Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Katryn vertel


Marthinus van Loggerenberg - 2009-12-15

En toe kom ons goddank daar aan. ’n Ewigheid. Of so het dit gevoel. Bawalie Sun Game Reserve of so iets. Vier-ster nogals.

My natuurlik vrek geskaam vir Pa met sy tjoklitbruin PT-broekie en daai seningrige blou-wit bene. En sy uitgewaste "Ek was by Margate"-hempie.

Alles maar in die goeie gees, het ek gedink.

"Spufgat vark-aar bloubloed bliksems," stotter my af broer toe nog ’n grand Duitse kar ons van die pad afdruk. Die Langley brul maar so moronerig in ’n zef bol rook tot by die plek se hekke. Ma-moerske hekke, man.

Rouwer se speeksel trek sulke vieslike toue onder die warm kombers. Die Therons is min gespin met die "No Dogs Allowed" sign. Ek kak my toe. So stilletjies.

Pa sweet en lieg orie hond-se-dinges en Ma hou haar pose met haar Djekkie Kennedie-sonbrille en hairpiece met die vrot-ou spray-and-cook wil ek amper sê - blink so flou-djou in laatmiddag-son. Gedink dis kief. Of so het haar gigolo-broer, Stan the Stallion, altans gedink. Melkman se moer – daai lamsakkige broer van my se voorkop sit nie so hoog van koekies bak en rooibostee drink nie.

In any case – ons is in. Die Here weet.

My naam is Katryn Theron. Ons het daaise tyd jou wragtagwaar in die gopse gebly. Dis wat my oom Stan altyd gesê het. Pa het briewe van die huis af geplak en Ma was ’n stripper.

Ons het dié vakansie destyds gekry op ’n holiday points recruitment scheme wat antie Pollie, ons buurtannie, vir Pa deur ’n contact gewangle het. Dis nou nadat sy Pa uit ’n spul geld verneuk het met some sort of pyramid scheme. Dié was nou om sorrie te sê. Free weekend die lot - eintlik lat die contact hoop dat ons sal teken vir ’n spul punte of so na ons stay. Not a chance in hell. Ouma het hoeka ons petrolgeld daantoe en terug gesponsor - en ’n klomp ou margarinebakkies vol oorskiet frikkadelle, Kentucky-tamatiesouspakkies en hardgekookte eiers saamgestuur. Bless her soul.

Pa laat die AWB soos ’n trop pappols moffies lyk. Ek wou nie saam met hom gaan rugby kyk in die kroeg daai Vrydagaand nie. Hy maak my skaam as hy so skel. Maar soos altyd het hy het my gedwing. Guilt trip. Jissis, dit was horrible. En hy’t alweer laat lóóp. 

By ons cabana gekom het ons board games gespeel en na ons nuwe tape: Dans Jou Gat Af III, geluister. Pa het verloor en gevloek en die swartes weer al die skuld gegee. En ons het laat gaan slaap en Rouwer het geblaf. Great.

Die volgende oggend bak die son ons uit die bed en die plek lyk asof ’n trop takhare ’n bachelors in volle vieslikheid die plek deurkots het.

Toe’s daar ’n klop aan die deur. Dit was die huishulp van die plek. Later sê sy: "Ek bly lekker hie' tissen tie witmensa. Ma' wa' makit sak as ek kla orie hond? Tis hierie mensa ... tie mensa hier laangsaan wat ga' kla. Waat bring dit my innie sak om te gaat kla orie hond? Fôkol. Ons swart mense wek lekke' hier - tis net tie witmensa waat tie moeilikheit mak."

Gelukkig was Pa in die toilet.

Later kla Pa oor die klippies in sy plakkies en my broer sê Pa hét darem nog plakkies en Ma vra of hier ooit bokke in hierdie blerrie plek is en Rouwer slobber en wil blaf maar my broer klap gou sy tjank af. Pa sê g’n mens betaal R50 ’n dag vir ’n kennel nie. Die bure aan die annerkant was Badplaas toe vir die naweek. En antie Pollie het alweer met ’n migraine gelê.

En die voëltjies tjirp. Alles in die goeie gees, het ek gedink.

