Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Kerneels Breytenbach se top tien albums van 2009


Kerneels Breytenbach - 2009-12-17



1. Norah Jones – The Fall

Jones slaan ’n nuwe rigting in met medewerkers en musici wat uit radikaal verskillende omgewings kom. Die tromslaner het byvoorbeeld voorheen vir Beck gewerk en die een kitaarspeler vir Tom Waits en Elvis Costello. Maar moenie bevrees wees nie, dis steeds daardie hemelse stem wat naaste aan die oor is. Beste aanknopingspunt: “Chasing Pirates”.


2. Manic Street Preachers – Journal for Plague Lovers

Die lirieke is veertien jaar gelede aan die groep gegee deur hul verdwene vriend Richey Edwards en as sodang het dit geweldige kuriositeitswaarde. Dis by tye somber, maar meestal vervleg met ’n uitstekende sin vir humor. Maar die musiek is tops, met James Dean Bradfield se kitaar wat jou ore skoonmaak. Baie skoon: “Jackie Collins Existential Question Time”.


3. Camera Obscura – My Maudlin Career

Daar is altyd plek vir goeie popmusiek, al word dit gemaak deur ’n groep met die etiket “Indie” om die nek. Tracyanne Campbell sing steeds op die ongoddelik mooiste manier oor hartseer, die vreugde van liefde, hartseer en hartseer. Mal oor spookasem klank. Luister gerus na “French Navy”.


4. Yeah Yeah Yeahs – It’s Blitz!

Wat ’n ommekeer! Dis asof die groep gaan kyk het hoe die New Romantics van die jare tagtig hul sintetiseerders gebruik het, ’n dik (eintlik duk) fuzzerige kitaar bygevoeg het, en toe probeer het om Blondie se disko-trippies na te maak. Dit klink alles paradokseel, maar sodra jy daaraan gewoond is en jy die faux-drama van die chanteuse Karen O gewoond is, kan jy nie genoeg hierna luister nie. My gunsteling-snit is “Heads Will Roll”.


5. Conor Oberst and the Mystic Valley Band – Outer South

Ek hoop nie Oberst het sy Bright Eyes-projek nou heeltemal laat vaar nie. Maar aan die ander kant kan mens ook sien dat hy gatvol raak vir die maklike aanslag van Bright Eyes se neulerige sienings en dat die lekker los aggressie van die Mystic Valley Band hom kans gee om smeerig te groove. Vergelyk “Slowly (oh so slowly)”.


6. U2 – No Line on the Horizon

Goed, U2 gaan nooit weer The Unforgettabe Fire nadoen nie. Of so avontuurlik wees soos met Pop nie. Maar hulle kan wel hulle se gatte in rat kry en ’n slag iets ordentliks maak. En dis dit. Hoogtepunt van die CD: “Moment of Surrender”.


7. Animal Collective – Merriweather Post Pavilion

Mens moet liewer nie probeer om te beskryf wat met die Animal Collective aan die gang is nie. Wat wel gesê kan word, is dat die dieregeluide van Sung Tongs amper vergete is. Hulle sing nou lirieke. Moeilik om te sê waaroor die lirieke handel, maar dis indrukwekkende klanke. Groot klanke, die melodieë van die hemelse sfere soos vertaal deur watter shrooms hulle dié dag geknibbel het. “Summertime Clothes” teen ’n ordentlike hoë volume sal dalk die psigedeliese sleutel bied.


8. Bob Dylan – Together Through Life

Die merkwaardige wederkoms van His Bobness duur voort. Dis asof hy die blues self uitgevind het en nou op sy oudag wil wys waaroor dit regtig gaan. Daarom dat die een liedjie wat nie werklik blues is nie so vars en verfrissend klink: “If you ever go to Houston”. En wanneer hy die blues-rock slaat, soos op “Jolene”, hoop jy hierdie wederkoms duur vir ewig.


9. Wilco – Wilco (The Album)

Jeff Tweedy sing hierdie hele album sonder baie hulp van sy klankingenieur. Dit is asof alle filters en aanpassings wat normaalweg gebruik word om sangstemme te verbeter en te maskeer, vergeet is ter wille van ’n direkte, gelaaide emosionaliteit. Die musiek is die beste sedert die groep se Yankee Hotel Foxtrot “I’ll fight” is die beste snit, maar luister ook gerus na Tweedy se duet met Feist, “You and I”.


10. The Slow and Steady Winner – A Great Lake That Smiles So Wide It Wraps Around And Tries To Return The Depth

Daar is oomblikke wat The Slow And Steady Winner mens baie herinner aan Tom Verlaine se groep Television waar die musikale dinamo gesetel was in die manier waarop die elektriese kitaar, baskitaar en tromme saam probeer om van binne die rock-genre musiek te maak wat nie soos rock klink nie. The Slow and Steady Winner gebruik dieselfde konfigurasie, maar maak ’n baie meer melodieuse soort musiek as Television, amper soos die High Lamas met net kitare. Geen sang nie, en liedjietitels wat nuwe dimensies verleen aan die begrip weird. YouTube het ongelukkig nog niks van hierdie album af nie, maar “Brightness like Brilliance” van hul vorige album is ’n gepaste inleiding.


 Klik hier vir nog top tien-lyste.