Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

“Dis orraait, dis ok, dit is fine met my”: Willim Welsyn se Maanplaas


Leon-Ben Lamprecht - 2009-12-08

Dit gebeur met ons almal. Ons raak ouer, groter, meer volwasse. In organiese terme groei ons.

Dis soos met wyn. As jong student het die uwe byvoorbeeld die aakligste soet rosé gedrink (dit het soms tot ’n net so aaklige hoofpyn gelei). Deesdae sit ek nie my lippe daaraan nie. Droog en rooi is die voorkeur.

Dit geld uiteraard ook vir musiek (case in point: ek het eens op ’n tyd ’n Spice Girls-CD besit – uit vrye wil). ’n Band soos Zinkplaat, byvoorbeeld, het merkwaardig gegroei in hulle klank oor die afgelope sewe of wat jaar – en mag ek byvoeg, in ’n befokte rigting.

Maar wag, terug by die onderwerp van dié skrywe: Willim Welsyn. Sien, die groeiproses raak almal, ook dié wilde rocker met die Hendrix-hare van Ladismith.

Sy eerste twee albums, Buikspraak en Kompos en Kraai, is Black-Label-in-jou-gesig-want-die-mense-dans-rof-rock-’n-roll saam met sy band, die Sunrise Toffies (met Gerhard Grobler op baskitaar en Etienne Sampioenplaas op tromme).

Sy jongste poging is, in elk geval in terme van die musiek, meer ingetoë. Op Maanplaas is hy sans die Toffies. Dis rustiger, hier en daar met ’n country twang en, kan jy glo, daar is selfs ’n wals op (en Moody Blues se “Nights in White Satin” se melodie word ’n Afrikaanse baadjie aangetrek).

Dis ’n interessante en persoonlike album, maar steeds met daai soms esoteriese en surrealistiese Welsyn-lirieke.

Temas wat aangeraak word, is die dood (“Miskien is dit jy”), wanaangepaste sosiale wesens wat net jou wyn drink en kos eet, maar nie met jou gesels nie (die eerste single, “Lyke om die tafel”), en natuurlik daai muse vir soveel muso’s: die liefde, ten minste in die breë (“’n Mondvol jy”, “Die Verlange” en “Dan slaap ons laat”).

“Die wolwe het belowe” skop die album af met rustiger kitare as wat jy met Welsyn gewoond is en bou op tot ’n lekker saamsing-nommer. Dit bevat terloops ook een van my gunsteling-liriekstukke deur Welsyn: "Drafstap en sonde/ katjies en honde/ broodsmeer gesonde/ maaltyd vir jou ma." Ek moet bieg, ek het geen idee wat dit beteken nie, nie eers in die groter song se konteks nie, maar ek is mal daaroor.

Op die tweede nommer, “Die verlede lees”, herinner die klank my sterk aan The Pixies, wat vreemd is, want ek het nie baie na die Pixies geluister nie.

Dis met “Miskien is dit jy” wat mens veral begin luister na wat Welsyn eintlik probeer sê: “jou hemel word groen en jou vrou begin huil/ want haar kraan word geslaan deur die dood se byl/ spoed word bloed en bloed word droog/ daar sit ’n kind met een minder voog”.

Dis egter nie net dood sonder (uiteindelike?) aanvaarding nie. Want: "Dis orraait, dis ok, dit is fine met my/ ekke verstaan, ons almal moet gaan/ na die volgende dorp, na die volgende plek/ miskien is dit ek, miskien is dit sy/ miskien is dit jy."

My gunsteling-snit is sonder twyfel “Die verlange”. Wanneer die elektriese kitaar inskop en Welsyn verklaar: "Die liefde is niks meer as die verlange", verstaan jy, voel jy, verlang jy.

Terwyl “Dan slaap ons laat” intens persoonlik is, laat dit jou nie buite die deur staan nie. Dis dalk eerder soos ’n fliek, met die tonele wat voor jou afspeel: "in my ma se Honda rondgery/ en by rooi robots gestaan en vry/ en na gulpe gegryp, verlief en gesuip." Of: "Later die aand mekaar eerbaar verslind/ daar was reën en wind en wind en reën/ en ek het soene geskenk vir jou binnebeen/ en jy het hardop gekreun, dat jy lief is vir my."

En teen dié tyd het die album deeglik sy kloue in jou.

Nou kyk, Willim Welsyn en die Sunrise Toffies se live shows is iets ontsaglik om te aanskou. Vreemde dinge kan en sal gewoonlik gebeur. Dis rof en woes en iemand gaan jou dalk met ’n sigaret brand en bourbon op ’n kitaar mors. Maar hoewel ek die Toffies saam met Welsyn op stage verkies, is dié die album van hom wat ek die meeste verkies. Dit het die beste songs op. It’s good, very good even, but not yet great.

Maar hier’s die ding: nes ’n goeie rooiwyn, vermoed ek, gaan Welsyn eenvoudig beter raak met tyd.