Nie lank nie toe begin Pa weer met sy dinge. En nogal met die game ranger, oor die R10 ’n putt-putt.

"Ek betaal R120 ’n aand vir die kinners se saamkom en julla mensa wil nog geld ook hê sodat my se kinders ’n bietjie hier hulleselwers kan besighou! En al wat jy verdomp in dié plek te sien kry is ’n paar dikgenaaide hoep-hoeps!" En daar moer Pa toe die man in die bek. Gesuip.

Ek het dagga gaan rook êrens op ’n klip.

Ons tos toe die middag af swembad toe en Pa het die "Sunchoice lemoene"-sonsambreel in die gras gekap en Ma het in haar leeutert-bikini (rekmerke of te not) gelê en kyk vir die mense en haar Mills & Boon gelees. En Pa braai wors dat die sop spat op die gasbraaiertjie. Al die ryk mense teug aan rock shandies en blink in die son. Net Pa braai. Spat orals en praat hard.

Ek het nie geweet waar om my kop in te druk nie - plas-spartel maar doeriekant in die mooi blou pool en vergaap my aan die perfekte mooi meisie wat die till slat daar by die supertubes.

En ek raak depressed en gaan dryf net kop onderstebo in die vlak kant en sien my hare voor my gesig onder die water. Pa freak toe uit. Dag ek versuip. En met bloedbelope oë bestorm hy daai water en duik my half besimpeld uit. Verskree my toe, wip hom en loop braai aan asof niks gebeur het nie. My oog vang net die einste game ranger wat Pa die oggend geklits het – skud net sy kop en loop aan.

Alles in die goeie gees ... se gat, het ek toe beginne dink!

Dis skemer. Rouwer wou pis en Pa en Ma bad en ek moes vir Rouwer vat en ons gaan stap en stap later by ’n bosveldpaadjie af.

Alles so rustig en stil. Ek hoor net Rouwer wat slobber en die gesuis van die wind en sien die wit blertse op die boomstamme en die blou, blou lug. En ek voel vry so ek wil sommer ’n game ranger word, jy weet, soos in: Aan u linkerkant wei rooibokke. Hulle paar in die lente en elke sewende een word doodgebore of so iets. Sulke stuff, jy weet. Ek sal net moet baie sonbrandolie aansmeer en soos daai girl by die supertubes lyk. So sal ek ook dan my droomman ontmoet, het ek gedink. Miskien die game ranger. Dit sal Pa lekker afpis.

Skielik hoor ons toe ’n roering in die gras, nè, en daar bevlieg Rouwer se oerinstinkte hom ...

Two ticks en ek bars by die cabana se deur in en skreeu: “O hel julle! Nou is ons solidly gefok!"

Ma en Pa het net half afgetrokke na my gekyk.

My papbroek-broer was besig om ’n eier op te vee wat hy laat val het.
"Wat?! Wat?!" vra hy bukkend.

"Rouwer het so ’n vertraagde baby-bokkie aangeval. Half verskeur. Ek het probeer keer ..."

Rouwer wals kop hangend in en die bloed drup plasse op die grond. My broer los die opveëry in sy hand. Ma hardloop toilet toe. Pa sê niks. Loop net kamer toe. Beginne pak. Nugter geskrik.

“Weet hulle al?” vra hy so tussen die pakkery deur.

“Nee.”

"Vannag drie-uur," sê Pa nadat hy Rouwer eers geklits het, "vannag drie-uur dan ry ons en sê net vir die guard ons antie lê siek op sterwe." 

Die een koplig van die Langley het gekalf. Lyk of mens so skuins in die stof ingesuig word. Duisende klippies spat teen die kar en die geskwiekery ontstig Rouwer. Niemand sê niks. Ma sit met haar curlers penregop, haar oë moeisaam groot oop. Sit en staar net, vra: "Wat gaan Pollie sê? Wat gaan Pollie sê?"

"Pollie se gat, man! Niemand gaan niks sê nie!" bulder Pa, stop en gooi vir Rouwer met ’n gesukkel oor die heining van een of ander plaasboer naby Brits en weg is ons.

Niemand sê niks. Ek dink Pa was bang. Ons was bang vir Pa.

