Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Annie Klopper: Rockjagter

Die Rockjagter se top tien plaaslike musiekvideo’s van 2009


Annie Klopper - 2009-12-17



Enkele jare gelede sou dit byna onmoontlik wees om ’n top-tien lys van plaaslike musiekvideo’s saam te stel, bloot omdat daar so weinig opgeneem is. Origens het die kwaliteit van sodanige video’s destyds veel te wense gelaat. Die groei van die produksie van Suid-Afrikaanse musiekvideo’s latertyd loop byna direk parallel met die onstaan en ontwikkeling van onse eie musiekkanaal, MK. En dankie tog daarvoor.

Terwyl MK onlangs die nominasies in verskeie kategorieë vir die MK Awards 2010 aangekondig het, het ek my eie (ongekategoriseerde en subjektiewe) lys van die top-tien plaaslike musiekvideo’s vir die afgelope jaar saamgestel.

Klik op die uittreksels om na die video’s op YouTube te kyk.


#10 Die Heuwels Fantasties feat. Jack Parow – “Die vraagstuk”

Hierdie video het nog nie tyd op televisie gehad nie en het pas die internet getref. Ek moes hom egter inglip by nommer tien omdat dit nie slegs ’n epiese liedjie is nie, maar ook ’n video wat lekker is om na te kyk. Dit wys ’n paar mense wat hulle lywe "Parow" hou, onder meer aanhangers, vriende, Bok van Blerk, Neels van Jaarsveld en lede van die groepe Thieve en New Holland. Die regisseur is Jaco Snakehead Venter, beter bekend as Fokofpolisiekar en aKING se tromspeler.

Klik hier om na die musiekvideo te kyk

 


#9 Ashtray Electric – “Quite Overstared”

Het ’n mens regtig ’n groundbreaking konsep nodig vir ’n video? Ek dink Ashtray Electric se video vir “Quite Overstared” is geensins grensverskuiwend nie, maar bewys dat ’n eenvoudige konsep die toonaard van ’n liedjie kan vasvang en die vibe van ’n relatiewe nuwe groep aan gehore bekend kan stel. Ashtray Electric het hierdie jaar hul eerste vollengte-album, Bonjour, die lig laat sien.

Klik hier om na die musiekvideo te kyk

 


#8 New Holland – “Uhuru”

New Holland se liedjie “Uhuru” is ’n wilde jaagtog van klank. In die musiekvideo, deur regisseur Natasja Fourie, word hierdie jaagtog gekoppel met die rat race en die verskillende dinge wat mense jaag. “Uhuru” kom van dié groep se debuutalbum, 01. Intussen het die groep onlangs ’n tweede album getiteld Exploded Views vrygestel.

Klik hier om na die musiekvideo te kyk

 


#7 Foto Na Dans – “Natuurlik verlig”

“Natuurlik verlig” is die eerste enkelsnit vanaf Foto Na Dans se tweede vollengte-album, Pantomime op herwinbare klanke. Slegs die voorsanger, Le-Roi Nel, feature in die video. Op ’n makabere wyse beeld regisseur Lourens van Rensburg die vasgekeerdheid van ’n enkeling uit. Die video skakel met die tematiek van die lirieke: “Dis moeilik vir ’n kind van die platteland / om die stad se reëls te leer.”

Klik hier om na die musiekvideo te kyk

 


#6 Gazelle – “Die verlore seun”

Gazelle se “Limpop” bring iets heeltemal nuut na die plaaslike partytjie. Dis African Renaissance wat disko-pop ontmoet. Hierdie video is geskiet in Ohrigstad in Limpopo op die plaas waar Xander Ferreira (aka Gazelle) grootgeword het. Xander beskryf die video as volg: “A dedication of respect to the simple people that are the most beautiful and really make the world go round.”

Klik hier om na die musiekvideo te kyk

 


#5 Fokofpolisiekar – “Antibiotika”

Net toe ons dink Fokofpolisiekar het die toneel moontlik verlaat, verskyn hulle op die soutpanne anderkant Ceres met ’n brandende kruis agter hulle en ’n swart boks vol hande. Die tematiek van die video mag dalk ontbreek aan nuanse, maar dis pragtig geskiet. Regisseur: Sean Metelerkamp.

Klik hier om na die musiekvideo te kyk

 


#4 Yesterday’s Pupil – “Lines and Colours”

’n Kunstenaar soos Yesterday’s Pupil maak my weer opgewonde oor nuwe bewegings in Suid-Afrikaanse musiek. Die musiekvideo vir “Lines and Colours” wys dat dit nie nodig is om baie rond te beweeg om iemand se aandag te hou nie. Die liedjie het effens belaglike kritiek ontvang vanweë die reël: "The chemicals in my brain says I like you / like you like cocaine” en is van die album Errors of Enthusiasm. Die regisseur is Louis Minnaar.

Klik hier om na die musiekvideo te kyk

 


#3 aKING – “You and I”

Voorste Kaapse rockgroep aKING is al die pad Buenos Aires toe vir die skiet van die musiekvideo vir “You and I”, die tweede enkelspeler vanaf hul tweede vollengte-album, Against All Odds. Regisseur Eban Olivier het nie ’n videokamera gebruik nie, maar wel ’n Canon 5D digitale fotokamera se videofunksie. Alhoewel daar effense noise op die beeld is, is die gradering van die video uitstekend en skep dit ’n nostalgiese atmosfeer. Die video probeer nie te hard nie en daarom hou ek daarvan. Dis opgedra aan die televisie-aanbieder Herman Pretorius wat vroeër vanjaar aan kanker oorlede is.

Klik hier om na die musiekvideo te kyk

 


#2 Dear Reader – “Great White Bear”

Dit kan maklik gebeur dat ’n geanimeerde musiekvideo afbreuk doen aan die betrokke liedjie deurdat die animasie die stuurwiel neem en die liedjie op die agtergrond laat staan of vice versa. In die geval van Dear Reader se musiekvideo vir “Great White Bear” is dit egter geensins die geval nie, maar slaag die kombinasie van musiek en animasie op betowerende wyse. ’n Johannesburgse maatskappy genaamd Bugbox het hierdie treffende video geskep.

Klik hier om na die musiekvideo te kyk

 


#1 Die Heuwels Fantasties feat. Francois van Coke – “Sonrotse”

Ons het begin by Die Heuwels en eindig weer daar. Die vyfde musiekvideo vir die liedjie “Sonrotse" op Die Heuwels Fantasties se selfgetitelde debuutalbum is die wenner. Dis geskiet in Vilankulos, Mosambiek, deur regisseur 187. Buiten die drie lede van Die Heuwels Fantasties (Pierre Greeff, Hunter Kennedy en Johnny de Ridder), het Francois van Coke, Jack Parow en Laudo Liebenberg ook saamgegaan vir die partytjie. Dis eenvoudig en mooi.