Stellenbosch.

 


9. Delaire-wynlandgoed het die laaste paar maande ’n gedaanteverwisseling ondergaan. Die nuwe eienaar Lawrence Graff is een van die grootste kunsversamelaars in die wêreld en heelwat van sy versamelstukke hang in die nuwe proelokaal, restaurant en kelder. Die uitsig van Delaire af het my nog altyd bekoor en nou is daar wenwyne en liplek-lekker geregte om dit aan te vul!



 


10. Omtrent almal hou mos graag die groot bederf tot laaste en so is Rust en Vrede Restaurant laaste maar beslis nie die minste nie. Dit is dié plek vir ’n spesiale aandete. Sjef David Higgs se kos en die perfekte wynaanbevelings deur sommelier Neil Grant sal jou asem wegslaan. Rust en Vrede is ’n trotse juweel in Stellenbosch se kroon en is onlangs aangewys as die wêreldwye wenner van die titel as Great Wine Capitals of the World se Wyntoerisme Restaurant vir 2009. Gun jouself die bederf!



Klik hier vir nog top tien-lyste.