"Ma kan daar in Durban gaan strip, man, en my briefplak-ding kan mens enige plek doen en jy kan gaat till slat, Katryn. Standerd ag is nou genoeg. Jy lê net op ons nekke."

En ’n dag of wat later swing die Langley af see toe. Laaste sien was net ’n purple-rinse ant Pollie wat skreeu met haar wippende sieggie innie bek: "Agtergeblewe bliksems! Hardloop maar weg! Die goewerment sal julle nog daar kom wegsleep!"

Hoe de hel het sy uitgevind? Seker my jagse broer – antie Pollie het hom van standerd sewe af lekker swiets gegee. Gil nog so die eendag vir hom van haar stoepie af: “As jy wil kom naai moet jy dit nou doen – ek wil nog gaan shop!”

Wel, my halfnaai-broer word toe ’n surfer en ek het toe al vyf jaar lank till geslat daar by die Discount Store en Pa het tongkanker gekry en ma se flab dwing haar toe om maar skottelgoed te was by die Pink Flamingo se kombuis. Oom Stan het ook onlangs afgetrek en daar begin werk. Kan jy nou meer. En Ma se hairpiece is weer in.

Sy sê dat die oorskiet shrimp haar soos ’n koningin laat voel. Sy bring elke aand vir ons ’n doggie-bag huis toe en vir Pa ’n pakkie sop wat hy deur sy nuwe dik plastiekstrooitjie kan suig. En ons speel elke aand Monopoly en luister ons nuwe mixed tapes en ek wonder soms wat van Rouwer geword het.

Ek zap daai till nog so dat die sweet my aftap (hulle sê toe al vir drie maande dat die verdomde aircon reggemaak sal word die volgende maand) toe daai girl van die supertubes van daai game lodge jou wragtagwaar voor my verskyn. Russiese rye-brood met pampoenpitte, blikkie tuna, pakkie pesto, pakkie pers olywe, van daai duur Italiaanse roomys (Fruits of Tuskanie of so iets) en ’n bos blomme. En ek vergaap my aan haar mooi wit vel en perfekte, perfekte mond en spierwit tande en dat die wit van haar oë so wit is. Sulke groen-grys oë. En sy het nie eens puisies of karbonkels nie.

En ek mompel net: "Blom".

En sy sê: "Ja, ek het vandag vir my blomme gekoop."

Haar stem klink soos ’n klokkie wat lui. Sy is so mooi, mens dink nie eens sy hoef te praat nie, of wat sy sê in elk geval so reg en perfek sal wees …

Ek het nog nooit eens eyeshadow aangesit nie. Oom Stan sê ek sal soos ’n drag queen lyk. En hier staan sy voor my. Ek kry so skaam. Ek is so hondlelik. Ek voel duiselig. Tilt net my kop af terwyl ek haar perfekte goedjies in ’n pakkie sit en toebek smaail en daar gaan sy ... en ek is toegetrek van angs. Finished. Ek het nie eens haar sakkie opgelui nie.

Wel, die dae het gekom en die dae het gegaan en ek en ou Frikkie, my boyfriend, vry toe al lekker en gaan drive-in toe op die dak van die Pelgrow-sentrum en alles. En daar pop hy die question sommer terwyl ons huis toe ry ná kerk een aand want hy was seker maar jags of op ’n high oor die mooi preek. Ek het ja gesê, maar daai girl bly in my kop, man. Daar moet iets beter wees as Frikkie en sy pitswere, Monopoly speel en oorskiet-shrimp eet. Sy gaan plekke. Mens kon sommer sien.

Ma wou  ’n ou Keur magazine uitknip-trourok vir my maak en Pa begin al mints in pienk netjies toevou.

En ek word weer so naar soos daai dag toe ek daai girl vir die eerste keer gesien het en ek hardloop uit na die agterjaart en gaan sit op ’n klip en rol ’n vette en besluit: I need a holiday. Kopskoonmaak, jy weet. Die troue kan wag. Was ampers nou die teenoorgestelde van ouers vra: ouers vertel.

Ma gee net ’n gil. Gaan kruip weer in die badkamer weg. Surprise. En Pa skryf net vir my op die agterkant van ’n koevert dat trou nie perdekoop is nie.

