Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Artikels | Features

Die Pienk Dossier #9


Coenie Kukkuk - 2009-12-09

Die Pienk Dossier verskyn elke twee tot drie weke en word saamgestel deur Coenie Kukkuk, redakteur van Gayspeak.co.za. Ons poog om soveel as moontlik te berig in die kort spasie oor wat in die LGBTI (lesbiese, gay-, biseksuele, transseksuele en interseksuele) wêreld gebeur, hier in Suid-Afrika en elders. Bydraes is welkom en kan gestuur word aan coenie@gayspeak.co.za.

  1. Charl van den Berg was die beoordelaars se onverwagte keuse as Mnr Gay Suid-Afrika 2009 tydens ’n glansgeleentheid in die Staatsteater in Pretoria op 28 November wat deur meer as ’n duisend mense bygewoon is. Tweede was een van die gunstelinge, Jose Rodrigues, en derde Iggy Mnisi. Charl is van Kaapstad, Jose van Benoni en Iggy van Pretoria. Een van die gewildste finaliste, Chris Macgregor van Kaapstad, het twee subtitels ingepalm, die Look of Gaultier, asook die Bone Wear Model of the Year. Du Preez Strauss, ook bekend as pianis, was Mnr Persoonlikheid en is blykbaar loshande deur die ander finaliste verkies. (Sien al die wenners hier). Die beoordelaars het ingesluit Bruce Tallon van Nederland, CIO van Kempinksi Hotels, een van die Platinum Borge, Brian Merriman van Ierland, die Direkteur: Afrika van Mnr Gay Wêreld, Eric Equina van die Filippyne, asook Zak Mbhele, medevoorsitter van Joburg Pride, en Wilco van Eeden, wie se Club Travel die hoofpryse van ’n sewedae-vakansie vir twee na New York asook die kaartjie na Oslo vir Charl om aan Mnr. Gay Wêreld in Februarie in Oslo, Noorweë, deel te neem, geborg het. Brian en Bruce het beide te kenne gegee dat hulle nie ’n “gay cliché” as wenner wou gehad het nie, maar iemand wat as ambassadeur vir die gaygemeenskap kan optree, en met wie gay mans kan identifiseer. Charl se werk met Health4Men en MIV het hulle ook beïndruk. As ’n mens vyf dae op die plesiervaart saam met die manne deurgebring het, soos die twee hoofbeoordelaars  en ook drie ander gedoen het, leer jy hulle goed ken, en ’n werklik ingeligte besluit is geneem. Ons wens Charl alle sterkte toe vir sy deelname in Oslo en glo dat hy Suid-Afrika se naam hoog sal hou – en moontlik die wêreldkroon huis toe sal bring! (Ook geluk met sy verjaarsdag op 9 Desember!) Meer oor Charl en die aand kan op Queerlife gelees word, en ’n volledige onderhoud met Charl op News24 se GoTravel-afdeling is hier. Onderstaande foto is geneem deur Duy Vo Lap.


  2. ’n Boek wat nou wêreldwyd begin opslae maak, is Dirty White Boy deur Clayton Littlewood. Die pers-blurb lees as volg:

  3. What is the correct etiquette for visiting a brothel? How should you react when a transsexual wants to show you her surgery? Is it appropriate to speak to television personalities when they’re buying underwear? These are the questions that matter in London’s Soho where Clayton Littlewood and his partner Jorge Betancourt run designer clothing store, Dirty White Boy.

    From his window on one of the busiest street corners in the world, Clayton watches the daily parade of fashion queens, prostitutes, gangsters and celebrities that make up the population of this strangest of villages. His Soho diary is a snapshot of modern London caught between the ghosts of the past and the uncertainties of the future.

    The cast of characters range from Sue and Maggie, the girls from the brothel upstairs, to Angela the feisty tranny, to Pam the Fag Lady, begging for money and cuddles and Chico, the campest queen on Old Compton Street. Not to mention cameo appearances by Kathy Griffin, Janice Dickinson and Graham Norton. And amidst all this madness occurs one of the strangest and most touching love stories you will ever read.

    Lees meer oor hierdie besonderse boek hier en hier.



  4. Nataniël tree in die nuwe jaar weer op by Centurion Teater, vanaf 3 tot 6 Februarie. Die nuwe stuk se naam is Room for Dessert en besprekings moet by Lorinda gedoen word. Hul kantoor is reeds gesluit, maar ’n e-pos mag dalk net ’n plek vir jou in die nuwe jaar beteken, want hierdie kaartjies is baie gewild. Hulle sal na 13 Januarie reageer.


