Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Annie Klopper: Rockjagter

Wanneer ’n groot teddiebeer ’n liedjie oor die penis sing: Foto's


Annie Klopper - 2009-12-14

Die publikasie MK Bruce Lee het Saterdag 5 Desember sy vyfde uitgawe gevier by The Assembly in Kaapstad. Bekende voorsanger van Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel, Francois van Coke, was die redakteur van hierdie uitgawe. Die aand is ook as geleentheid gebruik om Van Coke Kartel se briljante musiekvideo vir die enkelsnit “Voor ons stof word” bekend te stel. “Voor ons stof word” is die eerste enkelsnit vanaf die groep se derde vollengte-album, Skop, skiet en donner wat in Maart 2010 uitgereik word.

Nie net het Francois sy verskyning op die verhoog gemaak as die headlining Van Coke Kartel se frontman nie, hy het ook, tesame met Peach van Pletzen (Yesterday’s Pupil), die eerste liedjies van die nuwe musiekprojek Oorlog Frankenstein gespeel. Vir hierdie unieke stel, het Francois die verhoog betree as ’n wollerige swart teddiebeer. Die kontroversiële liedjie, eenvoudig getiteld “Penis”, het sommige lede van die gehoor oopmond laat staan, terwyl ander gou die woorde begin saamskree het: “Penis, penis, penis is my lewe.” Laasgenoemde liedjie, sowel as Oorlog Frankenstein se ander eerste snitte, is geskryf vir die toneelstuk 2-21 wat vroeër vanjaar by KKNK en Aardklop op die planke gebring is.

Peach het ook deur die loop van die aand die gehoor gaande gehad met sy optrede as Yesterday’s Pupil en die gepaardgaande screening van sy mees onlangse musiekvideo vir die snit “Mechanisms of the Universe”. Terloops, Peach was betrokke by die opname van Skop, skiet en donner – ’n faktor wat heel waarskynlik sal lei tot nuwe wentelbane vir Van Coke Kartel se klank. Ongelukkig was die musiekvideo vir “Voor ons stof word” die enigste voorsmakie wat ons nog van dié nuwe klank kon kry. Van Coke Kartel sal eers met die uitreiking van die album die nuwe liedjies by hulle live set voeg.

Ná die verskyning van die lewensgrote teddiebeer, die ge-“penis” en die voorsmakie van Skop, skiet en donner, kon Kapenaars tot laat dans op die ritme van DJ Moe Joe (Kidofdoom) se siek mixes. En as jy wou, kon jy nadink oor hoe vreemd die wêreld lyk wanneer ’n groot teddiebeer ’n liedjie oor die penis sing.

Foto’s deur Annie Klopper