Frikkie was cool. Hy het selfs vir my blou eyeshadow gekoop. Hy het sy Scope magazines – seker hy sal homself kan besig hou terwyl ek weg is.

Ek ry toe Brits toe met die Vinkel & Koljander bus service om te gaat kyk wat van arme Rouwer geword het.

Daar aangekom loop ek tas in die hand die stofpad af en probeer onthou. Maar dis dem moeilik en dis warm en my oktes mop en ek sit al klaar met ’n lunchtime glow. Toe zirts ’n lykswa by my verby en ek waai vir die swart man agter die stuurwiel, want almal waai mos vir almal hier op Brits. Die oompie wat agter die lykswa aanry in sy bakkie dog ek waai vir hom en hy laai my sommer op.

"Wie's dood?" vra ek met die inklim. Gesien die man se ligte brand helder oordag. Ek’s mos nie stupid nie. Sien toe ook sommer die man is ietwat sad. "Iemand wat oom geken het?" vra ek weer, ’n bietjie sagter.

"Waarheen is jy op pad?"

"Ek het vir Rouwer kom soek, Oom. Ons het hom vyf jaar gelede hier ... ummm ... verloor en ek het hom hier kom soek."

Kyk my aan of hy enige oomblik gaan poep, maar lyk my hy probeer baie hard konsentreer om dit in te hou. "Watter soort hond was dit?" vra hy funnyrig na ’n lang oomblik van afwagting.

"’n Swart labrador, Oom."

"Het hy ’n rooi bandjie met silwer knoppies om sy nek aangehad?"

"Studs? Ja, Oom! Gots Gert! Weet Oom dan waar hy is?"

Ons was terug van die begrafnis af. Ek het so gehuil. Gelyk soos Ma die volgende oggend na ’n jol met die girls met die make-up (en neus) wat so loop.  Hoe moes ek nou weet dat ek ’n sakdoek gaan nodig hê hier op Brits? Ek loop was toe die groen snot van my snor af. Bid jou aan.

Ek en die oompie sit die sonsondergang en bekyk. Ek is lus vir dagga. En die oom val weg: "Engela is op die agtste dag gebore, jy weet, ’n hemelkindjie. Hier op die plaas was daar so baie vir haar om te doen. Maar sy het toe nou beginne grootword en moes skool toe, jy weet. Maar hoe? Ek sal haar net naweke sien, want die skooltjie vir spesiale kindertjies is maar ver. Toe ek haar die eerste keer na die skooltjie toe vat om die onderwyseres te gaan ontmoet, het sy besef, jy weet, dis anders ... dinge gaan van nou af anders wees. Sy het haar hartjie elke aand van toe af uitgehuil. Ek het probeer verduidelik. Maar dit het my hart net meer gebreek. Elke aand as ek by haar kamertjie verbystap en sy kners so op haar tande ... Kind, ai, sy was so braaf.

"Een aand hoor ons toe ’n getjank. Ek het uitgegaan met my geweer en op ’n swart labrador afgekom. Hy was vreeslik kwaai en wou my amper verskeur. Nog selfs bloed om die bek gehad. Hy agtervolg my toe en ek sien Engela se skaduwee op die stoep en skreeu: Engela! Bly weg! Hier is ’n gevaarlike hond! Ek het net my geweer oorgelaai net vir ingeval ...

"Gelukkig is ons twee toe die huis in sonder dat enigiets gebeur het. Ek het vir Engela verbied om buitekant toe te gaan. 'Ons sal môre iemand laat kom om na hom om te sien,' het ek vir haar gesê. Mens kan darem nie sommer so ’n mooi hond skiet nie. Ons het gaan slaap. Omtrent so twee-uur die oggend se kant het die wind erg opgekom en die takke op die dak het my wakker gemaak. Ek wou sien of Engela ook wakker is, maar sy was uit haar bed. Die hond! het ek gedink en verskrik na die stoep toe gehardloop. Daar aangekom sien ek net ’n sleepsel bloed en hardloop terug om my geweer te loop haal. Waar is Engela? Waar is Engela? het dit deur my kop bly maal."