  5. Die Gayspeak/Lo-Cal Big Loser-kompetisie het drie wenners opgelewer: Anton Liebetrau, Jacques Nortje en Jaco Fourie. Die drie menere wen elk R6 000 se dieetkos, by hulle afgelewer, oor drie maande, in voorafopgemaakte reg-vir-die-mikro-geregte, asook gimnasiumhulp en ’n kopdokter se bystand. Hulle begin op 4 Januarie met die Big Loser-finaal en ons sal aan die einde van elke maand berig oor hoe hulle vorder. Die uiteindelike wenner steek ’n kontantprys in die sak, met ’n skraler figuur op die koop toe. Die “vooraf”-foto’s kan hier bekyk word.


  6. ’n Merkwaardige verhaal van ’n jong, lewenslustige 27-jarige jong dame het ons onlangs bereik. Haar naam is Rethie Schoeman, en sy is die niggie van gay-ikoon Elzabé Zietsman. Rethie het alreeds twee nieroorplantings gehad, een nier van haar moeder, maar het beide niere na ’n tydperk verloor as gevolg van komplikasies. Daar is nou  ’n kans om ingewikkelde behandeling in Amerika te ondergaan om weer ’n skenkernier te kan ontvang met beter resultate – en die skenker kan net een persoon wees, en dis Elzabé. Dit kos natuurlik ’n plaas se geld en Pienk Dossier doen ’n beroep op skenkers om fondse te bewillig. Elzabé het al in die jare toet in gayklubs opgetree soos The Dungeon, en nou onlangs weer in Legends en by die Pienk Jakaranda Musiekfees. Dis nou ons tyd om te help. Rethie se moeder, Retha Schoeman, kan hier gekontak word om die besonderhede vir skenkings in ’n prokureur se trustrekening te bekom. Elke bydrae sal hoog op prys gestel word.


  7. Die groot jaarlikse skewe makietie in die Kaap, MCQP, vind op 19 Desember by die Old Biscuit Mill plaas. Die tema is Toolbox Project en hier op die foto is een van die voorstelle vir ’n kostuum uitgebeeld. Meer inligting op die webwerf.


  8. Die borg van die T-hemde van Mnr Gay Suid-Afrika, Queerly Inappropriate, het hulle nuwe reeks ontwerpershemde bekend gestel. Hulle kos R180 stuk en is van duursame materiaal. Dit kan hier gesien en bestel word. In die foto verskyn Chris Macgregor op die verhoog tydens die finaal in een van hul skeppings.


  9. Daar verskyn ook binnekort ’n 2010-kalender van al die Mnr Gay Suid-Afrika-finaliste – voorbeelde is te sien in die nuwe Gay Pages, die 15de-jaar-herdenkingsuitgawe, vanaf bl 61. Dit is reeds op die rakke en die baie oulike Adam Schlosberg is op die voorblad van Gay Pages. Ons het hom onlangs ná die finaal ontmoet, en wat ’n aangename kêrel. Bestellings vir die kalender kan hierheen gestuur word en die koste is R150 plus posgeld – maar daar is ’n 33,3 persent-korting as jy voor Kersfees bestel.


  10. Daar is nog twee kanse volgende jaar om die gay-plesiervaart op die MSC Sinfonia mee te maak. Glo ons, dis baie pret! Die gaygroep hierdie keer was oor die 200 siele, en dit groei met rasse skrede met elke vaart. Leon Nel kan gekontak word vir meer inligting – daar is nou spesiale aanbiedinge waar jou metgestel vir halfprys kan reis. Die groepfoto van die November-plesiervaart is deur Paula Naude.


  11. Ten laaste wil ons vir al die Pienk Dossier-lesers, asook almal van en by LitNet, ’n wonderlike feesseisoen toewens! Hier is ’n geskenk vir die manne – dis Bone Wear se spesiale Kersuitgawe-onderklerereeks met motiewe van Swarovski-kristalle! Dit kan hier bestel word. Kom veilig terug!


Die Pienk Dossier verskyn elke twee tot drie weke. Die volgende uitgawe sal so middel-Januarie verskyn. Bydraes kan gestuur word aan coenie@gayspeak.co.za vir oorweging.