Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

’n Gratis Afrikaanse universiteit – ’n vergesogte idee?


Christo van der Rheede - 2009-12-14

Om telkens ’n oproep van ’n huilende ouer te ontvang oor ’n kind wat graag ná matriek verder wil studeer, maar wat weens ’n tekort aan geld nooit by ’n tersiêre inrigting sal uitkom nie, is hartverskeurend om die minste te sê. Veel help die verwysings wat ’n mens probeer gee ook nie, want soveel andere kompeteer vir die beskikbare beurse en lenings.

Verder word die situasie vererger deur blatante diskriminasie teen Afrikaanssprekendes. Skrywes is in die verlede selfs aan die Menseregtekommissie gerig oor diskriminerende bepalings in die Funza Lushaka-beursskema vir voornemende studente wat hulself as onderwysers wil bekwaam. Volgens dié bepalings kwalifiseer slegs studente wat Afrikatale of Engels as vakke neem. Afrikaanse kinders wat Afrikaans as vak neem, kwalifiseer dus nie, want Afrikaans is kwansuis nie ’n Afrikataal nie. Die ergste van alles is dat, ná oproepe en ’n onderneming deur die Menseregtekommissie se kantoor in die Noord-Kaap om die saak te ondersoek, daar dadels van gekom het.

Geen wonder die laagste toetrede tot universiteit kom tans onder veral bruin Afrikaanssprekendes voor nie. Volgens die beskikbare gegewens maak die Afrikaanssprekende spraakgemeenskap in die Wes-Kaap sowat 54% van die totale bevolking uit, maar slegs sowat 5% kom by die plaaslike vier universiteite uit. So ’n situasie kan nie geduld word nie, want dit hou ernstige langtermyn sosiale, ekonomiese, kulturele en opvoedkundige implikasies in.

Alreeds vind ons ’n kultuur van uitsigloosheid by ’n groot gedeelte van die Afrikaanssprekende gemeenskap. Ry deur sekere buurte van Manenberg, Valhalla Park, Atlantis, en so meer, en die getal jong mans en dames wat soggens vroeg doelloos op die staathoeke ronddrentel, val jou dadelik op. Sommige loop heeldag skaamteloos met soolkouse en pajamas in die buurt rond en dit lyk asof ’n baba in die arms ’n soort status verleen. Andere sit oop en bloot met ’n kis bier en by sommige huise is daar ’n konstante toeloop van jongmense wat later bedwelmd te voorskyn te kom. Dis ’n tragiese gesig, wat nie langer geduld kan word nie, en ’n drastiese stap is nodig om die siklus van verval te stuit.

So ’n stap is die vestiging van ’n gratis universiteit in die Wes-Kaap vir almal wat nie geld het nie en wat nie finansiering kan bekom nie. Dalk te drasties sal sommige argumenteer, maar nadat die artikel oor ene Taddy Blecher wat nege jaar gelede ’n gratis universiteit in Johannesburg se middestad tot stand gebring het in Sake-Rapport van verlede Sondag verskyn het, is ek oortuig dit kan ’n werklikheid word.

Volgens die artikel het Blecher nie eens ’n gebou gehad om die studente te huisves nie, slegs 350 stoele op een verdieping van ’n gebou wat ’n weldoener aan hom beskikbaar gestel het. Vandag is sy instelling gevestig en spog hy met ’n belegging van R150 miljoen rand waarvan die rente benut word om die instelling te bedryf. Wat ’n fantastiese storie is dit nie? Ons as gefragmenteerde Afrikaanse gemeenskap kan geen groter Afrikaanse liefdesdaad toon as om so ’n inisiatief te ondersteun nie.

’n E-pos aan ’n paar bekendes, waarin die gedagte geopper is, het die volgende reaksies ontlont:

“Ek meen ’n Afrikaanse universiteit waar studente gratis kan studeer is die antwoord. Kom ons praat in alle erns oor die haalbaarheid van dié gedagte.” Neville Alexander

“Ek het eers gedink jy droom! Want dit is die soort droom wat ek lankal gehad het: om ’n Afrikaanse universiteit te steun en daadwerklik te help. Asseblief almal wat dit steun, sê gou so. Ek is bereid om verniet te werk (wat kry jy in elk geval as jy twee dae lank aan ’n resensie werk!). Ek kan kursusse uitwerk oor die Suid-Afrikaanse letterkunde, Afrikaans en Engels. Dis nie om Afrikaans of ander inheemse tale te red nie; dis om moedertaal-onderrig op tersiêre vlak te vestig. Dis nie sentimenteel nie: Dis om mense die reg te gee om die werklikheid te lees en hulle konstrukte te vorm in hulle eie tale.” Ampie Coetzee

“Asseblief, mense! Kom ons maak nou werk daarvan. Die wolf (of die jakkals en die hiëna) is letterlik aan die deur. Van my kant af is ek bereid om by te dra op enige moontlike manier – deur gratis klas te gee, te help met opstel van modules, te help met soek vir steun, en kontinentaal en internasionaal aansluiting te probeer bewerkstellig.” Breyten Breytenbach

“Ek steun die idee volledig. Dit gaan moeilik wees om akademici te kry om gratis curricula op te stel en so meer. Wat ’n mens sou kan doen, is om finansierders te kry en geld by die publiek in te samel, om die medewerkende akademici mee te vergoed en vir die admin en tegniese aspekte te betaal, maar dan inderdaad niks van die studente te vra nie – solank hulle die werkopdragte afhandel, deelneem aan die gesprekke en die toetse slaag, kan hulle aanhou studeer. ’n Bestaande universiteit, hier of oorsee, kan dan die grade toeken. Die ding moet uit die staanspoor nie winsgerig wees nie, maar ’n liefdadigheidsaksie. Ek sou verder voorstel dat dit nie net Afrikaans moet wees nie, maar viertalig: Afrikaans-Nederlands, Nguni, Sotho-Tswana en Venda/Tsonga. Geen Engels nie. Laat ons droom, en voor ons weet, word die droom waar.” Gerrit Brand

“Ek lees in Sondag se Sake-Rapport in ‘Gratis universiteit verlig armoede’ deur Lauren Thys van mnr Taddy Blecher in Johannesburg. Goeie gedagte!” Floris Brown

Baie meer positiewe boodskappe is ontvang as wat hierbo gelys is. Dus, voor ons ons oë uitvee, kán ’n gratis Afrikaanse universiteit dalk kort voor lank die lig sien – en huil ons nie meer saam met soveel verslae ouers nie, maar juig ons, want ’n geslag is uit verslaenheid gered!