Die ou man se grys oë kry ’n beklemming. Ou drama queen, dink ek.

"Ek was paniekbevange. Ek het om die huis gehardloop. Niks. Ek het my toe na die stoor gehaas in die sterk wind wat nou al reënerig begin raak het. En in die kerslig sien ek hoe ’n pienk tong my kleindogter se plomp armpie lek. Ek haal toe my geweer oor en stap nader om die ergste te verwag.

"Sy het soet onder sy bebloede poot wat aan daai blessetste draad gehaak het, aan die slaap geraak. Wel, die res was geskiedenis, soos hulle sê.

"Sy was onafskeidbaar van daardie hond, Katryn. Elke naweek wanneer sy huis toe gekom het, was dit vir hóm gewees – om hom te sien en sy liefde en aanvaarding in te drink. Hulle het saam geswem en na ’n gesoebat het ek toegelaat dat hy by haar in haar kamer slaap. Hy het ook nou die trooswerk gedoen. Hy was haar beskermengel. Sy het hom ook Gabriël gedoop. Sy het nie meer snags gelê en huil nie. Hy was haar buffer teen die werklikheid."

Hy sug.

"Maar Gabriël het ’n gat in die draad gekry en onder ’n kar daar anderkant die Hammans se plaas ingehol. Jammer, kind. Dit was nie lank toe, toe gaan Engela ook maar. Sy kon die pyn nie verwerk nie."

“Jammer ek het so getjank met haar begrafnis, Oom. Ek tjank maar so … by Di se funeral en toe Michael Jackson ook dood is, Oom weet?”

Hy het toe so sad geraak dat hy sommer opgestaan en binnentoe gegaan het. Ek het gou kamer toe gehol en my dagga uit my tas gegryp en dit op ’n rots agter sy plotdam gaan rook en kon nie vinnig genoeg vlieg nie. Ek het dankie gesê dat Rouwer ’n engelhond was. Hy, so gross as wat Rouwer was, het tog ’n verskil gemaak vir iemand.

En ekke? Ek is moeg van pap wees, man. Móég.

En toe kom niemand anders nie as daai game ranger wat Pa in die bek gemoer het oor die putt-putt geld by die oom aan! Ek hol na die hoenderhok se kant toe, want weet mos dat hy my sal herken.

Maar hy het darem nie. En toe vra ek hom sommer vir werk by die wildreservaat, want ek was nog op ’n high en het myself belowe die dag toe Rouwer hulle bok opgeëet het, dat ek ’n wild-iets gaan word. Mos.

Hy stribbel eers teë, maar ek gaan so aan dat hy nie anders kon om te dink dat ons daai kommin mense was wat so skande gemaak het vyf jaar gelede nie. Vra ook sommer so of ek al daar was. By die lodge. En ek sweer net hoog en laag nog nooit. En daar kry ek my kans – hy sê ja nou maar toe.

Till slat by die supertubes. Kan jy nou meer.

"Waar is daai girl wat altyd hier by die till gewerk het?" vra ek vir die game ranger dude ’n paar dae later.

"’n Giftige slang het haar gepik ... maar sy lewe nog genadiglik."

"Haai shame. Waar, Oom?"

Hy kyk my funny aan.

Ek het mos gespuit vanoggend.

Toe kliek ek – te erg vir hom om te sê. Jislaaik.

Ek slat nog so till eendag toe hierdie girl kop onderstebo in die vlak kant dryf. Gelukkig is daar nie mense in die water nie, want die wind waai skielik baie sterk en dit lyk na reën. Jissims, ek storm daai water soos ’n blouwillebees op heat, gryp haar sommer so half oor my linkerskouer en plak haar neer op die doeriekantse gras. Toe ek haar omdraai, sien ek dat die wit van haar oë darem baie wit is. Dis toe so wragtagwaar sy ... die girl, man! Maar haar wang lyk of ’n ruspe daarin weggelê het: geel en blou-wit met swart kraters en vars steekmerke. En al wat sy kon uitkry was: "Blom."

En ek sê: "Aag jong, my vel het uiteindelik beginne opdroog vandat ek op die Pil is."