Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Suzette Kotzé-Myburgh se top tien flieks van 2009


Suzette Kotzé-Myburgh - 2009-12-17



1. Doubt
2. Man on Wire
3. Vicky Cristina Barcelona
4. Slumdog Millionaire
5. I’ve Loved you so Long
6. The Visitor
7. Izulu lami
8. Coco avant Chanel
9. Whatever works
10. Departures


1. Doubt

Ek het nooit kon dink dat ’n fliek oor die Katolieke kerk wat in die sestigerjare afspeel my so sou beïndruk nie. Hierdie karaktergedrewe drama oor ’n priester wat daarvan verdink word dat hy met die seuns in sy gemeente lol, word gedra deur die uitstekende spel van Philip Seymour Hoffman en – veral – Meryl Streep. 



2. Man on Wire

Hoe arm sou die mensdom nie gewees het sonder mense soos die koordloper Philippe Petit, wat in 1974 wêreldberoemd geraak het toe hy 45 minute lank op ’n kabel tussen die Twin Towers – 400 meter bo die grond – geloop het nie? Nie net is die onderwerp van hierdie dokumentêr uitsonderlik nie, ook die manier waarop die verhaal vertel word, is uitmuntend.


3. Vicky Cristina Barcelona

’n Besonderse en verrassende ars poetica vir Woody Allen, die klein mannetjie wat neurose beroemd gemaak het. Hy gebruik die vraagstuk van verhoudings, liefde en seks as metafoor vir sy kuns en die skeppende proses.


4. Slumdog Millionaire

Hoewel dit ’n formulefliek is, is Slumdog ’n ryk en oorrompelende kykervaring. Jamal se antwoorde in die vasvrawedstryd neem die kyker saam deur die strate en krotte van Indië. Ja, dis kommersieel, maar kommersieel beteken nie noodwendig gemiddeld nie.


5. I’ve Loved You So Long

Een van die min werklike kunsfilms wat ons vanjaar in Suid-Afrika te sien gekry het. Kristin Scott Thomas oortuig volkome as Juliette, die vrou wat onbeskryflike ellende gely het, maar alles stoïsyns deurstaan deur haar emosies eenvoudig af te sluit.


6. The Visitor

’n Fyngestemde verhaal oor een van die groot vraagstukke van ons tyd: ontheemde mense uit die ontwikkelende wêreld wat ’n heenkome in die welvarende Weste (in hierdie geval New York) gaan soek. Richard Jenkins is uitstekend as die eensame akademikus wat betrokke raak by twee onwettige immigrante. Die slottoneel in die stasie is aangrypend.


7. Izulu Lami

My Suid-Afrikaanse fliek van die jaar. Die eenvoudige verhaal van twee kinders se oorlewingsreis kan in dieselfde asem genoem word as Majid Majidi se pragprent Children of Heaven.


8. Coco Avant Chanel

’n Sjarmante film oor die beroemde Franse modeontwerper Chanel subliem vertolk deur die beeldskone Audrey Tautou. Met haar sterk, onafhanklike styl en klem op eenvoud en elegansie het Coco Chanel daartoe bygedra dat vroue letterlik uit die keurslyf bevry is.


9. Whatever Works

Misogenisme was nog nooit so prettig nie. Soos die hoofkarakter sê: Hy is nie ’n ou van wie jy hou nie, maar so tussendeur raak die afgetrede fisikus wat amper die Nobelprys gewen het, vele waarhede kwyt. Dié film is een van Woody Allen se indulgences, maar dit het nogtans veel plesier verskaf.


10. Departures

Ek het meer verwag van vanjaar se Oscar-wenner vir beste buitelandse film – die einde is byvoorbeeld sentimenteel en formuleagtig, en die film word onnodig uitgerek. Tog het hierdie verhaal oor ’n afgedankte tjellis wat werk kry as ’n begrafnisondernemer besonderse oomblikke. Dit gee ook ’n interessante insig in die Japannese kultuur.



Klik hier vir nog top tien-lyste.